Donderdag 22 September

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir Donderdag, 22 September 2016.

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die saak teen vier voormalige polisiemanne van Soweto is uitgestel tot 25 November. Die vier, Tim Radebe, Willem Coetzee, Anton Pretorius en Frederik Mong, word beskuldig van die moord op Nonmuthula Simelane ‘n anti-apartheidsaktivis.

Daar bestaan egter twyfel of die saak wel dan aangehoor kan word aangesien die vier aandui dat SAPD weier om hul regskostes te betaal aangesien hul in diens was tydens die verdwyning van Simelane.

2)Die visekanselier van die Universiteit van Fort Hare, Mvuyo Tom het die voorval waar ‘n gebou op die Alice-kampus in die Oos-Kaap aan die brand gesteek is, veroordeel. Hy sê die gebou huisves ‘n maatskappy wat opknappingswerk by die universiteit doen. Die universiteit se bestuur het gister met die studenteraad vergader en ooreengekom dat studente sal terugkeer na klasse nadat hulle ‘n week lank weggebly het weens vrese oor veiligheid by koshuise. Tom sê ‘n klein groepie studente het na die vergadering begin betoog en die gebou aan die brand gesteek. Hy sê die polisie en die brandweer is ingeroep om die situasie te hanteer.

3)Agt studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth is gisteraand op borgtog van 450 rand elk vrygelaat. Hulle is gistermiddag op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem gedurende `n protesoptog van die hoofkampus na die Tweede Laan-kampus in Somerstrand. Die polisie moes skokgranate gebruik toe die studente verkeer by die ingang van die Boardwalk Casino naby aan die Tweede Laan-kampus ontwrig het. Na hul inhegtenisname het ander studente buite die Humewood-polisiestasie betoog en hul vrylating geëis.

4)Die Gesondheids-Ombudsman, Malegapuru Makgoba, het beloof om vas te stel waarom 36 psigiatriese pasiënte in Gauteng dood is. Die sterftes het vroeër vandeesmaand aan die lig gekom. Die pasiënte is dood nadat hulle van die Life Healthcare Esidemeni-sentrum uitgeplaas is na verskeie nie-regeringsorganisasies wat sulke pasiënte versorg. Makgoba het ‘n span onafhanklike psigiatriese kundiges saamgestel om hom met die ondersoek te help. ‘n Span inspekteurs is ook ingebring om bewerings oor die nie-regeringsorganisasies te ondersoek. Makgoba sê sy verslag kan so vroeg as November verwag word.

5)Makgoba se kantoor sê intussen hulle is ook besig om die ondersoek na die dood van vyf baba’s by die Bonganihospitaal in die Vrystaat laat verlede jaar te finaliseer. Die Vrystaatse Departement van Gesondheid het na bewering gesê die sterftes was weens ‘n uitbreking van Klebsiella. Makgoba sê hy stel persoonlik ondersoek in en sal volgende week die hospitaal besoek. Hy sê hulle het reeds besluit wie die getuies moet wees en ondervra moet word. Makgoba sê hy sal die hospitaal vir twee dae besoek en dan sy idees finaliseer oor wat hy bevind het.

6)Die landdroshof op Witbank in Emalahleni in Mpumalanga, het die ginekoloog, Danie van der Walt, skuldig bevind aan strafbare manslag. Van der Walt het in 2005 ‘n swanger vrou by die Cosmos privaatkliniek geopereer wat op die punt was om geboorte te skenk. Die pasiënt, Pamela Daweti, is dood drie ure nadat sy geboorte geskenk het. Die hof het bevind dat Daweti se dood die gevolg was van nalatigheid van die dokter nadat sy na die operasie ure lank gebloei het. Daweti se ma, het die uitspraak verwelkom selfs al het dit meer as elf jaar geneem.

7)Botswana, wat die grootste olifantbevolking ter wêreld het, sê hy sal nie sy bure se versoek steun om die beperkings op die verkoop van ivoor op te hef nie. Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe sal hulle beywer vir die reg om ivoor te verkoop wanneer die kwessie later die week by die konferensie van die natuurbeheerliggaam CITES bespreek word wat in Johannesburg begin. Volgens die Britse Uitsaaikorporasie voer Suid-Afrika aan dat lande met stewige olifantbevolkings nie dieselfde behandel behoort te word as dié wat deurloop onder stropers nie. Die president van Botswana, Ian Khama het egter gesê dit sal selfsugtig wees om ivoor te verkoop omdat lande met verminderde olifantbevolkings ook geraak sal word. Die meeste Afrikalande wil die verbod behou en Sjina, die wêreld se grootste verbruiker van ivoor, gaan die huishoudelike verkoop van ivoor uitfaseer. Amerika het ook ‘n feitlik totale verbod op die verkoop van ivoor aangekondig.

8)Geweld het vir ‘n tweede nag in die Amerikaanse stad Charlotte uitgebreek terwyl protesoptrede oor ‘n swart man wat deur die polisie doodgeskiet is, voortgaan. Een persoon is geskiet tydens die protesoptrede en is in ‘n kritieke toestand. Volgens die polisie is die persoon deur ‘n burgerlike geskiet, en nie deur die polisie nie. Onruspolisie het traanrook gebruik om die woedende skare uiteen te jaag. Die 43-jarige Keith Lamont Scott is Dinsdagaand deur die polisie doodgeskiet. ‘n Aantal polisiebeamptes is tydens die eerste nag van protesoptrede beseer.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Geeeltelik Bewolk Met Ligte Reen –  met ‘n min 27 max van 36

Nelspruit –  Mooi Weer – met ‘n  min van 15 en ‘n max van 37

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 14 en max van 32

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 29

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 11 en max van 32

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 8 ‘n max van 26

Durban – Bewolk – met ‘n min van 15 en max van 22

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 33

Oos Londen –Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min 14 en max van 20

Kaapstad –Mooi Weer  –met  min van 10 en max van 17

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 11 en max van 25

PE- Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min 13 en max van 19

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment