Dinsdag 20 September

SAUK Radio Nuus berig vir Dinsdag, 20 September 2016.

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet ens

1)’n Groot groep studente versper die hoofingang na die Universiteit van die Witwatersrand se kampus in Braamfontein in Johannesburg. Dit volg na die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande se aankondiging gister dat universiteite self mag besluit oor ‘n verhoging in klasgelde, maar dat dit nie agt persent mag oorskry nie. Hy het ook aangekondig dat klasgelde nie verhoog sal word vir studente wat onder die NSFAS-hulpplan studeer nie. Studente by Wits het gister by ‘n massavergadering besluit om vanoggend met protesoptrede voort te gaan. ‘n Groep privaat veiligheidswagte probeer verhoed dat die betogers motors aanval wat by die universiteit wil ingaan. ‘n Groot afvaardiging polisiebeamptes is ook op die kampus ontplooi.

2)Studente-organisasies by die Universiteit van Pretoria vergader intussen nadat sommige studente ook ‘n beroep gedoen het dat die universiteit gesluit moet word na Nzimande se aankondiging. ‘n Lid van die EFF se studente-organsisasie, Kabelo Mahlobogwane het egter toegegee dat studente verdeeld is oor die kwessie. Die president van die studenteraad op die Noordwes Universiteit se Mahikeng kampus, Dikago Pule sê hulle verwerp Nzimande se aankondiging. Pule sê hulle vergader vandag en sal daarna besluit of hulle gaan betoog of nie. Studente by die Universiteit van Kaapstad het gister by die Jameson-gedenksaal byeengekom, en sê hulle verwerp ook enige verhoging in klasgelde.

3)Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela sê studente by tersiêre instellings word steeds aan maatskaplike ongeregtighede blootgestel. Sy het by `n lesing op die Mahikeng-kampus van die Universiteit van Noordwes op Nzimande se aankondiging oor die verhoging in klasgelde reageer. Madonsela sê die regering het nie in die land se onderwysstelsel belê nie.

4)Die voorsitter van die parlementêre oorsigkomitee vir kommunikasie, Humphrey Maxhegwana sê hy sal die SABC kans gee om op te tree teen die uitsaaier se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng. Die DA sê egter Motsoeneng moet sy kantoor ontruim. Dit volg na die Appèlhof in Bloemfontein Motsoeneng se aansoek om verlof tot appél teen ‘n beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof dat sy aanstelling irrasioneel was, met koste van die hand gewys het. Die Appèlhof het beslis dat die appèl geen wesenlike kans op sukses het nie. Maxhegwana sê hulle eerbiedig die hofbevel, maar die SABC se raad is in beheer en moet eers `n besluit neem.

5)Die voormalige tenniskampioen, Bob Hewitt gaan hom na verwagting vandag by die St Albans-gevangenis in Port Elizabeth aanmeld om met sy tronkstraf te begin. Hewit is tot ses jaar gevangenistraf gevonnis op twee aanklagte van verkragting en en een van seksuele aanrandig. Die Konstitusionele Hof het ‘n aansoek van Hewitt verwerp om die hof regstreeks te nader.

6)President Jacob Zuma sê `n gebrek aan ontwikkeling is die hoofoorsaak vir die verskuiwing van mense. Hy het die Verenigde Nasies toegespreek nadat die New York-deklarasie vir vlugtelinge en migrante aanvaar is. Dit maak voorsiening vir die beskerming, die behoud van menswaardigheid en menseregte van mense wat na ander lande vlug. Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-Moon het dit as `n deurbraak bestempel in die wêreld se gesamentlike reaksie op die beweging van mense. Zuma het ook internasionale ingryping in Libië beskryf as die belangrikste rede vir die migranteprobleem in Europa.

7)’n Humanitêre konvooi met noodvoorrade is volgens berigte deur ‘n lugaanval getref naby die Siriese stad Aleppo, ure nadat die Siriese weermag ‘n einde aan die weeklange skietstilstand aangekondig het. Die Siriese konvooi het VN noodvoorraad in ‘n plattelandse gebied in Urm al-Kubra afgelewer. Die VN sê minstens 18 van die 31 vragmotors, sowel as ‘n pakhuis is getref. ‘n Aantal noodlenigingswerkers is volgens berigte dood of gewond. Die VN se spesiale raadgewer oor humanitêre sake, Jan Egeland sê die konvooi was in ‘n gebied wat deur opposisiegroepe beheer word toe hulle aangeval is.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Geeeltelik Bewolk Met Ligte Reen –  met ‘n min 27 max van 35

Nelspruit –  Gedeeltelik Bewolk – met ‘n  min van 12 en ‘n max van 31

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 13 en max van 27

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 26

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 12 en max van 29

Bloemfontein –Gedeeltelik Bewolk – met min 13 ‘n max van 25

Durban – Mooi Weer – met ‘n min van 16 en max van 28

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 11 en max van 28

Oos Londen –Mooi Weer – met ‘n min 16 en max van 25

Kaapstad –Mooi Weer  –met  min van 12 en max van 21

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 15 en max van 31

PE- Bewolk – met ‘n min 12 en max van 21

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment