Geskiedenis: Bartolomeu Dias – Die stormheld van Goeie Hoop

Bartolomeu Dias – Die stormheld van Goeie Hoop

Bartolomeu Dias en sy manne was, volgens die heersende beskouing, die eerste Westerlinge wat in Suid-Afrika voet aan wal gesit het. Maar in sy lewe was Dias ’n onbesonge mens. Hy is trouens so gering geag dat daar in oorblywende dokumente uit sy tyd omtrent niks van hom en sy see-avonture langs Afrika verskyn nie. Daar bestaan boonop geen outentieke portret van hom nie. Ook in vandag se boeke oor die groot ontdekkers van die verlede word Dias erg afgeskeep of selfs heeltemal geïgnoreer.

  • Maar uit die newels van die eeue verrys sy gedagtenis… word ná meer as vyf eeue eers ietwat beter besef wat die waarde van sy ontdekking vir die wêreld was. Bartolomeu Dias was immers ’n voorloper wat die weg gebaan het vir kontak tussen Europa, Afrika en die Ooste…

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk. com

DIE karveel, die nederige soort seilskippie waarmee Dias sy epiese ontdekkingstog onderneem het, is in Portugal ontwikkel tydens die eerste jare van daardie land se bloeityd as seemoondheid. Maar hoe het karvele werklik gelyk? Geen noukeurige illustrasie van die karveel het, sover bekend, behoue gebly nie en vir eietydse rekonstruksies moet tekenaars of modelbouers hulle op karige getuienisse verlaat. Dit was egter ’n klein, ligte en vinnige seilvaartuigie.

Bartlomias Dias

Epiese vaart

BARTOLOMEU DIAS (1450?-1500) was die opsigter van die koninklike Guinee-pakhuise in Lissabon, en die bevel oor die karveel Sao Cristovao is in 1486 deur koning Joao II aan hom opgedra. Met nog ’n karveel, die Sao Pantateao, en ’n naamlose vragskippie het sy ekspedisie in Julie of in Augustus 1487 die Taag-rivier in Portugal verlaat met die koninklike opdrag om ’n seeweg na die speseryryke Indië te vind.

Oor Dias se lotgevalle voordat hy by Mosselbaai aangekom het, was daar in die verlede nie eenstemmigheid nie. Geskiedkundiges aanvaar dit egter vandag as ’n mite dat hy deur ’n storm ver suidwaarts gedryf is, en toe hy weer noord vaar, die suidpunt van Afrika naby Mosselbaai bereik het.

Dit het nie so gebeur nie, word vertel. Dias was naamlik ’n kranige seeman. Hy het in Januarie langs die weskus suidwaarts gevaar. Hy moes teen die suidewinde oplaveer. Soos dit ’n goeie seevaarder betaam, het hy eers baie ver suidwes gevaar, moontlik tot 39 of 40 grade suid.

Toe het hy oos gedraai en met die wind agter die bak-boordwindveer in ’n noordelike, noordoostelike rigting gevaar. Naby Gouritsmond het hy die eerste keer land gesien. Hy het die kus ooswaarts gevolg totdat hy by Mosselbaai uitgekom het.

Dias, wat die lang gesogte suidpunt van Afrika omseil het, se kennismaking met die Khoi-Khoi het ’n ongelukkige voorval tot gevolg gehad. Omdat die Portugese en inboorlinge nie mekaar se tale kon verstaan nie, was die ontmoeting gewelddadig: die Khoi-Khoi het die Dias-manne wat by ’n stroom kom water skep het, onder die klippe gesteek. Dias het uit selfverdediging een met ’n kruisboog doodgeskiet en die ander het toe gevlug.

Hy het verder oos geseil, maar hy moes kopgee en uiteindelik omdraai omdat sy hoër offisiere en ander matrose nie wou verder nie. By Kwaaihoek het hy sy eerste padrao, ’n klippilaar met ’n betreklik klein kruisie aan die bopunt, geplant.

Op sy terugvaart het Dias ook ’n kruis geplant by die Kaap die Goeie Hoop en by Lüderitz.

Nog ’n interessante brokkie geskiedenis: Op Dias, wat sy voorradeskip by Lüderitz agtergelaat het, het daar volgens die geskiedskrywer John de Barros met sy terugkeer ’n skok gewag: van die nege man by die voorradeskip het net drie nog gelewe, en een van dié was so bly om sy kamerade weer te sien dat hy op die plek dood neergeslaan het.

Seevaarder Bartolomeu Dias was ook pionier van die transatlantiese slawebedryf

April 8, 2015 in Pioniers

deur Marthinus van Bart

Die Portugese seevaarder Bartolomeu Dias (1450-1500), wie se brons standbeeld in die Roggebaaise Strandgebied van Kaapstad op ’n sentrale verkeerseiland aan die noordekant van die Heerengracht staan, is daarvoor bekend dat hy die seeweg tussen Europa en die Ooste om die suidpunt van Afrika ontdek het.

Minder bekend is dat hy die eerste Europese slawe-vergaardepot (faktory) by El Mina aan die Goudkus (Ghana), aan die noordweskus van Afrika, opgerig het. Hy was drie jaar lank die bevelvoerder daarvan.

Daarmee was hy dus een van die baanbreker-pioniers van die slawebedryf wat in die 1490’s na die Amerika’s uitgekring het nadat die Nuwe Wêreld bloedig deur Spanje gekolonialiseer is. Hierdie driehoekige slawebedryf tussen Europa, Afrika en Amerika het mettertyd bekend gestaan as die transatlantiese slawebedryf en het nagenoeg 400  jaar geduur. Daartydens is meer as 12,5  miljoen Afrikane van die vasteland van Afrika ontvoer, na ander wêrelddele verskeep, en teen ’n enorme profyt as slawe-arbeid verhandel.

Voordat Dias om die suidpunt van Afrika gevaar en die transatlantiese slawehandel as nuwe fenomeen in die wêreldhandel posgevat het, is die handel in gewone gebruiksartikels tussen Europa en die Ooste toenemend deur die Moslem-lande, vernaamlik dié onder Turkse invloed, beheer. Die Westerse handelaars moes deur Moslem-gebied beweeg om die Oosterse markte te bereik, en weer daarvandaan terug te keer. Dit het bekend gestaan as die syroete vanweë die gewildheid van Oosterse sy-ware in die Weste.

Die gevaar dat die agressiewe Moslems die hartland van die Europese handel, Venesië, kon binneval, het weens die mislukte Kruistogte en die val van Konstantinopel in Turkse hande toegeneem. Só ’n Moslem-inval sou ’n enorme katastrofe vir die res van Europa, onder invloed van die Rooms-Katolieke Christendom, tot gevolg hê. Daarom het die Europese lande naarstiglik na alternatiewe handelsroetes na die Ooste begin soek om deur verbeterde handel kapitaal te bekom waarmee die Moslem-gevaar die hoof gebied kon word. Bewapening, beveiliging en oorlog kos immers baie geld.

Twee spioene na Afrika

Aangesien Granada in Spanje deels deur More, dus Moslems, oorheers is, was dit nie vreemd nie dat sy buurland, Portugal, die voortou sou neem om ’n alternatiewe handelsroete oor land deur Afrika na die Ooste te soek, of alternatiewelik ’n seeroete om Afrika te probeer vind nie om die Moslems te uitoorlê en af te weer.

ilustrasie foto van dias se skepe

Die hawestad Ceuta, ook Septa genoem, aan die Noord-Afrikaanse kus.

Reeds in 1413 het die Portugese monarg João I twee spioene, ’n diplomaat, kapt. Alfonso Furtrado, vergesel van ’n Hospitaalridder van die Kruistogte, na die Moorse hawestad Ceuta aan die kus van Morocco in Noord-Afrika gestuur om die militêre beveiliging daarvan vas te stel. Die hawestad was bekend as vername uitvoerplek van goud, ivoor en slawe.

Die spioene het voorgegee dat hulle op reis was na Sicilië, suid van Italië, om reëling te tref vir die huwelik tussen een van die vier Portugese prinse met die Siciliaanse koningin. Hulle is gasvry deur die Arabiese More ontvang, en die twee is toegelaat om oral in die stad rond te stap. So kon hulle op die militêre verdediging van Ceuta spioeneer. Daarna het hulle na Portugal teruggekeer en aan João I verslag gedoen.

Prins Hendrik (Portugees: Henrique), pas mondig, was eintlik die ambisieuse avonturier wat agter sy vader gesit het om die spioene na Ceuta te stuur. Hy wou hê hulle moes die stad met oorlogskepe aanval en inneem. Dan sou Portugal ’n vastrapplek op die bodem van Afrika hê om sy soektog na ’n handelsroete oor land na die Ooste met vasberadenheid te begin. Met so ’n militêre veldtog kon prins Hendrik boonop ’n gesogte ridderskap verwerf.

Die Hospitaalridder, ervare vanweë sy deelname aan die Kruistogte in die Midde-Ooste, het met sand, ’n rol lint, boontjies en ’n kom ’n model van Ceuta gebou en presies aan die koninklike hof verduidelik hoedat die stad ingeneem kon word.

João I was oortuig: Hy het opdrag gegee dat ’n invalsvloot onder groot geheimhouding gereed gemaak moes word. Kort daarna het die vloot met 500 soldate onder aanvoering van die koning en sy seuns Pedro, Henrique (Hendrik) en Duarte die Straat van Gibraltar tussen Portugal en Afrika oorgesteek om Ceuta aan te val.

Die Portugese skepe was eenmaster-platboomvaartuie wat moeilik maneuvreerbaar was en maklik deur wind en seestrome van koers gedwing kon word. Dit is toe presies wat op die kritieke tydstip gebeur net toe die vloot Ceuta wou binnevaar vir die aanval. Al die skepe word deur ’n sterk landwind van koers gedwing, en hulle moes doodeenvoudig verbyvaar, die Middellandse See in. Die Portugese was egter nie geestelik van koers te dwing nie. Toe die wind bedaar, het die vloot omgedraai en vier dae later ’n verrassingsaanval op Ceuta geloods.

prins Hendrik die Seevaarder

Prins Hendrik die Seevaarder

Luidens die weergawe van die koninklike kroniekskrywer Gomes Eanes de Zurara (opgeteken in 1450) het die stedelinge die Portugese inval  verwoed teengestaan, en in ’n stadium het dit gelyk of hulle die invallers gaan oorwin. Van Hendrik se lyfwag van 17 ridders was net vier nog lewend. Toe dit nag word, het hulle hulle in Ceuta se moskee verskans. Maar die volgende oggend was die stad verlate. Die inwoners het in die donker weggevlug. Ceuta was nou die eerste keer sedert die Romeinse tye die eerste Afrika-stad om in Europese besit te kom, en vir hul rol in die verowering daarvan is Hendrik, Duarte en Pedro op die slagveld tot ridders geslaan.

 Priester Jan

João I het Hendrik aangestel as eerste goewerneur van Ceuta, en dit is hier dat die prins in alle erns planne begin beraam het om na ’n nuwe handelsroete na die Ooste te soek. Hy het in Ceuta verneem dat iewers in Afrika, vermoedelik in Etiopië, ’n invloedryke, magtige Christen-heerser, Priester Jan, was wat ’n alternatiewe handelsroete na die Ooste geken het. Indien die Portugese kontak met hom kon maak, sou hul gekombineerde leërs die Moslem-koninkryke van Afrika en die Midde-Ooste kon oorrompel en hul magsgreep op die ekonomie verbreek, het Hendrik gemeen.

Maar inligting oor die ryk van Priester Jan was vaag, en terwyl die soektog daarna aan die gang was, moes ook na alternatiewe roetes gesoek word. Die voor die hand liggendste opsie was om die weskus van Afrika te navigeer en te karteer totdat ’n seeweg om die vasteland na die Ooste gevind word.

Dit was veral deur die geskrifte van die antieke Griekse historikus Herodotus welbekend dat die Egiptiese farao Necho in 600-595 vC verskeie van sy skepe, beman deur Feniciese matrose, al langs die ooskus van Afrika af suidwaarts gestuur het. Hulle het om die suidpunt gevaar, en al langs die weskus op en deur die straat van Gibraltar na Egipte teruggevaar. Hulle het die son en sterre as riglyne gebruik. Geen seekaarte wat deur hulle geteken kon gewees het, kon tot dusver gevind word nie. Die vermoedelik ongekarteerde suidpunt van Afrika is die Prasum Promontorium genoem.

vloot karvele

 

Portugese karvele soos uitgebeeld in ’n laat vyftiende-eeuse dokument.

In 1419 het prins Hendrik (1394-1460) by Sagres, aan die suidpunt van Portugal, ’n seevaart-akademie gestig. Hier het die navorsing na die seeweg om Afrika in alle erns begin. En dit is as gevolg hiervan dat hy die bynaam “die Seevaarder” (Henrique o Navegador) gekry het. Self het hy nooit op die verkenningstogte uitgevaar nie.

Toe prins Pedro van Portugal van 1425 tot 1428 ’n uitgebreide reis deur Europa

Hierdie replika van ’n Portugese karveel van die 1500’s is in 1988 gebou vir die 500-jarige herdenking van Bartolomeu Dias se vaart van 1488 om die suidpunt van Afrika in sy soektog na ’n seeweg na die Verre-Ooste. Foto: Gawie Fagan

onderneem, het hy onder meer die vername Italiaanse handelstad Venesië besoek en daar ’n kopie van Marco Polo se reisjoernaal na die Ooste bekom. Hy het ook eerstehandse inligting ingewin oor die Ottomaanse invloedrykheid om die handelsroetes na die Ooste te beheer, en van die bedreiging wat dié Moslem-ryk vir Europa ingehou het.

Die seiljagvaarder en argitek Gawie Fagan by die replika van Bartolomeu Dias se karveel van 1488. Die karveel word bewaar in die Dias/Karveel-museum in Mosselbaai. Fagan het die museum spesiaal vir die karveel ontwerp.

Die karveel

Hendrik se volgende stap om sy totaalplan vir ’n roete na die Ooste in die praktyk in werking te stel, was om opdrag te gee dat die Portugese skeepsbouers nuwe skepe moes ontwerp wat lang seereise kon onderneem en makliker beheerbaar was as die platboomskuite, bekend asbarcas, en die massiewe vestingskepe, bekend as galjoene, waarmee oorlog gevoer is.

Die More van Noord-Afrika was gedugte seelui wat die Middellandse See met hul hoogs maneuvreerbare en vinnige tweemaster baggala-, boom– en dhow-seilbote met driehoekige seile oorheers het. Hendrik het opdrag gegee dat die ontwerp van die Moorse skepe bestudeer en daarop verbeter moes word. Sonder beter skepe kon die kus van Afrika nie doeltreffend verken word nie.

Die Portugese skeepsbouers het toe met ’n twee- en driemasterskip van 50 ton tot 160 ton en 23 meter lank vorendag gekom wat hulle die karveel genoem het. Dié vaartuig was ’n groot verbetering op die ouer skepe en was in staat om selfs die diepsee te trotseer en teen die wind in te vaar.

Die eerste seevaarder wat in die nuwe karvele uitgevaar en die weskus van Afrika verken het, was Diogo Cão (ca. 1450-1486). In 1482 en 1484 het hy twee reise suidwaarts onderneem en so ver as die kus van Namibië verken en gekarteer. Sy mees suidelike baken was by Cabo de Padrão (Kruiskaap), waar hy ’n gegraveerde bakenkruis van kalkklip, ’n padrão genoem, opgerig het. Op dié reis is hy ter see oorlede.

Cão se opvolger was Bartolomeu Dias, wat die suidpunt van Afrika omvaar en die kus tot by die Groot Visrivier gekarteer het. In 1988, met die vyfhonderdjarige herdenking van Dias se landing by Mosselbaai in 1488, is ’n  replika van ’n karveel volgens oorspronklike historiese skeepswerfplanne in Lissabon gebou, en is daarin na Mosselbaai gevaar. Die skip kan vandag in die Dias-museum daar besigtig word. Die museum is spesiaal deur die Kaapse argitek Gawie Fagan ontwerp om die skip as sentrale uitstalling te huisves. As ervare seiljagvaarder was hy ook een van die bemanningslede wat die karveel na Mosselbaai gevaar het.

Portugal se slawehandel begin

Toe João I se oudste seun, Duarte, sy vader in 1433 as koning van Portugal opgevolg het, het Hendrik en sy broers Pedro en Fernando voortgegaan om die kus van Afrika te verken en die Azore-eilande te kolonialiseer. Toe Duarte in 1438 sterf, en Pedro regent word, het Hendrik sy amptelike toestemming verkry om met die kusverkennings voort te gaan – al was daar besware dat die ekspedisies blote geldvermorsing vir die staatskas was.

In 1441 het een van sy karvele van die weskus van Afrika teruggekeer met goudstof en slawe, en so kon Hendrik sy kritici die mond snoer. Afrikane wat as slawe in Portugal en ook elders in Europa verkoop is, was ’n baie ou verskynsel. Toe ’n Portugese oorlogskip in 1425 ’n Moslem-slaweskip van Marokko in die Middellandse See gevang, 56 Afrikane buitgemaak en hulle teen ’n groot wins in Lissabon verkoop het, het dit min aandag getrek. Krygsgevangenes was immers eeue lank as die slawe van die oorwinnaar gereken.

In 1441 het die kaptein van een van Hendrik se ekspedisies by Cabo Branco (nou Mauritanië), aan die weskus van die Boog van Afrika, volgens sy opdrag goudstof en fynsout gekoop. Toe sy matrose egter 112 Afrikane vang en na Portugal ontvoer om teen ’n groot wins te verkoop, het die belangstelling in slawehandel in dié land sterk opgevlam. Dit was ’n manier om maklik geld te maak.

In die volgende jaar is nog 10 Afrikane by Cabo Branco gekaap en in Lissabon verkoop. Hendrik was baie ingenome met die goud, maar oor die slawe het hy hom verheug: Die slawe word nou uit ’n staat van heidendom vir die Koninkryk van God gered deurdat hulle met die Portugese Christendom in aanraking kom, het hy verklaar. Die jag op Afrikane vir die slawemarkte van die Europa (en die latere Amerikas) was daarmee formeel oopgestel.

Twee jaar later, in 1443, het ’n ander verkenningsekspedisie van Hendrik 29 stamlede van die Azanaghi by Cabo Branco gevang en in Lagos (nou Nigerië) verder suid aan die weskus verkoop. In 1444 het Hendrik opdrag gegee dat ’n koninklike handelsorganisasie  gestig word om die handel in goud en slawe te stroomlyn. Teen 1448 was Portugal se slawehandel met die weskus van Afrika reeds besonder winsgewend.

slawe fort

Sao Jorges da Mina soos dit vandag daar uitsien. Dit is ’n Unesco-verklaarde erfenisterrein.

Die hawestad El Mina aan die Goudkus, aan die weskus van Ekwatoriaal Afrika met die Portugese slawevesting Sao Jorge da Mina.. El Mina is Arabies vir “Die Hawe”. In Portugees beteken Mina egter myn. Daar was ‘n oopgroef-goudmyn naby El Mina waar fyngoud en alluviale goud (klontgoud) ontgin is. Die skildery in waterverf dateer van die Nederlandse tydperk toe die Portugese uit El Mina verdryf is. Dit is in die Blaeu van der Hem Atlas opgeneem.

Fort El Mina aan die Goudkus, nou bekend as Ghana, aan die weskus van Afrika.

El Mina aan die Golf van Guinee

Toe een van Hendrik se voorste navigators, Diogo Cão, in 1471 langs die weskus van Afrika afvaar, het hy aan die suidekant van die Boog van Afrika in die Golf van Guinee ’n goudryke kusgebied, El Mina, Arabies vir “die hawe”, ontdek. Die landstrook is tussen die Volta- en Ankobrariviere geleë. Arabiese handelaars wat slawe vir El Mina se goudstof verruil het, het die gebied baie lank druk besoek. Die Portugese het die gebied nou Mina (myn) en “die Goudkus” genoem. Dat El Mina (Arabies vir “die hawe”) en Mina(Portugees vir “myn”)  na dieselfde woord lyk, is bloot toevallig.

By dié geleentheid het Cão drie Spaanse handelskepe in die Golf van Guinee aangetref,  hulle aangeval en gebuit. Van toe af was El Mina vir die Portugese handelsvaarders ’n handelspos én ’n verversingpos, waar vars water en proviand ingeskeep kon word.

Aanvanklik het die Portugese hul aangekarweide handelsware, tekstiele, sterkdrank, hardeware, wapens en ammunisie in El Mina vir die goudstof wat daar ontgin is, verruil. Die Arabiese slawehandelaars het slawe as ruilmiddel daarheen gebring om hulle vir fyngoud en spoelgoud te verruil. En so het die Portugese in El Mina ’n groot bron gevind van goudstof, slawe, vars water en proviand.

Twintig jaar ná prins Hendrik se dood (in 1460) was Portugal se weskus-slawebedryf, wat hy so ywerig bevorder het, ’n groot bron van inkomste en arbeid vir die land. João II besluit dus in 1481 om ’n slawe-inskeepvesting, bekend as ’n faktory, by El Mina te laat oprig. Portugal het in daardie stadium toenemend op groot skaal Afrika-slawe as arbeiders ingevoer om sy landbou te verbeter.

Hierdie invoer van Afrika-slawe het egter ook ’n dramatiese uitwerking op die Portugese plattelandse gemeenskappe gehad. Ondertrouery tussen Christen-Portugese en heidense Afrikane het op groot skaal begin plaasgevind. Die godsdienstig-kulturele warboel wat ontstaan het, het die maatskaplike orde vinnig laat verval, die florerende landboubedryf het vinnig agteruitgegaan, en uiteindelik het die hele Portugal sodanig moreel en ekonomies verval, dat Spanje dit van 1580 tot 1640 kon oorheers.

Bartolomeu Dias verskyn op die toneel

In Desember 1481 het João II twee van sy voorste seevaarders, Diogo de Azambuja en Bartolomeu de Novaes Dias, na El Mina  gestuur om grond van die plaaslike heerser te huur en ’n handelstasie, die faktory São Jorge da Mina, op te rig.

Dias (ca. 1450-1500) was van adellike afkoms en sy familie was vertrouelinge van die koningshuis. Hy was vermoedelik verwant aan João Dias, een van die eerste seevaarders wat in 1434 Kaap Bojador aan die kus van Wes-Sahara bereik het, en Diniz Dias, wat die Kaap Verdiese Eilande, wes van die boog van Afrika, in 1445 ontdek het.

Bartolomeu Dias was hoof van die skildwag van die koninklike hof en hoof doeane-beampte by die koninklike pakskure in Lissabon, waar ruilhandelsware vir en met Guinea, aan die weskus van Afrika, byeengebring is. Vanweë sy ervaring as  seevaarder en sy afkoms en status, was hy ’n bevelvoerende karveeloffisier in die vlooteskader wat na El Mina gestuur is om die vesting te gaan oprig.

Die Portugese ruilhandel in slawe en goudstof met tekstielware, vuurwapens en ammunisie, sterk drank en ysterware het teen dié tyd sulke afmetings in El Mina aangeneem, dat dit ’n heeltydse teenwoordigheid van amptenare en die oprigting van ’n bewapende fort geregverdig het.

Fort by El Mina Ghana

Feitoria São Jorge da Mina aan die Goudkus

Feitoria da Mina, soos hierdie eerste Europese vesting aan die kus van Wes-Afrika voortaan bekend sou staan, was ook die eerste depot waar slawe vergaar is totdat daar voldoende siele byeen was om die ruime te vul van die skepe wat hulle na ander markte weggevoer het.

De Azambuja en Dias het in 10 karvele en 2 vragskepe altesaam 100 messelaars en skrynwerkers, asook vragte hout, bakstene, gekapte boustene, boukalk en selfs dakpanne, na die Goudkus aangebring. Die faktory is by die monding van die Ankobrarivier opgerig waar die reede so diep was dat skepe van tot 300  ton daar voor anker kon lê. Ook het die Portugese bouers ’n groot opgaartenk vir vars water met bakstene gebou en ’n pypleiding tot by die strand aangelê sodat vars water maklik in die skepe voor anker ingeskeep kon word. Hulle het ook ’n pad na ’n goudmyn in die Akan-woud gebou omdat die Portugese by die ontginning van die goud daar betrokke was.

Die argitektoniese boustyl van die vierkantige fort was in ooreenstemming met die indertydse Italiaanse vestingboukuns. Die hoektorings en bastionne was van soliede klip gebou om kanonaanvalle deur vyandige skepe te kon weerstaan. Die barakke kon ’n garnisoen van 50 soldate huisves. Ook is kwartiere vir die kommandeur en die opperkoopman (faktor) geskep en ’n kombuis, smidswinkel en skrynwerkerswinkel gebou. Uiteraard was daar ook die sentrale gevangenis, waar die slawe aangehou en opgegaar is totdat hulle in slaweskepe weggevoer kon word. Die vesting met sy hoë mure is oor die volgende 80 jaar stelselmatig vergroot sodat daar mettertyd ’n garnisoen van 200 soldate gehuisves is. Aan die landwaartse fasades is twee watergragte in die rotse uitgekap.

In 1666 is ’n tweede vesting, Fort Sint Jago, daar naby deur die Nederlandse besetters, wat die Portugese in 1637 verdryf het, opgerig.

Die eerste kommandeur van Feitoria São Jorge da Mina was Diogo de Azambuja. Dias, wat in Oktober 1486 doeane-hoof in Lissabon geword het, het Azambuja 15 jaar later, in 1496, vir ’n termyn van drie jaar as bevelvoerder van die vesting van El Mina opgevolg.

Dias soek die seeweg na die Ooste om die suidpunt van Afrika

In Julie of Augustus 1487 het João II beveel dat Bartolomeu Dias  langs die kus van Afrika afvaar om vas te stel waar die veel besproke onderpunt van Afrika was. Hy moes dan dié roete na die Ooste karteer.

Dias se ekspedisie het uit twee karvele van 100 ton elk, en ’n groter en swaarder voorradeskip, bestaan. Dias was in bevel van die vlagskip São Christóvão. Sy stuurman was Pero d’Alenquer. Die tweede karveel, São Pantaleão, is aangevoer deur João Infante en die stuurman was Alvaro Martins, en die proviandskip is aangevoer deur Dias se jonger broer Diogo Dias, met die stuurman João de Santarem.

Die vloot het eers by El Mina aangedoen om vars water en proviand in te skeep. Ook het Dias vier negerinne van Guinee laat ontvoer met die doel om hulle op uitgesoekte plekke aan die kus van suidelike Afrika los te laat met monsters goud, silwer en speserye. Hulle is in Portugese klere uitgedos en opdrag gegee om by die inheemse volke navraag te doen na die ryk van Priester Jan en om propaganda maak vir die Portugese handel. Een sterf egter ter see. Die tweede een word op die eiland Sao Tomé in die Golf van Guinee aan wal gesit, die derde een aan die kus van Suidwes-Afrika by die latere Lüderitzbucht, en die vierde by Algoabaai, waar die latere hawestad Port Elizabeth ontwikkel is.

Luidens die geskrifte (van 1551) van die Portugese koninklike  kroniekskrywer João de Barros (1496-1570) – hy was van 1522 tot 1525 kommandeur van die slawevesting by El Mina – is die swaar proviandskip en sommige bemanningslede in ’n baai aan die kus van Angola agtergelaat omdat die seestrome al hoe sterker en die see onstuimiger weens kwaai winde begin raak het.

Dit is waarskynlik dat Dias verwag het dat die suidpunt van Afrika naby was, want die karvele kon nie onbeperkte voorrade kos en water vir ’n lang reis inskeep nie. Hulle het die baai waar hulle vyf dae voor anker gelê het, Angra das Voltas genoem. Toe is anker gelig en het hulle verder suidwaarts gevaar.

Ná aan die Kaap was die wind vyf dae lank so erg en die seestrome so kwaai, dat Dias uit radeloosheid die skepe 13 dae lank suidwes laat vaar het om aan die ongure weer en onstuimige see te ontkom. Dias het dit Cabo Tormentoso (Stormkaap) genoem, skryf De Barros, maar Duarte Pacheco Periera, ’n seevaarder en tydgenoot van Dias, skryf dat Dias later van mening verander en dit Cabo de Bõa Esperança (Kaap die Goeie Hoop) genoem het.

Toe het hulle weer noordwaarts geseil. Gevolglik het die karvele ’n wye draai om die Kaap geseil. Die eerste plek waar land gesien is, was ’n baai waar beeste en herders op land was. Dias het die plek Baia dos Vaqueiros (“Baai van die veeherders”) genoem. Op 3 Februarie 1488 het die vloot by Cabo São Bras (later Mosselbaai) voor anker gaan lê, en het Dias en sy manskappe aan wal gegaan om vars water in te skeep. Hulle word deur vyandige Koina onder die klip gesteek, en Dias skiet een met sy kruisboog dood.

Daarna het die karvele verder gevaar in die hoop dat Indië naby was. Die volgende plekke op Dias se kaart is Cabo Talhado (later Plettenbergbaai) en Baia da Lagoa (later Algoabaai, Port Elizabeth).  Op 15 Maart bereik die twee karvele die monding van die (latere) Groot Visrivier. Dias noem dit Rio de Infante omdat kaptein Joao Infante eerste aan wal stap. Vars water word ingeskeep, en op aandrang van die bemanning word omgedraai.

Daar het Dias ’n kruis-baken (padrão São Gregorius) van gekapte kalksteen opgerig. Die inskripsie lui in Portugees, Latyn en Arabies: “In die Jaar van Onse Heer Jesus Christus 1488. Soveel jaar ná die Skepping van die Wêreld het koning João aan Bartolomeu Dias, die bevelvoerder van sy skepe, opdrag gegee om hierdie kus te ontdek.”

So lyk die kruise van Portugese kalksteen wat Bartolomeu Dias al langs die suidwes- en suidkus van Afrika opgerig het as bakens vir die ryk van die Portugese koning Joao II.

En so het Dias die seeweg na Indië om die suidpunt van Afrika herontdek en gekarteer sonder dat hy die skilderagtige Tafelbaai, een van die mooiste landstonele vanaf die see ter wêreld, gesien het óf die Ooste bereik het.

Op sy terugvaart het hy nog drie kruise geplant by onderskeidelik die latere Kwaaihoek naby die monding van die Boesmansrivier, by die latere Kaap Maclear by Kaappunt, en by die latere Lüderitzbucht aan die Namibiese kus.

João II was so bly oor die nuus dat die seeweg om die suidpunt van Afrika na die Verre-Ooste gevind is, dat hy dit amptelik Cabo de Boa Esperança (Kaap die Goeie Hoop) genoem het.

Dias word kommandeur van Feitoria da Mina

In 1497 is Dias terug na die Goudkus omdat hy aangestel is as kommandeur van die faktory São Jorge da Mina. Hy het die buitepos byna drie jaar lank bestuur voordat hy in 1499 gelas is om saam met sy jonger broer, Diogo Dias, en die adellike seevaarder Pedro Alvares Cabral ’n vloot van 13 skepe na Indië te lei. Hulle is eers na Brasilië, voordat ’n vlooteskader van 11 skepe koers gekies het na Indië. Op 24 Mei 1500, noord van die eiland Tristan da Cunha, het ’n sikloon losgebars en vier skepe, waaronder Dias s’n, het onder die woeste golwe verdwyn. Diogo Dias en Cabral het ontkom.

Dias se kleinseun, Paulo Dias de Novais, het goewerneur van Angola geword en was in 1576 die stigter van die eerste Suider-Afrikaanse stad, Sao Paulo de Luanda, alom bekend as Luanda.

Spanje, Portugal, Brittanje en die slawebedryf

In 1493 het die Rooms-Katolieke Kerk die Amerikas, ook bekend as die Nuwe Wêreld, aan Spanje toegeken. Portugal, ’n handel-en-geloofsgenoot van Spanje, het Brasilië aan die noordooskus van Suid-Amerika, asook die eilande São Tomé en Principe, na aan die weskus van Afrika, as kolonies verkry. Ook is die alleenreg om slawe van Afrika na die Spaanse en Portugese kolonies uit te voer aan Portugal toegeken.

Portugal het sy handelsposisie in die Goudkus mettertyd uitgebrei deur nog drie faktorye, Axim, Shama en Accra, te laat bou, maar teen 1550 het sy handel daar begin taan. In 1580 het Spanje Portugal geannekseer, en in 1637 het Nederland al die Portugese forte aan die Goudkus met militêre geweld oorgeneem.

In 1662 trou prinses Catherine de Braganza van Portugal met koning Charles II van Brittanje, en so bekom Brittanje by wyse van ’n bruidskat al die slawekonsessies van Portugal in Afrika, soos in 1493 aan laasgenoemde toegeken deur die pous van die Rooms-Katolieke Kerk. Charles stig in 1663 The Company of Royal Adventurers of England Trading into Africa, ’n Britse slawehandelsonderneming met die koninklikes en adel as aandeelhouers. Die volgende jaar, in 1664, vestig die Britte hulle aan die Goudkus en beheer mettertyd die hele gebied.

In 1874 het sir Garnet Wolseley dit met uiterste militêre verskroeide-aarde-geweld vir Brittanje gekolonialiseer. Hy is ’n jaar later as goewerneur en militêre bevelvoerder van Natal aangestel. Die Bolandse dorp Wolseley is na hom genoem.

In 1957 het die Goudkus sy onafhanklikheid verkry en staan dit sedertdien bekend as Ghana.

Britse slawehandelaars het in die 1700’s meer as 750 000 Afrikane vanaf El Mina as slawe na die Amerikas uitgevoer. Vir die ontwikkeling van die Amerikaanse kolonies was die Afrikane gereken as fisiek sterker en beter werkers te wees as die inheemse nomadiese bevolkings van die Amerikas.

Die transatlantiese slawebedryf het tot die einde van die 19de eeu, en plek-plek tot selfs die vroeë 20ste eeu, voortgeduur.

Die sogenaamde vrystelling van die slawe in die 1830’s was ’n oëverblindery. Sir Andries Stockenström, landdros op Graaff-Reinet  en luitenant-goewerneur van die Oos-Kaapkolonie, het dit “a parade of sham generosity” genoem, want die slawestelsel is bloot deur ’n selfs drastieser inboekstelsel vervang. Die sogenaamde “emansipasie” van die slawe was net ’n naamsverandering wat die kapitalistiese magshebbers vir dieselfde euwel, naamlik selfverryking deur goedkoop arbeid en die uitbuiting van mense, uitgedink het.

Die Dias-museumkompleks in Mosselbaai, Die Karveel-museum is die sandsteengebou met die blou spitsdak. Daar word die replika van Bartolomeu Dias se karveel van 1488 gehuisves.

Dawie Fagan argitek by replika van dias se karveel

2 mas karveel

 

Museum kompleks by Mosselbaai

Die museum by mosselbaai

1988 se Dias-fees

In 1988 is die vyfhonderdjarige herdenking van Dias se seevaart om die suidpunt van Afrika gedenk. In Mosselbaai is ’n hele museumkompleks ingerig in talle historiese geboue aan die seefront. Daar is onder meer die Posboom, ’n reuse-melkhoutboom waar skeepskapteins briewe  in stewels aan die takke opgehang het of onder groot klippe geplaas het met inskripsies op die klippe dat daar briewe onder verberg is. Ook is ’n Dias/Karveel-museum opgerig om die replika van ’n Portugese karveel van die vyftiende eeu te huisves. Die karveel is in Portugal gebou en na Mosselbaai geseil. Een van die bouers en seevaarders was Gawie Fagan, bekende Kaapse argitek. Hy het die Dias/Karveel-museum ontwerp sodat die karveel daarin gehuisves kan word. Die hele museum word aan Dias en sy epiese vaart gewy. In 1988 is ook ’n spesiale gedenkkoevert deur die SA Hoofposkantoor uitgereik wat die geleentheid gedenk.

  •  Lees meer oor die transatlantiese en Suid-Afrikaanse slawebedryf in Kaap van Slawe, die Britse slawebedryf van 1562 tot 1910deur Marthinus van Bart. Die hardebandboek is in 2012 uitgegee deur Historical Media.

Die Bartolomeu Dias-gedenkposseel van 1988 wat vir die vyf eeue fees uitgereik is.

posseel wat vir 1988 5 eeu fees uitgereik is

 

Standbeeld by die posboom

 


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment