Donderdag 13 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Donderdag, 13 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die kanse dat Pretorianers binnekort wateronderbrekings gaan ervaar is baie goed, nadat die oproep dat water bespaar moet word, nie die nodige resultate opgelewer het nie. Streng beperkings is reeds ingestel in bepaalde gebiede.

Die stadsraad beplan om die hooftoevoer van water gedeeltelik te beperk om vlakke in die opgaardamme konstant op ‘n goeie vlak te hou.  ‘n Besparing van 15% is as teiken gestel vir die inwoners.

Die vraag ontstaan of alle inwoners wel hierdie besparing implementeer, veral in die sogenaamde informele gebiede waar kontrole baie moeilik is.

2)Die regsverteenwoordigers van die Gupta-broers het in ‘n skrywe die Openbare Beskermer gewaarsku dat sou haar bevindings teen die broers verkeerd bewys word, sy moet besef dat sy dit op haar eie risiko doen.

Sy word beskuldig dat sy ‘n vooroordeel het teen die Guptas en haar verslag word afgewag voordat daar moontlike stappe geneem sal word.

Regskenners is effens uit die veld geslaan deur hierdie optrede van die Guptas se prokureurs. Sonder enige gronde, en slegs op ongegronde spekulasie, word ‘n soort dreigement gemaak wat selfs as oneties vir die regsberoep beskryf kan word.

Intussen is dit nog nie seker of ANC-president Jacob Zuma, al die vrae wat Madonsela aan hom gestel het, geantwoord het nie. Die verwagting is dat hy dit nie voor die einde van die maand gaan doen wanneer Madonsela se tyd as OB verstryk nie.

Die hele herrie rondom die dagvaarding van die minister van finansies, pas Zuma soos ‘n handskoen, omdat die aandag nou van sy probleme verplaas word na Gordhan. Daar word vermoed dat hy ‘n sterk hand hierin het, juis om die aandag van homself af te lei.

3)Diepe verdeeldheid heers in die ANC oor die posisie van die minister van finansies, Pravin Gordhan, en die strydbyle word geslyp vir die oorlog wat woed. Gordhan self het reeds gesê dat hy nie sal bedank omdat hy gedagvaar is om saam met twee oud-kollegas op 2 November in die hof te verskyn op klagtes van bedrog nie. Hy het ook nie doekies omgedraai dat hy glo dat politieke motiewe agter sy vervolging sit nie.

Aan die ander kant het Zuma reeds begin om Gordhan op die kantlyn te skuif. Daar heers verbasing oor die feit dat Zuma nie vir Gordhan in die taakspan ingesluit het om die universiteitskwessie op te los nie. Studente betoog oor gratis onderrig, maar die minister van finansies is nie daar nie. Gordhan se regsverteenwoordigers het ook hulle verbasing oor die klagtes toon hom uitgespreek.

Derick Hanekom, die Gautengse premier en selfs die hoofsweep van die ANC, Jackson Mthembu, het hul steun aan Gordhan toegesê.  Die SA kommuniste Party bevraagteken die tydsberekening van die klagte teen Gordhan, en verwys tereg na die gebeure tussen 2003 en 2007 toe Zuma aangekla is van korrupsie.

Nog ‘n veteraan van die ANC, Cheryl Carolus, het haar uitgespreek teen die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om Gordhan, aan te kla en sê dit is ‘n heksejag en  sê die besluit van die NVG is absurd. Intussen het die rand verder verswak teen die dollar en die euro.

4) Die anti-apartheidsveteraan, Ahmed Kathrada, het bevestig dat hy op 2 November by die Pretoriase streekhof sal wees om die Minister van Finansies, Pravin Gordhan te ondersteun. Dit volg na die besluit van die Nasionale Vervolgingsgesag om die minister van bedrog aan te kla. Kathrada hoop dat sy kollegas op die raad van die Kathradastigting soos Derek Hanekom, Laloo Chiba, Max Sisulu, Kgalema Motlanthe, Barbara Hogan, Prema Naidoo en Sophie Williams-De Bruyn hom sal vergesel.

5)Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy sal later ‘n besluit oor die sogenaamde spioenasiebande neem. Die Konstitusionele Hof het beslis dit is nie in belang van geregtigheid om die vertoë van die NVG aan te hoor nie. Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shaun Abrahams, sê hy raadpleeg senior regslui ná die Appèlhof se uitspraak dat president Jacob Zuma se regspan in ‘n ope hof redes moet aanvoer in sy aansoek om verlof tot appèl teen die Hooggeregshof-uitspraak oor klagte van korrupsie teen hom. Abrahams het ook vroeër gesê hy sal dit oorweeg om die aanklagte teen die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, te hersien indien die minister hom vra om dit te doen.

7)Die man wat gister na bewering drie mense in ‘n meenthuiskompleks in Pretoria doodgeskiet het, het homself vermoedelik daarna geskiet. Die man het vroeër twee polisielede en drie veiligheidswagte vir ure in die Meadows-kompleks in Morelettapark die ooste van Pretoria gyselaar gehou. ‘n Polisiewoordvoerder, kaptein Dave Miller, sê die motief van die skietery is steeds nie bekend nie. Die mense wat vroeër aangehou is, is vrygelaat nadat lede van die polisie se taakmag met die man onderhandel het. Die liggaam van die man is binne in die huis gevind en die ander drie buite. Forensiese spanne was gisternag laat nog op die toneel besig om inligting te versamel.

8)Taxibestuurders in Ga-Rankuwa noord van Pretoria sê hulle is teleurgesteld met die gedrag van studente wat aan die FeesMustFall-betogings deelneem. Dit volg nadat ‘n groep oproerige studente drie minibusse by ‘n staanplek naby die TUT-kampus beskadig het. Die studente en die operateurs het skynbaar slaags geraak toe die taxibetuurders versperrings wou verwyder wat die studente naby die staanplek aangebring het. ‘n Woordvoerder van die Ga-Rankuwa United Taxivereniging, sê taxi-operateurs het die studente gevra om nie die versperrings aan te bring nie, waarop hulle die taxibestuurders met klippe bestook het en die taxibestuurders terugbaklei het.

9)Die parlementêre komitee oor sport is nie tevrede met SASCOC se verduideliking oor die sweetpakke wat die Suid-Afrikaanse Olimpiese span in Rio De Janeiro gedra het. SASCOC het voor die komitee verskyn oor die vertoning van die span. Parlementslede sê die klagtes van die atlete oor hul sweetpakke moet ernstig opgeneem word. Die Departement van Sport moet ook in die toekoms versoek dat borge hoë gehalte klere met ‘n goeie snit verskaf. Die komitee het egter ook simpatie gehad met SASCOC se uitdagings om borge van sakelui te bekom. Die Suid-Afrikaanse span se klere is deur ‘n Sjinese maatskappy geborg.

10)’n Siriese man wat daarvan verdink is dat hy ‘n bomaanval in Duitsland beplan het, het vermoedelik selfdood gepleeg. Jaber Albaker het homself skynbaar in sy sel opgehang in die tronk waar hy aangehou is. Hy is vroeër deur Siriese imigrante aan die polisie oorhandig nadat hulle twee dae lank na hom gesoek het. Albakr se prokureurs bestempel die Siriër se dood as ‘n skandaal, omdat die tronkpersoneel glo geweet het hy het selfmoordneigings. Albakr is aangehou nadat hy vermoedelik ‘n bom in ‘n lughawe in Berlyn wou plant.

11)KRIEKET: Suid-Afrika het eerste span geword wat ‘n skoonskip-reeksoorwinning oor Australië kon behaal toe die Proteas die Ausies gisteraand met 31 lopies in die vyfde en laaste eendagtoets in Kaapstad geklop het. Die tuisspan het 327 in hulle toegelate 50 boulbeurte gekry met Riley Rossouw wat 122 lopies bygedra het. Slegs die besoekers se openingskolwer, David Warner, het op sy gemak gelyk teen die Suid-Afrikaanse boulaanval, maar toe hy uitgehaal is op 173, was die koeël deur die kerk. Kyle Abbott, Kagiso Rabada en Imran Tahir, het elke twee paaltjies gekry. Rossouw is as Speler van die Reeks aangewys.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad –Gedeeltelik Bewolk–  met ‘n min 28 max van 37

Nelspruit – Gedeeltelik Bewolk Met Ligte Reen– met ‘n  min van 12 en ‘n max van 15

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 9 en max van 30

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 11 en max van 28

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 11 en max van 31

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 12 ‘n max van 29

Durban –Bewolk Met Ligte Reen– met ‘n min van 17 en max van 19

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 33

Oos Londen –Mooi Weer– met ‘n min 15 en max van 21

Kaapstad –Mooi Weer–met  min van 10 en max van 23

Upington – Gedeeltelik Bewolk- met ‘n min van 17 en max van 32

PE- Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 19

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment