Donderdag, 30 Junie

SAUK Radio Nuus berig vir Donderdag, 30 Junie 2016. Ons Neem Ons Erfenis Terug. Stuur nuus aan nuus@ saukradio.com

RAAK BETROKKE: Het U iets om te sê? Ons nooi graag omroepers en mense om betrokke te raak, selfs anoniem. Die platform is daar vir ons volk om te gebruik en is nie vir ons eie wins of roem nie

Wil U op ons Nuus berigte of programme adverteer of borg? Ons sal die radio en webwerf advertensies vir U maak. Kontak ons by nuus@ sauk.co.za

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio

My naam is Corrie met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

NUUS

  1. Tragedie het vir die tweede keer ‘n sakeman van Pretoria getref toe sy tweede vrou op dieselfde hoewe doodgeskiet is as waar sy eerste vrou ook vermoor is. Jurie Steenberg se tweede vrou, Riekie, is Woensdagoggend op hul hoewe by Kameelfontein, noordoos van Pretoria vermoor. Hy is in die Netcare Montana-hospitaal opgeneem. Die polisie vermoed daar was drie verdagtes betrokke by die aanval. Hulle het selfone en ‘n vuurwapen gesteel tydens hulle moordtog Woensdagoggend tussen 4:30 en 6:00. Die polisie ondersoek klagte van moord, poging tot moord en huisroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Jurie Steenberg se eerste vrou, Suna, is op 16 April 2010 gedurende die dag tydens ‘n aanval op kort afstand in die kop geskiet. Twee aanvallers het destyds by die hoewe opgedaag en in die huis gestap, terwyl ‘n aflewering van behandelde pale gedoen is. Suna het op die gille van haar skoonma in die huis gereageer en op hulle losgebrand, maar sy is ontwapen, aangerand en geskiet. Haar man was nie tuis tydens die aanval nie. Niks is destyds geroof nie. Sy was bykans ses maande lank in ‘n koma voordat sy oorlede is.
  1. Die Suid-Afrikaanse Brandstofhandelaarsorganisasie (Sapra) het gerugte ontken oor ‘n dreigende staking van brandstofaflewering wat op sosiale media gesirkuleer word. Chevron SA en die chemiese vakbond, Ceppwawu, het vroeër gesê hulle weet nie wiedie vals stakingskennisgewing begin het nie. Chevron SA se kommunikasiebestuurder, Suzanne Pullinger, het bevestig dat die inligting nie korrek is nie en brandstofaflewering en voorsiening aan vulstasies regoor die land normaal sal bly. ‘n Boodskap wat op WhatApp die rondte gedoen het, het gewaarsku petrol en diesel sal teen Donderdag nie meer by vulstasies beskikbaar wees nie. Mense is gemaan om seker te maak dat hulle ten alle tye hulle motors se brandstoftenks vol hou. Daar is ook aangevoer die staking het al Maandag begin, maar is geheim gehou om ‘n stormloop te voorkom.
  1. ‘n Rekordgetal van 200 politieke partye, 65% meer as in 2011, sal vanjaar aan die munisipale verkiesing op 3 Augustus deelneem. Meer as 61 000 kandidate staan in vanjaar se verkiesing, aldus die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika. Die hoofverkiesingsbeampte, Mosotho Moepya het die inligting bekend gemaak nadat die finale kandidaatlyste bekend gemaak is. Volgens hom is 8 350 kandidate gediskwalifiseer, die meeste van hulle weens die nie-inhandiging van dokumentasie of nie-betaling van hulle deposito. Sowat 15% was nie geregistreer in die kiesafdelings waarin hulle wou staan nie.
  1. Die eienaar van ‘n gastehuis op Sodwanabaai is van haatspraak, onwettige handeldryf en ontduiking van belasting aangekla. Die NatalseLUR vir toerisme, Sihle Zikalala, het met sy hele gevolg op Sodwanabaai opgedaag en het by die plaaslike polisiestasie die aanklagte teen André Slade aanhangig gemaak. Volgens Zikalala bedryf Slade die gastehuis sonder die nodige lisensie en daar word vermoed dat hy sy belastingverpligtinge nie na behore nagekom het nie. Zikalala het ‘n vergadering met plaaslike besigheidseienaars en verteenwoordigers van die toerismebedryf gehou, en het beoog om die gastehuis te besoek. Die Menseregtekommissie ondersoek ook die saak nadat Slade onlangs in ‘n e-pos ‘n voornemende gas meegedeel het dat sy gastehuis nie meer swartmense en staatsamptenare akkommodeer nie. Die betrokke swart vrou het sy antwoord op sosiale media geplaas waar dit toe die verwagte reaksie ontlok het. Slade het ‘n radio-aanbieder meegedeel hy glo apartheid was gebaseer op die wette van Christenskap en net soos ‘n appelkoos en ‘n perske is ons nie dieselfde nie.
  1. Politieke partye in die parlement moet teen Vrydag hulle privaat skenkings openbaar maak ingevolge ‘n aansoek van die organisasie, My Vote Counts, op grond van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Die poging volg nadat die organisasie verlede jaar ’n hofsaak in die grondwetlike hof verloor het oor die privaat skenkings wat politieke partye ontvang. Die organisasie het op 31 Mei vanjaar op grond van die wetgewing gevra vir die finansiële inligting van elk van die 13 partye wat in die parlement verteenwoordiging het. Volgens ‘n koördineerder van My Vote Counts, Janine Ogle, sal regstappe geneem word indien die inligting nie ontvang word sodat dit aan kiesers oorgedra kan word nie. Volgens haar sal die inligting kiesers in staat stel om ‘n ingeligte besluit by die stembus te neem.
  1. Die skokkende stand van stedelike veiligheid in Suid-Afrika blyk uit ‘n pas vrygstelde verslag daaroor waarin misdaadpatrone en tendense duidelik na vore kom. Altesaam nege stede is vervat in die verslag vir 2016 wat deur SA Cities Netwerk en die Universiteit van Kaapstad se sentrum vir misdaad saamgestel is. Van hierdie stede het Kaapstad die hoogste moordkoers, Bloemfontein die hoogste voorkoms van seksuele aanranding en Pretoria die hoogste koers van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade te berokken. Johannesburg het die meeste huisrooftogte, kapings en diefstal van voertuie. In Port Elizabeth kom die meeste nie-residensiële rooftogte voor. Die moordkoers in Sentraal-Transvaal se drie stede, Johannesburg, Pretoria en Kempton Park is laer as die nasionale gemiddeld van 33 per 100 000. Kaapstad se moordkoers is 65 per 100 000 mense. Johannesburgers beleef die meeste angs van al die stede se inwoners om dit buite te waag weens misdaad. Ander stede soos Durban, Oos-Londen, Pietermaritzburg  en plekke aan die Oos-Rand, waaronder Kempton Park tel is hoegenaamd nie veilig nie. So byvoorbeeld is Oos-Londen tweede op die lys ten opsigte van seksuele oortredings en derde as dit by huisinbrake kom. Hierdie data is van 2005 – 2006 tot 2014 – 2015 bymekaar gemaak
  1. Salarisse en personeelkoste het die afgelope boekjaar munisipaliteite die meeste gekos, terwyl instandhouding baie laag op die prioriteitslys is. ‘n Yslike 25,6% is weggevreet deur salarisse en personeelkoste, terwyl instandhouding en herstelwerk van munisipale geriewe en toerusting soos waterpype en paaie slegs 5% toegedeel is. Munisipaliteite se personeelverwante koste het die afgelope vyf jaar met 44% gestyg. Die wanbalans het pas in Statistiek Suid-Afrika se finansiële sensusdata van al die land se munisipaliteite aan die lig gekom. Die totale bedryfsbegroting van hierdie munisipaliteite het van R264 miljard in 2014 tot R285 in 2015 toegeneem. Munisipaliteite se grootste bron van inkomste was in hierdie tydperk uit staatstoelae en nie uit geld wat hulle self ingevorder het nie.
  1. Die jong seun wat deur ‘n hiëna aangeval is, is steeds in die hoësorgeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg, waar hy onder verdowing gehou word. Hy maak egter goeie vordering en reageer op die dokters en verpleegsters in die eenheid. Vyf spesialiste het Erco (Boela) Janse van Rensburg (15 jaar) se gesig weer gerekonstrueer nadat hy ernstige gesigsbesering opgedoen het toe diehiëna hom gebyt het. Erco het saam met sy gesin by die Krokodilbrug-kamp in die Krugerwildtuin gekamp toe die dier hom sowat 30 meter uit sy tent gesleep het. Sy oom, Johan Janse van Rensburg het wakker geword weens ‘n harde geluid en het gaan ondersoek instel. Hy het op die dier afgestorm en geskreeu, waarna die hiëna Erco gelos het. Hy is aanvanklik na die Mediclinic op Nelspruit gehaas, maar is per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem. Hy sal nog verskeie chirurgiese operasies moet ondergaan om die skade wat aangerig is te herstel en word ook voorkomend teen hondsdolheid behandel. Hy het ernstige beserings aan sy oë asook die bene en weefsel in sy gesig opgedoen. Erco, sy ouers, Erno en Cashandra Janse van Rensburg, en sy twee susters, Zelia (16 jaar) en Kyla (11 jaar) woon in Irene, Pretoria.
  1. Navorsing toon dat ruim 60 miljoen kinders teen die jaar 2030 sal gesterf het aan verskeie oorsake wat met medikasie en behandelings vermy kon word.Die navorsing toon ook dat sowat 165 miljoen kinders in uiterste armoede sal grootword gedurende die volgende 15 jaar. Alhoewel die navorsing toon dat vooruitgang in talle lande ondervind sal word, is die vooruitsigte vir miljoene kinders as haglik beskryf. Die verslag toon dat die vooruitgang wel sal meebring dat kinders onder die ouderdom van vyf jaar veel minder is wat gaan sterf as gevolg van talle oorsake. Voorlopige aanduidings is dat die kinders wat te sterwe kom onder die ouderdom van vyf jaar, met sowat 45% sal verminder, teenoor die aantal wat in 1990 gesterf het. In Suid-Asië en in die Sub-Sahara gebiede van Afrika is die grootste armoede en ongelykheid, met die gevolg dat die armoede net ’n groter wordende probleem vir die streek word. In die Sub-Sahara sal nege uit elke tien kinders in die tydperk in uiterste armoede leef, terwyl dit tans twee uit elke drie is. Sowat 70 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf jaar, sal teen 2030 reeds te sterwe gekom het in die Sub-Sahara gebied Tussen 2016 en 2030 sal 124 miljoen kinders regoor die wêreld nie die geleentheid kry om primêre onderwys te ontvang nie. Van die kinders wat wel skool kan gaan, sal twee uit elke vyf leerlinge nooit leer hoe om te lees, te skryf of om eenvoudige rekenkundige somme te doen nie.
  1. Die polisie soek steeds na die moordenaars van die voormalige Springbok-tydrenkampioen en Olimpiese fietsryer, Jan Hettema. Die 83-jarige Hettema is gister op sy kleinhoewe in Boschkop buite Pretoria doodgeskiet. Sy vrou, Elsa het die aanval oorleef. Hettema was ‘n Suid-Afrikaanse kampioen-fietrsryer en het Suid-Afrika in 1956 by die Olimpiese Spele verteenwoordig. Sy dogter is die bekende sangeres en liedjieskrywer, Helena Hettema.
  2. Dertien verdagtes van Vuwani wat in hegtenis geneem is in verband met brandstigting en openbare geweld sal vandag in die Thohoyandou-landdroshof in Limpopo om borgtog aansoek doen. Twee gemeenskapsleiers is ook onder die beskuldigdes. Hulle word verdink van aanhitsing van geweld en saakbeskadiging. Die mans is in hegtenis geneem nadat geweld in Mei uitgebreek het en meer as 20 skole aan die brand gesteek is. Sommige inwoners van Vuwani is gekant teen die gebied se insluiting by ‘n nuwe munisipaliteit in die Vhembe-distrik.
  3. Twee mans sal binnekort in die hof verskyn nadat hulle aangekeer is omdat hulle motoriste probeer beroof het tydens protesoptrede op die N2 naby die Kaapstadse lughawe. Twee busse is aan die brand gesteek en protesgangers het verbygaande motoriste met klippe bestook. Die mans het motoriste probeer beroof wat moes stilhou toe die snelweg in albei rigtings vir verkeer gesluit is. Die onrus het blykbaar uitgebreek oor ontevredenheid met ‘n ANC-kandidaat vir die komende munisipale verkiesings.
  4. Die adjunk-minister van Justisie, John Jeffery sê Suid-Afrikaners sal hul houdings teenoor mekaar moet verander in die stryd teen rassisme. Hy het in Kaapstad gepraat tydens ‘n werkswinkel oor die Nasionale Plan om Rassisme en Xenofobie te bekamp. Jeffery sê wetgewing verander nie mense se wese nie. Hy sê Suid-Afrikaners kan nie verwag om verenig te word indien verskillende rasse en klasse afsonderlik woon en mekaar nie leer ken nie.
  5. ‘n Nasionale dag van rou word vandag in Turkye gehou ná die terreuraanval in Istanboel waarin 41 mense dood en 239 beseer is. Drie selfmoordbomaanvallers was verantwoordelik vir die aanval op die Ataturk-lughawe. Een-en-veertig van die beseerdes is steeds in ‘n ernstige toestand in die hospitaal. Die Turkse eerste minister, Binali Yildirim, wat vroeër die toneel besoek het, sê alles dui daarop dat die I.S.-terreurgroep vir die aanval verantwoordelik was. Niemand het egter nog aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar nie.
  6. Die Amerikaanse Republikeine se waarskynlike presidentskandidaat, Donald Trump het sy beroep vir streng maatreëls teen die Islamitiese Staat-groep herhaal en sê die gebruik van water om gevangenes te oorreed om geheime te verklap, moet weer ingestel word. Dit is ‘n ondervragingstegniek wat die ervaring van verdrinking simuleer. Trump het by `n saamtrek in Ohio gepraat slegs ure ná die terreuraanval in Turkye. Trump sê vuur moet met vuur beveg word. Die gebruik van water om gevangenes se samewerking te kry, is deur President Barcak Obama as marteling beskryf en Amerika het dit in 2006 verbied.
  7. SOKKERNUUS: Mamelodi Sundowns het in die Lucas Moripe-stadion in Atteridgeville gewys dat hulle met die beste spanne kan meeding deur die tweemalige wenners van die Kampionskapsliga, Enyimba van Nigerië met 2-1 te klop. Die span van Mamelodi was rustyd 1-0 voor. Dit was eintlik Sundowns se eerste wedstryd in die Kampioenskapsliga aangesien hulle ES Setiff onlangs met 2-0 geklop het, maar die Algeriese span is toe uit die liga geskop na probleme met hul ondersteuners.

 

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

 

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die sa Weer buro

Warmbad  – Mooi weer en  warm –  met ‘n min 26 max van 34

Nelspruit –  Mooi weer met ‘n  min van 5  en ‘n max van 26

Pretoria  – Mooi weer met ‘n  min van 8 en max van 22

Johannesburg – Mooi weer met ‘n min 6 en max van 21

Vereeniging – Mooi weer met ‘n  min 7 en max van 24

Bloemfontein – Mooi weer – met min 7 ‘n max van 19

Durban – Mooi weer met ‘n min van 14 en max van 29

Rustenburg –  Mooi weer met ‘n min 5  en max van 22

Oos London –  Mooi weer met ‘n min19 en max van 32

Kaapstad – Bewolk met ‘n min van 9 en max van 18 

Upington – Mooi weer met ‘n min van 12 en max van  25

Sutherland – Bewolk ‘n met min 1 max 17

PE – Mooi weer met ‘n min 16 en max van 29

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig

Indien jy ‘n program wil aanbied op SAUK Radio of jou besigheid wil adverteer kontak ons gerus.

ons epos adres nuus@ saukradio.com

Maak ook gerus gebruik van ons webwerf vir Volkseie besighede www.V.co.za plaas jou advertensie gratis daar

Skakel gerus in vir ons Uitsendings

 

Huidiglik:

 

Heerlike musiek 24/7

 

7vm weeksdae –  Nuus- en weer berig met Gottie Myburgh

1nm elke weeksdag –  Kinderprogramme & Bak en Proe  met Corrie

3nm weeksdae – Dit wat saak maak met Mariska Delene – binnekort weer terug op die lug

7nm  Maandag aande – Werk soek met Pieter  van Zyl

8nm Maandag aande  –  Bosoorlog met Corrie

9nm Maandag aande – Ons Lewende Erfenis met Pieter  van Zyl

9nm Dinsdag aande – Internasionale Top 20 met Pieter van Zyl

8nm Woensdag aande – Aktueel met Corrie

7nm Donderdag aande – Hoezit ‘n Lekker versoek program met Pieter van Zyl

7nm Vrydag aande – Pot Soek ‘n Deksel met Corrie

8nm Vrydag aande – Musiek Mandjie met DJ Uiltjie

7nm Sondag aande – Kontroversiële gesprek program oor die Boervolk met Theunis Cloete, Jan Diedriks en Willem de Ou man van Boervolk Radio

 

  • Wil U ‘n omroeper by SAUK Radio wees?
  • Het U ‘n program wat jy wil aanbied en paar ekstra rande verdien?
  • Wil jy plaaslike nuus vir jou gemeenskap aanbied op ‘n voorafbepaalde tydstip?
  • Wil jy opnames maak oor sake van belang vir die Volk?

Help ons om ons erfenis terug te neem!

Kontak ons by nuus @saukradio.com

Dit is nou sommer maklik om ook na SAUK Nuus radio te luister direk vanaf ons Faceboek blad of met Tunein – Tunein werk openige selfoon, tablet, android, rekenaar, skootrekenaar mits jy internet opvangs het enige plek enige tyd wêreldwyd laai die tunein applikasie af op jou selfoon en soek vir SAUK Radio






Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment