Donderdag 29 September

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Donderdag, 29 September 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die ANC wil die Tshwane Metroraad, wat Pretoria insluit, onder administrasie plaas en sodoende nuwe verkiesings afdwing. Dit is sy wraak-taktiek nadat hy in die plaaslike regeringsverkiesing van 3 Augustus, sy beheer oor Pretoria moes afstaan aan ‘n DA-geleide koalisie.

Die jongste raadsvergadering van die Tshwane Metroraad het in chaos ontaard toe die ANC die verrigtinge op ‘n kenmerkende EFF-wyse ontwrig het nadat  mense in poste verkies is waarvan die ANC nie hou nie. Die provinsiale LUR, wat uiteraard ‘n ANC-lid is, is skynbaar besig om te kyk na die moontlikheid om die stadsraad onder administrasie te plaas.

Waarnemers wys daarop dat dit ‘n toonbeeld is van die ANC wat nie van sy mag wil afstand doen nie. Hy sal ander magte misbruik om deur sogenaamde demokratiese metodes en instellings, aan sy mag vas te klou. Dit maak in wese ‘n klug van verkiesings, word gesê.

2)Joernaliste wat verslag gedoen het oor die betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ), is na bewering deur privaat veiligheidswagte aangeval en aangerand.

Dit is die jongste in die betogings by kampusse landwyd, waar studente hoofsaaklik betoog teen die betaling van klasgelde. Hulle wil gratis opgelei word by universiteite.

Ook op die Kingsway-kampus van UJ word privaat veiligheidswagte daarvan beskuldig dat hulle studente aangerand het.

Die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap het sy Alice- en Oos-Londen-kampusse gesluit tot ná ‘n raadsvergadering op 10 Oktober. Studente boikot al byna drie weke lank klasse by die universiteit. Studente wat wel vir klasse opdaag, word deur ander studente weggejaag wat nie wil hê die akademiese program moet voortgaan nie.

By die Universiteit van Limpopo is studente aangesê om koshuise op die Turfloop-kampus te verlaat nadat alle klasse deur die universiteit gestaak is.

3)Die omstrede hoof van die SABC, Hlaudi Motsoeneng, is binne die organisasie verskuif na ‘n ander senior posisie. Intussen hou die staatsbeheerde openbare uitsaaier vol dat die onlangse uitspraak deur die Appèlhof oor Motsoeneng verkeerd geïnterpreteer word.

Hy is nou aangestel as Hoof van Korporatiewe Sake en is nie meer die bedryfshoof nie, na die Appèlhof se beslissing. Net voor Motsoeneng na die pos verskuif is, het hy nog ‘n bonus van meer as R11 miljoen ontvang. As bedryfshoof was sy salaris sowat R3,7 miljoen per jaar, en daar word nou gevra wat hy in sy nuwe pos gaan verdien.

Intussen sê ‘n woordvoerder van die SABC, Kaizer Kganyago, dat die vrae wat nou oor Motsoeneng gevra word, kom van “mense met ‘n verskuilde agenda”

4) Twee verdagtes verskyn vandag in die landdroshof op Klerksdorp in verband met veediefstal nadat hulle betrap is met 26 beeste en 18 skape ter waarde van sowat R160 000. Veediefstal bly een van die groot kopsere in die landboubedryf. Heelwat boere meld nie meer sake aan nie omdat hulle glo dat die polisie in elk geval nie daaraan aandag gee nie.

Op heelwat plekke egter, is boere vol lof oor flinke optrede van die polisie. In Edenville werk polisie en boere goed saam, en onlangs is daar 3 mense gearresteer vir die diefstal van 11 beeste wat reeds op ‘n vragmotor gelaai was, en in ‘n ander geval het die polisie vee deur die nag gevind en die eienaars gevra om dit te identifiseer nog voor hulle geweet het dit is gesteel. In Warmbad-omgewing is boere ook tevrede met optrede van die polisie en veral die veediefstal eenheid. Boere is wetlik verplig om hulle vee te brandmerk, en dit help die polisie om werklike eienaars vinnig op te spoor.

‘n Area wat tans egter onder veediefstal gebuk gaan, is Devon en Nigel. In een van die jongste gevalle is 7 Nguni-beeste geslag op die plaas Bosmanskop van mnr. Petrus Botha. Vroeër die week is 18 dragtige ooie gesteel by mnr.  Armand van Rooyen, op die  R550 tussen Nigel en Devon.

5)Die Kamer van Mynwese sê hulle deel studente se kommer oor die toekoms van hoër onderwys in Suid-Afrika. Sowat 500 Wits studente het gister ‘n optog na die kantore van die Kamer in Johannesburg gehou waar ‘n griefskrif oorhandig is. Die studente wil hê dat mynbase meer in hoër onderwys belê sodat die wins van myne met die breër bevolking gedeel word. Die woordvoerder van die Kamer, Vusi Mabena het onderneem dat mynbase op die studente se griefskrif sal reageer.

6)Minstens tien studente van die Rhodes Universiteit in Grahamstad, wat gister in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn. Die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die betogers uiteen te jaag. Die studente het na bewering polisie-eiendom beskadig en paaie versper.

7)Kaapstad se bekendste en oudste perderesies, voorheen bekend as die J&B Met, het ‘n nuwe borg. Die Sun International-groep het aangekondig dat hulle voortaan die hoofborg van die byeenkoms gaan wees. Die resies  sal van nou af as die Sun Met bekend staan. J&B het vroeër vanjaar aangekondig dat hy sy borgskap ná 40 jaar gaan beëndig.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Geeeltelik Bewolk Met Ligte Reen–  met ‘n min 26 max van 35

Nelspruit –  Gedeeltelik Bewolk Met Igte Reen – met ‘n  min van 10 en ‘n max van 20

Pretoria  – Bewolk – met ‘n  min van 10 en max van 29

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 8 en max van 28

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 8 en max van 28

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 7 ‘n max van 22

Durban – Mooi Weer – met ‘n min van 18 en max van 25

Rustenburg – Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min 10 en max van 30

Oos Londen –Mooi Weer – met ‘n min 15 en max van 21

Kaapstad –Gedeeltelik Bewolk –met  min van 12 en max van 18

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 13 en max van 26

PE- Mooi Weer – met ‘n min 15 en max van 20

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment