Die Eerste Vryheidsoorlog en die Anglo Boereoorlog Deel 1 van 4

Die Eerste Anglo Boere Oorlog Saamgestel uit 2 Klankbane

1880 – DIE EERSTE VRYHEIDSOORLOG breek uit tussen Transvaal en Brittanje a.g.v. die ANNEKSASIE van die Z.A.R. deur Brittanje. Shepstone en Carnavon wou die hele S.A. in ‘n federasie onder die Britse vlag verenig. Die Boere behaal by AMAJUBA ‘n groot oorwinning. PRESIDENT JAN BRAND van die  VRYSTAAT tree as bemiddelaar op en ‘n VREDESOOREENKOMS word onderteken.

DIE EERSTE VRYHEIDSOORLOG was nie ‘n vrugtelose stryd nie, en op 16 Desember 1881 kon die volk in hul duisendtalle na PAARDEKRAAL stroom om GELOFTEDAG te vier en God vir Sy leiding in die uur van nood te dank!

 

Die epiese stryd tussen Boer en Brit iets meer as ’n eeu gelede vorm die agtergrond van die geroemde musiekblyspel Ons vir Jou Suid-Afrika, geskryf deur Deon Opperman in samewerking met Sean Else, met musiek deur Johan Vorster. Vanweë die suksesvolle speelvakke van die stuk in die Staatsteater in Pretoria, is dit geleë dat ook jong Suid-Afrikaners breedvoerig vertel moet word van die uiters belangrike gebeurtenis in ons geskiedenis wat hom van 1899 tot 1902 afgespeel het. Sonder enige kennis van die Anglo-Boereoorlog kan die verhaal van ons land immers nooit ten volle verstaan word nie…
Die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902  

Deel 1:

Die oorsake en die eerste maande

 

Hier is die volle verhaal van hoe Suid-Afrikaners van alle groepe, wit en swart, in die epogmakende Anglo-Boereoorlog ingesleur is… met vertellings oor die besonge, en onbesonge, helde van die bloedige stryd…

 

  • Die eerste paar maande van die oorlog tot met die koms van die 1900’s word in hierdie deel behandel. En ons kry ’n vars blik op dié gebeurtenis wat so lank net as ’n “witsmansoorlog” beskou is. In werklikheid is wit en swart saam in die bloedige stryd ingesleep, met geweldige opofferings, lyding en ontberings vir Suid-Afrikaners van alle groepe…

 

Foto’s waarvan bronne nie aangedui word nie, kom uit diverse bronne waarvan
die kopiereg van die beeldmateriaal weens verjaring verval het

 

 

DIT was ’n tyd van goud en glorie. Dit was ook ’n tyd van bitterheid en nyd. Toe het dit uitgeloop op ’n bloedige stryd wat nie net die aangesig van Suid-Afrika onherroeplik sou verander nie, maar wyd en syd oor die aardbol belangrike reperkussies sou hê.

 

Die Anglo-Boereoorlog  (ook die Tweede Vryheidsoorlog genoem) is, soos alle oorloë, veroorsaak deur ’n botsing van onversoenbare ideale. Vandag, meer as ’n eeu later, kan ons met heeltemal ander perspektiewe daarop terugkyk.

 

In hierdie aflewering, die eerste in ’n reeks, word die oorsake en eerste paar maande van die oorlog behandel. In ander aflewerings sal die verdere geskiedenis vertel word. Maar daar word ook gekyk na wie die vegters was… en na die onbesonge helde van die oorlog.

 

Só het dit maar onlangs eers werklik bekend geword watter belangrike rolle ook swart mense in die oorlog gespeel het.

 

Die politieke en ekonomiese struwelinge wat tot die Anglo-Boereoorlog gelei het

 

DIT was die laaste helfte van die negentiende eeu en die Britse imperialisme was op sy hoogtepunt—ook die droom om Afrika te verower, om die Britse vlag letterlik van die Kaap tot Kaïro oor hierdie vasteland te laat wapper.

 

Die Kaapkolonie was natuurlik lank reeds Britse besit, ook Natal was Britse gebied, maar die groot vlieg in die salf vir die Britte was die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal). Met sy ryk goudvelde en strewe na volkome onafhanklikheid het die Z.A.R.—en die ander Boere-republiek, die Vrystaat—die Britse oppergesag in Suid-Afrika met hardnekkige teenstand uitgedaag.

 

BO: Vegtende Boere tydens die eerste groot militêre kragmeting tussen Boer en Brit (die sogenaamde Eerste Vryheidsoorlog van 1880-’81), soos hulle 1881 in die Illustrated London News uitgebeeld is. Hoewel dit ’n oorlog genoem word, was dit ’n beperkte kragmeting met sporadiese gevegte, wat slegs ’n week of tien geduur het. Die Boere, wat verwoed om hul onafhanklikheid geveg het, het geen leër gehad nie en die weerbare manne in die verskillende distrikte sou hulle bloot in kommando’s organiseer en hul eie offisiere kies. Elke man het sy eie geweer, gewoonlik ’n jaggeweer, en sy eie perde gebring. Brittanje het inskiklik geraak en ’n wapenstilstand beveel toe dit blyk dat die Britte die Boere nie sonder aansienlike militêre ingryping, en koste, sou kon oorrompel nie. Die ontdekking van goud in 1886 aan die Witwaters­rand sou Brittanje egter met hernieude groot belang­stelling na Transvaal laat kyk…

Ná die eerste groot kragmeting tussen Boer en Brit in die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), toe Brittanje moes bes gee omdat hy besef het dat hy die Boere nie sonder aansienlike militêre betrokkenheid sou kon oorwin nie, probeer Brittanje nietemin om die twee republieke sover moontlik met Britse gebied te omring. Hy wil hul verbinding na die see en die buitewêreld afsny om hulle só tot onderworpenheid te probeer dwing.

 

Transvaal word aan sy wesgrens ingesluit deur die anneksasie van die republieke Stellaland en Gosen in 1885, en aan sy suidoostelike grens deur die anneksasie van Zoeloeland en uiteindelik ook die hele kus tot aan die Mosambiekse grens. Net deur die Portugese hawe Delagoabaai het Transvaal se pres. Paul Kruger nog ’n poort na die see. In 1895 word ’n spoorlyn soontoe voltooi, wat die ekonomiese struwelinge in Suid-Afrika vererger.

 

Vir die Kaapkolonie se eerste minister en Suid-Afrikaanse voorvegter vir die Britse imperialisme, Cecil John Rhodes, lyk dit of sy wens dat die Britse vlag oor die ganse Suid-Afrika sal wapper ’n blote lugkasteel gaan bly. Hy gebruik dus aan die einde van 1895 die griewe van die Uitlanders in Transvaal om dr. Leander Starr Jameson uit Betsjoeanaland ’n inval in Transvaal te laat doen.

 

Die inval misluk egter heeltemal. Maar die Britse eise hou nie op nie. Hulle dring aan op die toekenning van burgerregte aan die Uitlanders, soos die vreemdelinge genoem is wat die Z.A.R. binnegestroom het ná die ontdekking van goud aan die Witwatersrand.

 

Dog pres. Kruger en uiteindelik ook pres. M.T. Steyn van die Vrystaat reken dat dit nie werklik om stemreg gaan nie, maar om die onafhanklikheid van die Boererepublieke.

 

Toe verdere eise in September 1899 gestel word, antwoord Kruger met ’n ultimatum. Dit verstryk op 11 Oktober 1899 en die oorlog breek uit.

 

Die begin van die oorlog en wie daarin geveg het

 

DIE krygswet word in Transvaal afgekondig en pres. Steyn roep in die Vrystaat sy burgers op om te veg. Die Vrystaters is daartoe verbind om die Transvalers te steun ingevolge ’n politieke verdrag wat hulle in 1897 gesluit het. Daarvolgens sou die twee Boererepublieke mekaar steun indien hul onafhanklikheid bedreig word.

 

Die kommando’s begin beweeg na die vyf gevegsfronte wat in die begin van die oorlog ontstaan: Noord-Natal, die Basoetolandse grens tot nagenoeg by Oranjerivierstasie, die Vrystaatse wesfront, met Kimberley as middelpunt, die Transvaalse wesfront, met Mafeking as middelpunt, en die Transvaalse noordfront.

 

Die Boeremagte word mettertyd ’n volksleër waarin seuns van net agt, nege jaar sy aan sy met hul pa’s veg en selfs met grysaards van oor die sewentig. In die hele oorlog veg sowat 52 000 Boere van tussen agttien en sestig jaar—30 000 uit Transvaal, 20 000 uit die Vrystaat en 2 000 Kaapse en Natalse rebelle.

 

In die begin van die oorlog is daar egter hoogstens 35 000 onder die wapen. Hierdie leër kom algaande teen ’n groot Britse oormag te staan, wat teen die einde van die oorlog altesame 448 725 man tel.

 

Maar weens eensydige beklemtonings in die geskiedskrywing is die aandeel van ander belangrike deelnemers (en slagoffers) van die oorlog tot betreklik onlangs nog so te sê vergeet. Só het dit ’n tyd gelede maar eers wyd bekend geword dat swart Suid- Afrikaners in groot menigtes by die stryd betrokke geraak het, al is die oorlog algemeen as ’n “witsmansoorlog” voorgestel en al het sowel die Boere as die Britte aanvanklik saamgestem dat dit nie van swart mense vereis sou word om die wapens op te neem nie.

 

Jan Christiaan Smuts, die Boere-generaal, het immers ook geskryf dat “die saak vir die beskawing in Suid-Afrika vereis dat swartes nie opgeroep of betrek sal word by rusies tussen blankes nie”.

 

Maar by nadere ondersoek blyk dit dat albei kante reeds van die begin van die oorlog af swaar op swartes gesteun het vir ondersteunende dienste. Swart mense het trouens ’n onmisbare rol in militêre operasies gespeel en geweldige verliese gely. Hulle het goedere vervoer, loopgrawe gemaak, na die perde omgesien, boodskappe gedra en versterkings opgerig.

 

Baie Boere-kommando’s is vergesel deur swart agterryers wat hulle te perd gevolg het. Dié was gewoonlik persoonlike bediendes wat hul werkgewers sou bystaan deur vir dié se perde te sorg, hul gewere skoon te maak en te laai en dies meer.

 

In die loop van die oorlog is nagenoeg 100 000 swart mense in verskeie hoedanighede deur die Britse magte aangestel, terwyl minstens 10 000 swart mense die Boere-krygers vergesel het. Swart verkenners het hulle byvoorbeeld onderskei in die versameling van inligting vir altwee die strydende magte.

 

Die eerste maande van die oorlog tot by
die begin van die 1900’s

 

DIE Boere-kommando’s, swak toegerus, kwalik slaggereed en met min krygservaring, knoop die stryd aan teen ’n goed toegeruste, gedugte en ervare oorlogsmag. Tog het die Boere ’n voorsprong deurdat hulle die klimaat en terrein van hul vaderland goed ken. Boonop is hulle knap ruiters wat ook ’n bars kan skiet.

 

 

Aanvanklik is die getalle van die strydende magte nagenoeg gelyk met sowat 27 000 Britse soldate wat rondom die Boere-republieke saamgetrek is, in afwagting van versterkings van oorsee. Meer as die helfte van die Britte is in Noord-Natal en die res yl versprei oor die Kaaplandse sleutel-spoorwegaansluitings — Stormberg, Noupoort, De Aar en Oranjerivierstasie.

 

By Mafeking en Kimberley wag Britse sametrekkings op ’n Boere-aanval. Met 16 560 man val Piet Joubert, die Transvaalse kommandant-generaal, Natal binne. Genl. Piet Cronjé ruk weer weswaarts op met sy hoofmag van 5 000 en die beleg van Mafeking begin.

 

Alles verloop egter sonder dringende haas. Dit lyk nie juis of die Boere-leiers reg besef dat hulle binne die eerste weke hard en genadeloos moet slaan om sukses te verseker nie, voordat die Britse versterkings en toerusting onophoudelik oor die see na Suid-Afrika begin stroom.

 

Die eerste suksesse van die Boere in Natal word by Dundee en Modderspruit behaal en die magte van sir George White, ’n vername en ervare Britse aanvoerder, word teruggedryf na Ladysmith, wat omsingel word. Skielik is vyf sesdes van alle Britse troepe in Natal deur die Boere vasgekeer.

 

Terselfdertyd begin die Boere-magte Kimberley insluit en word Cecil Rhodes self in die diamantstad vasgekeer. Die Boere-kommando’s aan die Oranjerivier word aangesê om die Kaapkolonie binne te val en in die eerste twee weke van November 1899 word verskeie Kaaplandse distrikte onder krygswet geplaas. Hier en elders is daar ’n wydverspreide rebellie van Kaapse burgers wat die Republikeinse magte steun.

 

Metdat die opperbevelhebber van die Britse magte, genl. sir Redvers Henry Buller, in Kaapstad aan wal stap, besluit hy dadelik om die gety in Natal te gaan probeer keer. Die Boere veg nou aan alle fronte op Britse gebied en sal dit byna vier maande lank nog doen. Tog het hulle reeds te lank getalm met ’n vinnige opmars om nog ’n goeie kans in die ongelyke stryd te hê.

 

Toe Buller in Natal aankom, is die Boere self op die terugtog om die Britte noord van die Tugela in te wag. Die beleg van Mafeking pen duisende burgers aan genl. Cronjé se wesfront vas, en die suidelike front is bloot ’n defensiewe maatreël deur die Boere-magte in die Kaapkolonie om Britse troepebewegings te stuit.

 

Genl. J.D.P. French verskyn by Noupoort om die Colesberg-front aan te pak, nadat die Boere Colesberg beset en Aliwal-Noord en Burgersdorp binnegery het op pad na Stormberg. Op 21 November begin genl. Paul Methuen met 9 000 man ook van die Oranjerivier langs die spoor na Kimberley opruk, en in Natal maak genl. Buller hom gereed om die Boerelinies aan weerskante van Colenso aan te durf.

 

 

Methuen raak drie keer slaags met die Boere. Die derde keer, nadat genl. Cronjé en genl. Koos de la Rey hulle by kmdt. Jacobus Prinsloo aangesluit het, word Methuen by die sameloop van die Modder- en Rietrivier deur die 3 000 Boere gefnuik. Maar ná hierdie afweerslag trek genl. Cronjé onnodig terug na Magersfontein, terwyl Methuen twaalf dae lank by Modderrivier rus.

 

Hierna, in die tweede week van Desember 1899, volg die “Swart Week” vir die Britse magte: hulle ly drie vinnig opeenvolgende nederlae aan die sentrale en westelike front en Tugela-front. Op 10 Desember ly genl.-maj. sir W.F. Gatacre swaar ongevalle by Stormberg ná ’n mislukte nag-opmars teen Vrystaters en rebelle onder genl. J.H. Olivier.

 

Twee dae later word Methuen se frontaanval teen die Boere-stellings by Magersfontein afgeslaan, waar 8 000 Boere onder genl. Cronjé en genl. De la Rey in loopgrawe voor die rantjies ingegrawe was sodat hulle laag oor die vlakte kon vuur.

 

Buller word op 15 Desember deur ’n steeds swaarder slag aan die Tugela getref. Ná die ontstellende nuus van Stormberg en Magersfontein besluit hy tot ’n frontaanval teen die stellings van genl. Louis Botha, wat die bevel van die siek genl. Joubert oorgeneem het. Buller moes deur die Boerelinies kom om Ladysmith te ontset, maar die byna ses uur lange aanslag van 23 000 Britte met 42 kanonne word bloedig afgeslaan, en die 5 000 Boere dwing Buller om met 1 000 ongevalle en die verlies van tien kanonne terug te trek.

 

Tog is dinge aan die verander, met besliste en verskerpte optrede deur die Britse weermagsleiers. Twee Britse divisies is reeds ter see en ’n derde byna gereed. In Januarie 1900 word Buller as opperbevelhebber vervang deur veldm. lord Frederick Sleigh Roberts, ’n beroemde Britse militêre strateeg. As stafhoof kry hy lord Horatio Herbert Kitchener, ’n militêre organiseerder van formaat.

Lord Roberts. Hy is deur die Britte “lord Roberts of Kabul and Kandahar” genoem, vanweë sy militêre suksesse in dié plekke in Afganistan. Die spitsvondige Boere het spottenderwys van hom gesê: “Hy is miskien lord Roberts van Kan-daar (Kandahar), maar hy is nie lord Roberts van Kan-hier nie!” En tog het sy koms na Suid-Afrika niks goeds vir die Boere voorspel nie.

 

Van die oomblik dat die twee Britse lords in Suid-Afrika voet aan wal sit, is dit duidelik dat daar ’n radikale verandering gaan wees in die manier waarop die oorlog gevoer word. Kort voor lank, byna in die begin van die 1900’s, begin die gety teen die Boere dramaties keer.

 

Bron: utube en Mieliestronk

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment