Dinsdag 18 Oktober

Goeie dag en hartlik welkom by SAUK Radio, my naam is Don en hier is die nuus vir 18 Oktober 2016.

As jy jou besigheid wil adverteer en ons nuus berigte borg, stuur asb. ‘n epos aan nuus@saukradio.com

In vandag se nuus:

# Die DA dien hofstukke in in minister Van Rooyen se saak teen Madonsela se verslag

# Die Johannesburgse Aandelebeurs ondersoek Oakbay

# En Wits-betogers sê bestuur teiken hulle leiers

Luister hier:

# Die Demokratiese Alliansie het hofstukke ingedien in die saak van Des van Rooyen, wat ‘n interdik aangevra het teen die bekendmaking van Thuli Madonsela se staatskapingsverslag. Dit sal op 1 November aangehoor word. Mabine Seabe sê die DA het ingegryp om te verseker dat Van Rooyen en president Jacob Zuma nie die regsprosesse misbruik om hulleself te verdedig teen moontlike negatiewe bevindings teen hulle in die verslag nie:

Klankgreep

Solidariteit sê die Arbeidshof glo die SAUK kom nie na vore met inligting in die saak van die sogenaamde SAUK-8 nie. Volgens woordvoerder Anton van der Bijl het die hof verklaar dat die beëdigde verklarings wat Sebolelo Ditlhakanyane en Simon Tebele ingedien het, vaag is en nie spesifiek onthul wie verantwoordelik was vir die besluit om die ag af te dank nie:

Klankgreep

# Die Johannesburgse Aandelebeurs ondersoek die Gupta-familie se Oakbay-maatskappy. Volgens TimesLive hou dit verband met vyf transaksies ter waarde van byna ‘n miljard Rand wat banke as verdag aangedui het. Finansminister Pravin Gordhan het Vrydag hofdokumente ingedien met besonderhede van 72 twyfelagtige transaksies ter waarde van altesaam 6,8 miljard Rand wat Gupta-maatskappye die afgelope vier jaar aangegaan het.

# Studente van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg beskuldig bestuur daarvan dat hy hulle leiers teiken om hulle betogings te onderdruk. Dit volg op die inhegtenisneming van een van die leiers van die opstand, Mcebisi Dlamini. Die hoofsekretaris van die Studenteraad, Fasiha Hassan, het vanoggend buite Wits met ons gepraat:

Speel klankgreep:

In Port Elizabeth het chaos vanoggend by die Nelson Mandela-metropolitaanse universiteit uitgebreek waar klasse sou hervat. Die polisie het betogers met rubberkoeëls en traanrook verwilder toe hulle die hoofingang versper het. Die polisie het die noord- en die suidtoegang gesluit as voorsorgmaatreël.

# Rugby: Augistine Pulu is in Aaron Smith se plek in Nieu-Seeland se groep ingesluit vir Saterdag se Bledisloebeker-toets teen Australië op Edenpark in Auckland. Die skrumskakel het onttrek nadat hy skuldig bevind is aan wangedrag na ‘n voorval op Christchurch se lughawe toe hy saam met ‘n vrou in ‘n toilethokkie verdwyn het. Die All Blacks hoop om die naweek ‘n wêreldrekord van agtien agtereenvolgende oorwinnings op te stel.

# Tennis: Die omstrede Australiër Nick Kyrgios se skorsing van ag toernooiweke is tot drie weke verkort nadat hy ingestem het om ‘n sportsielkundige te spreek. Hy is gister gestraf en beboet oor sy uitbarsting tydens verlede week se Shanghai-meesterstoernooi in Sjina. Die 21-jarige Kyrgios het verskoning gevra en sê hy is spyt dat hy nou nie kan probeer om die jaareindtoernooi te haal nie.

Die Kango-grotte in die Klein-Karoo is gesluit na ‘n aardtrilling van 3,4 wat die Suid-Kaap vanoggend getref het. Inwoners van Oudtshoorn en George sê hulle huise het geskud tydens die voorval rondom half nege. Volgens die munisipaliteit van George het dit ses kilometer diep voorgekom langs die Kango-verskuiwingslyn. Die grotte is nie beskadig nie en sal môre weer oop wees vir besoekers.
# Tennis: Kevin Anderson van Suid-Afrika speel vandag teen die Amerikaner Ryan Harrison in die tweede ronde van die Stockholm-ope in Swede. Anderson het Marcos Baghdatis van Ciprus in die eerste ronde uitgeskakel. Hy het in 2013 sy enigste vorige kragmeting met Harrison in skoon stelle gewen.
# En geldsake: Die Rand verhandel teen 14 Rand-7 sent teen die dollar, 15 Rand-49 sent teen die euro en 17 Rand-21 sent teen die pond. Goud verkoop vir duisend-261 dollar-65 sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 51 dollar-84 sent per vat.

Dit is die einde van die SAUK Radio Nuus berig. Indien U die nuus wil borg en jou besigheid se naam hier wil hoor, elke uur deur die dag weeksdae, kontak ons op nuus@saukradio.com.
Stuur ook asb. enige nuus berigte of artikels aan nuus@sauk.co.za


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment