Donderdag 20 Oktober

Goeie dag en hartlik welkom by SAUK Radio se Nuus vir vandag. Ons volksnuus word onder andere deur die Die Vryburger verskaf. Stuur asb. enige nuus berigte, pers verklarings of artikels aan nuus@sauk.co.za
Indien U ons gereelde nuus berigte wil borg en jou besigheid se naam hier wil hoor, elke uur deur die dag weeksdae, kontak ons op nuus@saukradio.com.

 

Luister hier:

 

Luister na Sportnuus:

Boere juig oor reën, maar dit reen nie gras nie en die droogte nog nie verby
TLU SA se Algemene Raadsvergadering in Pretoria het met groot dank kennis geneem van die reën wat op verskeie plekke uitgesak het. Die unie se president, mnr. Louis Meintjes, sê dat boere reikhalsend uitsien na die reën en dat hulle uitsien na ‘n goeie reënseisoen na die knellende droogte. “Die gees van opgewondenheid na die reën, was opmerklik en aansteeklik tydens ons vergadering,” sê mnr. Meintjes.

Hy wys egter daarop dat die gesegde lui dat dit nie gras reën nie. “Dit gaan nog geruime tyd duur voordat die positiewe effek van die reën voelbaar gaan wees vir die boere. In sommige gevalle was die droogte van so ‘n aard, dat dit meer as net een seisoen sal nee mom te kan herstel. Daarom gaan TLU SA volstoom voort met sy droogtehulp aan boere. TLU SA is beskeie bly oor die feit dat hy uit sy droogtefonds heelwat boere kon help, en daar bestaan steeds ‘n behoefte aan hulp in die vorm van voer en geldelike donasies,” sê mnr, Meintjes.

Die hoofbestuurder van TLU SA, mnr. Bennie van Zyl, sê hy is baie opgewonde oor ‘n groot skenking van 1 000 bale wat deur een van TLU SA se lede in Makoppa geskenk is. Dit is 1,25m ronde bale, en die waarde daarvan beloop derduisende rande. “Daar is groot nood in die Noordwes-omgewing en ons wil graag die bale versprei aan boere in Stella, Coligny en Schweizer-Reneke. Daar is tans net ‘n haakplek rondom vervoer en ons wil ‘n beroep doen op mense wat daarmee kan help, om met my by TLU SA kontak te maak,” sê mnr. Van Zyl.
# Die Valke het op ‘n sindikaat toegeslaan in Benoni en Secunda wat by die verkeersafdelings leerling lisensies en bestuurderslisensies verkoop.

In Benoni is vyf metro polisie offisiere in hegtenis geneem terwyl die minister van vervoer, Dipou Peters, die personeel toegespreek het. ‘n Verdere vier polisie beamptes en twee privaat persone is later ook in hegtenis geneem. In Secunda is drie verkeersbeamptes gearresteer op dieselfde aanklagte.

Geld wat hande wissel vir lisensies het van R 3 500 tot R 15 000 gewissel.
# Die leier of aanstigter van die studentegeweld by Wits en vorige studenteraadsvoorsitter, Mcebo Dlamini, is borgtog geweier in die Johannesburgse landdroshof.

Hy staan tereg op aanklagte van openbare geweld, diefstal, beskadiging van eiendom en aanranding met opset om ernstig te beseer.

Die voorsittende landdros, Albertus Roux, het Dlamini se borg aansoek afgekeur op grond van video materiaal waarin getoon word hoe Dlamini ‘n polisie beampte aangerand het.

Dit het intussen bekend geword dat die Gautengse Departement van Onderwys Mcebo se universiteitsgelde betaal. Die LUK van onderwys het heel ironies opgemerk dat die departement Mcebo borg om ‘n LLM te verwerf in regte en nou in die tronk verkeer.

Hy studeer dus self gratis maar plaas ander se toekoms op die spel met sy aanhitsing en geweld oor gratis onderrig.

 

# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Suid-Afrika loop gevaar dat sy kredietwaardigheid in Desember afgradeer gaan word weens politieke risiko, wat weerspieël word in die swakker vertoning van die Rand. Eerste Nasionale Bank se ekonoom, Dawie Maree, skryf dit toe aan swak internasionale beleggersvertroue:

Klankgreep

Maree verduidelik vir ons die gevolge van ‘n verlies aan beleggersvertroue vir die ekonomie:

Klankgreep
# Die ouditeur-generaal kon tydens hul oudit van die Natalse gesondheidsdepartement nie bepaal waar en hoe R4,1 miljard se uitgawes spandeer is nie.

Ongerymde uitgawes, oortydbetalings van R875 miljoen, aankope sonder vooraf verskrygde kwotasies, kontrakte aan verskaffers wat nie belastingklaring het nie, R5,12 miljoen wat eenvoudig vermors is en R147 miljoen se ongemagtigde uitgawes was van die probleme wat opgetel is.

Meers as 42 departementele ondersoeke kon nie die probleem oplos oor die afgelope vyf jaar nie, wat beteken dat die bodemlose put van bedrog en vermorsing van belastinggeld al geruime tyd voortduur.

Intussen het die premier van Natal, Willies Mchunu, ‘n beroep gedoen op die tesourie om Natal se totale begroting te verhoog. Gemeenskapsleiers ontvang jaarliks meer as R1 miljard uit die staatskas.

# Die Valke oorweeg dit glo om ‘n vorige minister van Finansies, Trevor Manual, aan te kla. The Citizen berig dat hy na bewering ‘n kontrak van 100 miljoen Rand aan Barone, Budge & Dominick toegeken het vir die mordernisering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sonder om die regte proses te volg. ‘n Gewese regerings-woordvoerder, Jimmy Manyi, het Manuel van korrupsie en ongerymdhede aangekla en die Valke het bevestig dat dit ondersoek word.

# Meer as vyftig getuies kan geroep word in die parlementêre ondersoek na die SABC-raad. Die portefeuljekomitee op Kommunikasie het die formele ondersoek na die raad se geskiktheid aanbeveel nadat twee van die ses lede onlangs bedank het. Van die moontlike getuies is gewese uitvoerende bestuurders wat geskors of afgedank is, en joernaliste wat afgedank en na ‘n hofbevel weer aangestel is. Die Parlement sal môre aankondig wanneer die ondersoek begin.

#Die Universiteit van die Wes-Kaap het alle regstreekse akademiese bedrywighede vir die res van die jaar afgestel weens weke van gewelddadige betogings. Bestuur sê die toestand op die kampus het vererger en lesings kan nie hervat word sonder om personeel en studente se veiligheid in gevaar te stel nie. Dekane en departementshoofde sal bepaal hoe die akademiese jaar voltooi gaan word.

# Pretoria se polisie sê vandag se studente-optog na die Uniegebou om gratis onderrig te eis, is onwettig. Volgens woordvoerder Isaac Mahamba het die organiseerders wel toestemming gevra, maar dit is nie toegestaan nie. Motoriste in die middestad is gewaarsku dat verkeer ontwrig kan word.

# Die Padverkeers-bestuurskorporasie sê dertien verkeersamptenare is borgtog geweier toe hulle in Benoni aan die Gautengse Oosrand in die hof verskyn het op aanklag van die bedrieglike uitreiking van leerlinglisensies en rybewyse. Woordvoerder Simon Zwane sê hulle keer Dinsdag terug hof toe:

Klankgreep

# Die mynwerkersvakbond NUM is gekant teen Sibanye Gold se oorname van Anglo American Platinum se myne by Rustenburg in Noordwes begin volgende maand. Woordvoerder Livhuwani Mammburu sê die NUM glo die nuwe eienaar gaan begin met ‘n veldtog om swart werknemers af te dank:

Klankgreep

#Die polisie het vandag byna 23 duisend vuurwapens verwoes in Germiston aan die Oosrand. Die meeste daarvan is by misdadigers afgeneem. Waarnemende nasionale polisiehoof Khomotso Phahlane het tydens die geleentheid vir ons gesê die vuurwapens is gesmelt om te verseker dat dit nooit weer in misdadigers se hande beland nie:

Klankgreep

Adéle Kirsten van die drukgroep Wapenvrye Suid-Afrika sê onwettige vuurwapens veroorsaak reuse maatskaplike, fisiese en ekonomiese skade aan die land en sy burgers:

Klankgreep

# Krieket: Die Proteas se aanvangskolwer, Dean Elgar, is gretig om homself te laat geld in die naweek se tweedaagse toerwedstryd teen Australië A in Adelaide. Hy sê die span het vandag sy tweede oefening met die pienk bal gehad wat vir die wedstryd gebruik gaan word en daar is nie so baie verskille van die tradisionele wit of rooi bal nie.

Klankgreep

_________________

Sport

# Rugby: Die Vrystaatse Cheetahs se hoofafrigter, Franco Smith, en die Leeus se verdediging-spesialis, JP Ferreira, is na die Springbok-bestuurspan gesekondeer vir die jaareindtoer in Europa. Bok-afrigter Allister Coetzee het versoek dat hulle hom bystaan. SA Rugby se skop-spesialis, Louis Koen, sal ook saamtoer. Die eerste toerwedstryd is op 5 November op die Wembley-stadion in Londen teen die Barbarians.
‘n Tweede groep sal die daaropvolgende naweke toetse speel teen Engeland, Italië en Wallis. Die Bokke trek Sondag in Johannesburg saam vir ‘n oefenkamp.

Die twee Springbokgroepe sal na Saterdag se Curriebeker-eindstryd in Bloemfontein aangekondig word vir volgende maand se Europese toer.

# Brasilië, Griekeland, Indonesië, Azerbeijan en Guatemala het tot 10 November om hulle voldoening aan die kode van die Wêreldagentskap teen Opkikkergebruik, Wada, te bewys. Hulle kan gestraf word weens tekorte in hulle opkikker-toetsprogram. As hulle nie hulle voldoening kan bewys nie, kan hulle by Wada se lys van nie-voldoening gevoeg word.

# Tennis: Rafael Nadal van Spanje, wat teruggesak het na sesde plek op die wêreldranglys, sê hy en die Switser Roger Federer kan steeds op die hoogste vlak meeding. Die twee, wat saam 31 grand slam-titels ingepalm het, is die eerste keer in dertien jaar nie een onder die wêreld se voorste vier spelers nie. Nadal het met die opening van sy tennis-akademie in sy tuisstad, Manacor, gesê hy glo die Rafa- en Roger-vertoning sal nog jare lank voortduur.

_______________________

# En geldsake: Die Rand verhandel teen 13 Rand-93 sent teen die dollar, 15 Rand-28 sent teen die euro en 17 Rand-8 sent teen die pond. Goud verkoop vir duisend-269 dollar-38 sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 52 dollar-15 sent per vat.


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment