Donderdag 8 September

SAUK Radio Nuus berig vir Donderdag, 8 September 2016.

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet ens

NUUS

1) Zuma se ekonomiese telbord lyk baie swak, meen dr. Roelof Botha, onafhanklike ekonoom. Hy was ‘n spreker by TLU SA se kongres in Pretoria.

In ses jaar tyd het Suid-Afrika geweldig teruggesak volgens die Wêreld Ekonomiese Forum se aanwysers.  In terme van onnodige regeringspandering het die land met 60 punte teruggesak, sy produktiwiteit het 55 punte teruggesak, bevoordeling deur regeringsamptenare het 54 punte teruggesak, openbare vertroue in politici het 40 punte teruggesak, die kwaliteit van primêre onderrig het 29 punte teruggesak en die samewerking tussen arbeid en werkgewers het 16 punte teruggesak.

Daarvolgens reken dr. Botha dat Suid-Afrika steeds ‘n moontlike kredietafgradering in die gesig staar.

Nietemin is daar ten spyte daarvan aanduidings dat die private sektor dit regkry om die ekonomie op te lig. Verskeie aanwysers is baie positief. Kleinhandelverkope styg steeds, wat beteken dat daar meer mense met geld is wat dit spandeer. As daar egter ‘n beter en verantwoordelike regering sou kom, gebaseer op waardestelsels eerder as rassevoorkeure, behoort dit nog beter te kan gaan.

2) Mnr. Louis Meintjes is eenparig herkies as TLU SA se president op dié unie se kongres.

Mnr. Henry Geldenhuys is ook herkies as adjunk-president.

Thenis Kruger is herkies as voorsitter van Wes-Streek, Stephan Vermaak van Noord-Streek, Wannie Scribante in Sentraalstreek en Johan van Dyk in Oos-Streek.

Die voorsitters van die ander provinsies is reeds in private streekskonferensies aangewys. Hulle is mnre. Wollie Burger (Noord-Kaap), Bennie Liebenberg (Wes-Kaap), Herman de Wet (Natal), Hennie Naudé (Vrystaat) en mev. Louise Rossouw (Oos-Kaap).

Dit is dieselfde leiersgroep wat by die vorige kongres verkies is.

3) n Nuwe landbou-instituut, vry van studente-opstande. Dit is die toekomsvisie wat by TLU SA se kongres bekendgemaak is. TLU SA se Hoofbestuurder, het die sluier gelig oor die TLU SA Landbou-Instituut, in samewerking met die Afrikaanse Protestante Akademie.

Tans is ‘n waarnemende hoof, mnr. Hannes de Villiers, aangestel wat besig is om die formele akkreditasie van die leerplanne te finaliseer en daar word gepoog om met onderrig te begin aan die begin van 2018. “Byna elke dag sien ons op die nuus van studente wat kampusse afbrand. Ons wil wegkom daarvan,” het mnr. Van Zyl gesê.  “Ons wil graag hê dat daar jongmanne is wat by ons kan oorneem om die landbouwa vorentoe te vat.”

Die teoretiese deel van die onderrig sal by wyse van afstandonderrig geskied, maar daar sal besondere aandag gegee word aan praktiese opleiding. Heelwat boere het reeds na vore gekom om hulp aan te bied in die opsig. Die projek word self gefinansier, en mnr. Van Zyl het ‘n beroep gedoen op mense wat ‘n belegging in die instituut te maak, om na vore te kom.

4) Sedert 1994 is ons blootgestel en in wese geteister deur ‘n ongeëwenaarde propaganda-aanslag om ‘n afgodediens en bygeloof te skep dat die Grondwet as gewaarborgde instelling beskou kan word. So het prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria se Regsfakulteit, gesê het by TLU SA se kongres in Pretoria, toe hy gepraat het oor die “ongewaarborgde regte van die gewaarborgde Grondwetlike waarborge.”  Sy standpunt is dat die regte in die Grondwet nie na behore gewaarborg word nie.

Hy sê regte spreek nooit vanself nie, maar word vertolk deur staatsinstellings, selfs buite die howe. As gevolg van hulle vertolking, kry grondwetlike stellings ‘n soms skokkende ander betekenis. Die betekenisse kan selfs soms verander, al bly die bewoording dieselfde. Die interpreteerders van die grondwet is inderwaarheid meer oppermagtig as die bewoording van die grondwet self. Die grondwet word egter in Suid-Afrika as ‘n transformatiewe dokument beskryf, om op ‘n langtermyn ‘n verandering te laat plaasvind, veral op ekonomiese terrein.

By alle regte is daar botsende strominge. Oor elke grondwet of handves van regte, is daar wêreldwyd ideologiese verskille. Die strominge en verskille word dan toegesmeer. In die Suid-Afrikaanse Grondwet, is daar ‘n aantal teenstrydighede. Aan die een kant is daar ‘n vryemarkstroming, en aan die ander kant ‘n herstellende sosialisme of gelykheidstroming. Beide is in dieselfde dokument vervat.

Dieselfde ideologiese stryd kom voor oor eiendomsreg. Aan die een kant blyk daar ‘n sterk verbintenis te wees tot privaat besitreg, wat gerusstellend is. Daarteenoor is daar ‘n rits ander dinge wat ‘n teenoorgestelde stroming verteenwoordig. So het die Grondwetlike Hof in die Minerale Regte-saak van Agri SA erken dat die Grondwet spanning veroorsaak tussen die wat het en die wat nie het nie. Die Grondwet se opskrif oor eiendom in die Grondwet is dus foutief. Daar word ‘n ongemaklike verskil gemaak tussen onteiening en ontneming. “Dit is ‘n slenterslag, want eiendom kan ontneem word van die eienaar, en gaan nie na die staat of iemand anders nie, maar vestig net tydelik in die staat. Daarom is vergoeding dan nie nodig nie, en dit verteenwoordig die sosialistiese stroming in die Grondwet,” sê prof. Malan. Verder verbind die Grondwet die nasie tot grondhervorming, en dit sluit almal in, want almal is lid van die nasie. Art. 25 (6) tot (9) handel oor die regstellende aksie van ekonomiese bates, en dit gaan nie net oor eiendom nie.

Prof. Malan het ‘n aantal aksies voorgestel wat nou gedoen behoort te word. Ons moenie toelaat dat ‘n klein klompie geweldenaars en ekstremiste ons inlei dat ons meedoen aan slegte rassebetrekkinge nie. ‘n Individu is swak. Instellings is sterk. “U moet aan TLU SA behoort as u ‘n landbouer is.” Instellings is op sigself nog swak, daarom moet daar met ander instellings saamgewerk word. Die ekonomiese druk wat landbou beleef, word deur ander ook so beleef. Alle instellings wat by die ekonomie betrokke is, moet hande vat.

Daar moet in ag geneem word TLU SA noodwendig ‘n bepaalde kulturele element verteenwoordig.  “Ons praat Afrikaans, en ek is ‘n Afrikaner. Ek doen respekvol aan die hand dat u ook Afrikaners is.”  Daarom sal samewerking met ander Afrikanerinstellings mekaar se energie vermeerder.  Die regering is toenemend internasionaal in ‘n slegte posisie, en kan maklik in ‘n slegte lig gestel word deur internasionale aksies. “Ons verkeer in ‘n moeilike situasie, en dit kan nog moeiliker word met verhewigde aanslae.   Daar sal ‘n aanslag op eiendomsreg wees. Ons moet soveel as moontlik ons ekonomiese bates beskerm, en dit is beskermenswaardig.  Vir die lang termyn moet ons kyk waar ons dalk geografies kan konsentreer, want dit sal al hoe belangriker word.  Afrikaners het al ernstige krisisse beleef, en tog te bowe gekom. Dit kan weer gebeur,” meen prof. Malan.

5) Suid-Afrikaanse boere is baie gewild in Afrika, en daar is reeds sowat 3 000 Suid-Afrikaanse boere elders op die Afrika-kontinent.  Tog bly eiendomsekerheid ‘n probleem. Daar is net 4 lande waar private besitreg geld, en dit is Suid-Afrika, Namibië en sekere dele van Botswana en Zambië. “Afrika sal rykdom kan ontsluit as daar sekerheid van eiendomsreg gegee kan word. ”So het dr. Theo de Jager Agri All Africa gesê by TLU SA se kongres in Pretoria.

Hy het daarop gewys dat Afrika enorme geleenthede bied, maar dat dit nie benut word nie. Daar is 5 ekonomiese blokke op die kontinent. Net een maak aanspraak op voedselsekerheid. Afrika het die 2de meeste mense ter wêreld, maar het 46% van onderbenutte grond is in Afrika, terwyl Afrika die beste landbouklimaat in die wêreld het. Daar is ongeveer 3 000 Afrikaanse boere elders in Afrika. Hulle Suid-Afrikaanse plase is op as sekuriteit vir hulle finansiering. “Geen bank ter wêreld sal finansiering gee as hulle nie seker is dat hulle die skuld op ‘n manier gaan terugkry nie.” Daar is risiko-elemente wat met politieke besluite verband hou.  Suid-Afrika het die meeste van sy bilaterale ekonomiese ooreenkomste verbreek, nie net met Europa en Amerika nie, maar ook in Afrika.

Afrika is onderontwikkel in terme van infrastruktuur.  “Die grootste belegging vir landbou sou wees ‘n treinspoor van Kaapstad tot Alexandrië, met ‘n visgraad-model.” Beleidfaktore in Afrika maak boerdery egter moeilik, soos korrupsie, swak bestuur en beheer soos informele padblokkades en tolhekke.  Daar is weinig wetgewing oor beheer, wat enersyds voordelig is, maar die staatsinstellings is daarom ook net so moeilik beheerbaar.

Baie lande het langtermyn huurkontrakte. Die Suid-Afrikaanse regering praat ook in daardie rigting, en probeer dit voorhou as goeie sekuriteit. Maar namate die kontrak vorder, word finansiering steeds moeiliker. Maar met langtermynhuurkontrakte word daar nie in ‘n plaas belê soos wanneer dit ‘n boer se eie grond is nie. Tog reken dr. De Jager dat landbou in Afrika winsgewend is, want dis dollar-gedrewe. Suid-Afrikaanse boere is by verre die mees suksesvol is Afrika en rassisme bestaan nie in Afrika anderkant die Zambezi-rivier nie.  Afrika aanvaar Afrikaners as deel van hulle.

6) TLU SA bemark en regverdig nie die regeringsbeleid aan die boere nie. TLU SA fokus op die belange van die boere. So het die President van TLU SA, mnr. Louis Meintjes, gesê in sy Presidentsrede tydens dié unie se jaarkongres wat tans in Pretoria plaasvind.

Hy het gesê TLU SA is  nie polities korrek nie. TLU SA is ekonomies korrek, en dit veroorsaak dat hy nie altyd so gewild is nie.  Die ANC sal met sy uitsprake voorspoed van die hele land ontneem. “Ek kan nie met die ANC praat oor sy beleid en planne, as ek nie oor my planne en beleid kan praat nie. Die marginale landbouland moet met die regte beginsels optimaal benut word. Alle insette moet getoets word aan volhoubaarheid en gerig op ekonomiese groei”, sê mnr. Meintjes. Daar moet opgehou word om grond as politieke instrument te gebruik om stemvee te mobiliseer.  “Grond is nie rykdom nie. Hoe jy jou kennis aanwend en benut, skep rykdom. Die sleutel daartoe is dan ook ‘n florerende groeiende ekonomie. Landbou is ‘n ekonomiese proses, en die vryemarkbeginsel bepaal wie is goeie en suksesvolle boere. Kommersiële boere moet onbevange kan produseer vir die 67% verstedelikte bevolking.” Mnr. Meintjes sê swart ekonomiese bemagtiging ( SEB) is nie volhoubaar nie. “SEED is wel: ‘Sustainable Environmental Economic Development.’  Ons moet die saad saai dat die ekonomie kan groei.” Vereistes vir stabiliteit en groei, is beleidsekerheid, ekonomiese groei sonder korrupsie, vryemark ekonomie, privaat besitreg en voedsel op die tafel as deel van voedselsekerheid. Mnr. Meintjes het ‘n nuwe vennootskap van rolspelers in die landbou bepleit.  “TLU SA kan nie wag vir nuwe wetgewing en uitsprake wat die land afwaarts druk nie. Ons moet saamwerk na die kruin van die land in plaas van die moeras waarheen dit nou beweeg.  Verskillende rolspelers in die landbou-omgewing moet kyk na ‘n nuwe vennootskap, waarin elkeen se rol uiteengesit word. Die rolspelers moet hulle verbind om ‘n politieke gerigtheid te vervang met ‘n ekonomiese gerigtheid.”

7) Studente van die Universiteit van KwaZulu-Natal, het weer eens die geweldspad geneem en een van die oudste koshuise op die kampus afgebrand. Skynbaar is ‘n matras in die koshuis aan die brand gesteek. Sowat 60 gestremde studente was ook daar en hulle moes inderhaas gehelp word om in veiligheid te kom. Die aanleiding daartoe was weer die onbillike eis dat studente gratis onderrig moet kry. Vroeër het studente van die Universiteit van Kaapstad die openbare verhoor van die kommissie wat klasgelde moet ondersoek, ontwrig.  Hulle het die vise-kanselier, Max Price, ook ‘n tyd lank gyselaar te hou, totdat hy uiteindelik deur die polisie begelei is na veiligheid. Die Natalse universiteit het intussen sy klasse gestaak en die Septembervakansie vervroeg.

8) Basiese onderwys in Suid-Afrika is in ‘n  krisis en daardeur sê ek nie dat daar nie programme moet wees wat spesifiek gerig is op arm kinders en gesinne om te verseker dat die werking van onderwys verbeter nie, het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-voorsitter van die VF Plus, gesê.

Dr. Groenewald het tydens die debat in die parlement oor die programme vir arm kinders om basiese onderwys te verbeter gesê dat daar genoeg geld van die belastingbetaler beskikbaar is om te verseker dat elke kind in Suid-Afrika basiese onderrig behoort en te kan ontvang. “En dan vra ek myself die vraag af hoekom daar soveel skoolkinders gedurende skooltyd nie by die skool is nie, maar buite rondloop. Ons kan hoeveel geld in programme instoot om te sê kinders moet by die skole wees, maar dit gaan hier ook oor ‘n  opvoedingstaak.

“’n Opvoedingstaak wat begin by die ouers, by die gemeenskap. Want daar is dalk te veel ouers wat reken dat die opvoedingstaak berus by die skool en by die onderwysers. Daarom is my pleidooi ons moet begin fokus op die werklike probleme van basiese onderwys. En die werklike ander probleem is die gehalte van onderwys. Statistiek wys op die einde van die dag daar is bitter min kinders wat deur universiteitsvlak gaan om hul kwalifikasies te verkry om sodoende ‘n bydra te lewer tot die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“En dit is ook hoekom dit met die ekonomie gaan soos wat dit gaan omdat ons mense kry wat sê hulle is gekwalifiseerd om ‘n  werk te kan doen, maar werkgewers ervaar in die praktyk iets anders. Daar moet indringend gekyk word na die gehalte van basiese onderrig. “As ons praat oor die kinders moet ons vir onsself afvra wat is die skoolbywoning van die onderwysers? Hoeveel tyd spandeer hulle in die klaskamers, hoeveel werk doen hulle wat hulle veronderstel is om te doen in die klaskamer of is dit ‘n  gerieflike verskoning om ons kinders te oorlaai met huiswerk omdat van die onderwysers nie hulle werk doen nie. En daar is uitstekende onderwysers en skoolhoofde in SA maar in hierdie debat en in hierdie parlement sal daar indringend aandag gegee moet word aan die gehalte en die optrede van onderwysers.

9) Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, sê die Tesourie evalueer op die oomblik die inligting wat hy ‘n tyd gelede van Eskom aangevra het oor sy sakebelange met die Guptabeheerde maatskappy Oakbay Investments. Gordhan het in die Nasionale Vergadering bevestig dat die Minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, Eskom wel aangesê het om die nodige dokumente as deel van sy grondwetlike voldoening aan die Tesourie beskikbaar te stel. Dit volg na ‘n openbare geskil tussen Eskom en die Tesourie toe dit aan die lig gekom het dat die kragverskaffer nie sy plig nagekom het nie.

10) Die Minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane, het versoeke verwerp dat hy moet bedank. Zwane het vroeër gesê die kabinet sal ‘n regterlike kommissie van ondersoek aanstel na die beëindiging van verhoudings deur sekere banke met ‘n Guptamaatskappy. Zwane sê die kwessie van sy verklaring is nou by die kabinet. Lede van die opposisie het Zwane oor die kole gehaal oor sy verklaring oor die ondersoek na die banke. Die Presidensie het hom later van die verklaring gedistansieer en gesê hy het dit in sy persoonlike hoedanigheid uitgereik. Die DA LP, David Maynier, wat die vraag ingedien het, het die Minister se kop geëis.

11) President Jacob Zuma het sy besoek aan Sjina afgesluit. Hy het eers die G20 beraad in Hangzhou bygewoon, en later by Afrika-leiers in die Guangdong-provinsie aangesluit vir ‘n forum oor belegging in Afrika. Sjina se staatsbeheerde Kommunikasie en Konstruksie-maatskappy het by die forum ‘n samewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse passasierspooragentskap, Prasa onderteken om die Moloto-spoorontwikkelingskorridor te bou. Die treinroete sal dien as alternatief vir die berugte Moloto-pad in die ooste van Pretoria.

12) Die watervlak van die Oranjerivier het die afgelope paar maande met sowat een-komma-agt persent gedaal. Die Departement van Water en Sanitasie het nou selfs nog strenger beperkings op watergebruik uit die rivier ingestel. Die Nasionale woordvoerder van die Departement, Sputnik Ratau, sê die beperkings wat ingestel is, is 15 persent vir besproeiingsboere en tien persent vir nywerheids-en huishoudelike gebruik. Ratau sê munisipaliteite sal nou moet toesien dat almal hulle hou by die beperkings. Indien dit nie gebeur nie, sal die land hom later in ‘n situasie bevind waar damvlakke so laag is dat geen water meer onttrek sal kan word nie.

13) Die DA sê die hertel van stemme vir wyk 5 op Plettenbergbaai in die Suid-Kaap is in Kaapstad aan die gang. Die Verkiesingshof het ten gunste van die DA beslis vir ‘n hertelling nadat die party ‘n dispuut na die plaaslike verkiesing verklaar het. Die DA en die ANC het elk se setels van die 13 op die raad gekry. Die Active United Front het die hef in die hand gehad met sy een setel en hy het saam met die ANC ‘n koalisie gevorm. Die DA sê hy het 48-komma-vyf persent van die stemme gekry teenoor die ANC se 40 persent, en moes dus eintlik sewe setels gekry het.

14) Die Appèlhof in Bloemfontein het gehoor dat die gebruik van ‘n seinblokkeerder tydens die 2015 Staatsrede ‘n fout was. Die ministerie van Staatsveiligheid se regsverteenwoordiger, Francois van Zyl, het aangevoer dat die seinblokkeerder nooit bedoel was om die verrigtinge te ontwrig nie, maar om die hoogwaardigheidsbekleërs buite die Parlement te beskerm. Mediahuise, die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, en andere betwis die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof, wat die Parlement kwytgeskeld het van die seinblokkeervoorval en die sny van die uitsaaivoer tydens die gewelddadige verwydering van LP’s van die EFF. Van Zyl het toegegee dat die Staatsveiligheidsagentskap ook nie die Speaker se toestemming gehad het soos wat die wet vereis om die toestel in te bring nie.

15) ‘n Unieke enkele kaart om toegang tot meer as 50 toeriste-aantreklikhede in Kaapstad te versnel, is in die Moederstad bekendgestel. Die kaart kom met inligting oor besigtigingstoere, gratis toegang tot museums en eetplekke. Dit kos 125 rand vir die dag en gee gratis toegang aan besoekers tot meer as 50 toeriste-aantreklikhede. Die stigter van die Kaapstadkaart, Marnus van Niekerk, sê hy wil besigtiging meer gerieflik maak. Van Niekerk sê in plaas daarvan om in ‘n tou te staan, of kaartjies vir verskeie besienswaardighede op tien verskillende plekke te koop, of 50 webwerwe te besoek, kan besoekers na slegs een webwerf gaan en al die inligting oor al die besienswaardighede kry. Met die digitale kaart kry besoekers dan toegang tot al die plekke.

16) Die Dierebeskermingsvereniging sê daar is ‘n kommerwekkende toename in donkies wat gesteel word vir hulle velle. Daar is volgens berigte groot aanvraag vir donkievelle en -vleis in Asië, waar dit vir mediese doeleindes gebruik word. Die DBV raam dat meer as honderd donkies die afgelope drie maande in Noordwes en die Noord-Kaap gesteel is. Sjinese burgers is vroeër in Makau en Jericho naby Brits met donkievelle betrap, nadat 43 donkies in dieselfde gebied gesteel is.

17) President Jacob Zuma se neef, Khulubuse Zuma moet 23 miljoen rand skadevergoeding betaal aan die likwidateurs van die Aurora-mynmaatskappy. Die hof het verlede jaar bevind dat Zuma en ander direkteure die maatskappy se bates gestroop en duisende mense werkloos en haweloos gelaat het. Die vakbond Solidariteit het in ‘n verklaring bekendgemaak dat Zuma ingestem het om 23 miljoen rand as skikkingsbedrag te betaal. Die ooreenkoms is deur die hooggeregshof ‘n bevel van die hof gemaak. Zuma het volgens die verklaring reeds die eerste vyf miljoen rand betaal vir die regskoste van die likwidateurs.

18) ’n Teenmiddel wat die sigbare tekens van Alzheimer feitlik geheel en al kan uitwis, is deur wetenskaplikes ontdek, en het die mediese wêreld letterlik aan die gons oor die deurbraak. Navorsers het die brein van verskeie mense wat reeds met die siektetoestand gepla is, begin behandel met die teenmiddel.

Pasiënte in die ouderdom tot 100 jaar wat tekens van die toestand getoon het, is suksesvol behandel ’n Jaar na die behandeling was feitlik al die “toksiese proteïen plaak” wat opgebou het wat Alzheimer veroorsaak, totaal weg van die pasiënt se brein indien hulle die maksimum moontlike dosis toegedien is.

Die wetenskaplikes sê in ’n verklaring die nuus is feitlik te goed om waar te wees, maar erken ook dat die plaak wat vorm, klaarblyklik net gedeeltelik verantwoordelik is vir die Alzheimer by die pasiënt. Die lewenstyl van mense het ook ’n rol te speel, soos om geen oefeninge te doen nie en totaal onaktief te word.

Siektetoestande soos diabete en hoë bloeddruk word ook beskou as moontlike bydraende oorsake. Wetenskaplikes meen die teenmiddel kan moontlik as voorkomende behandeling toegedien word by mense in ’n bepaalde ouderdomsgroep of by diegene wat die eerste tekens daarvan toon.

Die middel is in drie verskillende kategorieë van pasiënte gebruik, en die groep wat die maksimum dosis gekry het, se plaak was feitlik geheel en al verwyder uit die brein. Dr James Pickett, hoof van die Alzheimer Vereniging sê die middel en die verslag wat opgestel is, is die mees omvattende en suksesvolste in resultate wat tot nou toe gelewer is, en beteken dat die stryd teen die siekte tot ’n mate oorwin word.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Geeeltelik Bewolk Met Ligte Reen –  met ‘n min 27 max van 35

Nelspruit –  Mooi Weer – met ‘n  min van 12 en ‘n max van 32

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 15 en max van 33

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 14 en max van 29

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 15 en max van 31

Bloemfontein –Gedeeltelik Bewolk- met min 13 ‘n max van 31

Durban – Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min van 18 en max van 26

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 33

Oos Londen – Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min 16 en max van 28

Kaapstad –Gedeeltelik Bewolk Met ligte Reen –met  min van 11 en max van 19

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 11 en max van 28

Sutherland –Gedeeltelik Bewolk met Ligte Reen met Minus 2 en max 14

PE- Mooi Weer – met ‘n min 14 en max van 26

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig 

Ons Neem Ons Erfenis Terug. Stuur nuus aan nuus@saukradio.com

RAAK BETROKKE: Het U iets om te sê? Ons nooi graag omroepers en mense om betrokke te raak, selfs anoniem. Die platform is daar vir ons volk om te gebruik en is nie vir ons eie wins of roem nie.

Wil U op ons Nuus berigte of programme adverteer of borg? Ons sal die radio en webwerf advertensies vir U maak. Kontak ons by nuus@sauk.co.za

Indien jy ‘n program wil aanbied op SAUK Radio of jou besigheid wil adverteer kontak ons gerus. ons epos adres nuus@saukradio.com

Maak ook gerus gebruik van ons webwerf vir Volkseie besighede www.V.co.za plaas jou advertensie gratis daar.

Die radio is daar vir ons mense om as platvorm te gebruik met geen winsbejag of roem vir die omroepers nie maar ons het fondse nodig om die stasie te bedryf. Indien jy ‘n program wil borg Kontak ons asb by nuus@saukradio.com

Skakel gerus in vir ons Uitsendings

       KRAG VIR DIE DIE DAG

Jesaja 64:8 – “Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.”

Psalms 138:8 – “Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!”

Pieter Coffee & Friends se “Like the clay”

Huidiglik:

Heerlike musiek 24/7

 7vm weeksdae –  Nuus- en weer berig met Gottie Myburgh

10vm elke weeksdag – Gooi Mielies met Jaco Viljoen

1nm elke weeksdag –  Kinderprogramme & Bak en Proe  met Corrie

7nm  Maandag aande – Werk soek met Pieter  van Zyl

8nm Maandag aande  –  Bosoorlog met Corrie

9nm Maandag aande – Ons Lewende Erfenis met Pieter  van Zyl

7nm Dinsdag aande  –  SAUK RADIO Top 20 met Pieter van Zyl

7nm Woensdag aande – Geskiedenis met Gottie Myburgh

8nm Woensdag aande – Aktueel met Jaco Viljoen

7nm Donderdag aande – Hoezit ‘n Lekker versoek program met Pieter van Zyl

7nm Vrydag aande – Pot Soek ‘n Deksel met Corrie

8nm Vrydag aande – Musiek Mandjie met DJ Uiltjie

10:00nm tot Middernag elke aand musiek vermaak  en nog meer

Saterdagmiddag Sport program  en musiek met Gottie Myburgh en na die sport program n lekker Boeremusiek aand ook met Gottie Myburgh.

7nm Sondag aande – Kontroversiële gesprek program oor die Boervolk met Theunis Cloete, Jan Diedriks en Willem de Ou man van Boervolk Radio

  • Wil U ‘n omroeper by SAUK Radio wees?
  • Het U ‘n program wat jy wil aanbied en paar ekstra rande verdien?
  • Wil jy plaaslike nuus vir jou gemeenskap aanbied op ‘n voorafbepaalde tydstip?
  • Wil jy opnames maak oor sake van belang vir die Volk?

Help ons om ons erfenis terug te neem!

Kontak ons by nuus@saukradio.com

Dit is nou sommer maklik om ook na SAUK Nuus radio te luister direk vanaf ons Faceboek blad of met Tunein – Tunein werk openige selfoon, tablet, android, rekenaar, skootrekenaar mits jy internet opvangs het enige plek enige tyd wêreldwyd laai die tunein applikasie af op jou selfoon en soek vir SAUK Radio, Jy kan ook op jou selfoon Browser direk na die inskakel bladsy gaan met www.sauk.mobi.


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment