Maandag 17 Oktober

Goeie dag en hartlik welkom by SAUK Radio, my naam is Don en hier is die nuus vir 17 Oktober 2016.

As jy jou besigheid wil adverteer en ons nuus berigte borg, stuur asb. ‘n epos aan nuus@saukradio.com

Luister hier:


# Menslike ontlasting is vanoggend gegooi in ‘n gebou op die kampus van die Universiteit Kaapstad nadat lesings hervat het. Die polisie het betogers met rubberkoeëls uiteen gedryf. Visekanselier Max Price het vroeër gewaarsku dat die hele akademiese jaar sal verlore gaan as klasse nie vandag hervat nie. Hy sê Suid-Afrika is besig om ‘n punt te bereik waar daar nie meer omdraaikans gaan wees nie.

By die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg het betogers ‘n koshuis beset nadat hulle vroeër strate in Parktown verper het. Betogers het ook by die landdroshof in Hillbrow betoog waar die borgtogaansoek van een van hulle leiers, tot môre uitgestel is. Hy is die naweek in hegtenis geneem nadat hy na bewering ‘n polisielid aangerand het. Dlamini sal môre toegelaat word om ‘n toets te skryf, vergesel van die polisie.
Die Guptas het Finansminister Pravin Gordhan se bewerings ontken oor 6,8 miljard Rand se verdagte transaksies in die omstrede familie se bankrekeninge. Gordhan het in hofstukke besonderhede verskaf van die transaksies wat glo die rede was waarom Suid-Afrika se voorste banke hulle bande met die familie verbreek het. Ajay Gupta het aan Media24 gesê sy familie en hulle ondernemings is nie betrokke by twyfelagtige transaksies nie.

Die leier van die Demokratiese Alliansie, Mmusi Maimane, sê president Jacob Zuma se verwydering sal ‘n einde aan staatskaping beteken. Hy het landsburgers gevra om saam te staan en die oproep vir sy verwydering te steun. Maimane het op ‘n nuuskonferensie in Johannesburg onthul dat die DA ‘n mosie gaan indien om die Parlement te vra om die Nasionale Tesourie se stryd teen korrupsie en staatskaping te steun:

Speel klankgreep: Maimane State Capture
Maimane het oor die landwye studentebetogings gesê die sluiting van universiteite sal erge gevolge inhou vir Suid-Afrika se ekonomie:

Speel klankgreep: Maimane Universities

Die Ekonomiese Vryheidsvegters se onderleier, Floyd Shivambu, meen egter Suid-Afrika moet tot stilstand kom tot almal gratis onderrig kan kry. Hy sê dit is ‘n kritieke deel van die stryd om ekonomiese vryheid. Shivambu sê die EVV sal voortgaan om regsondersteuning en logistieke steun aan studente te verleen.

# Die nuwe Openbare Beskermer, Busiswe Mkhwebane, gaan na verwagting vandag haar voorganger se verslag oor staatskaping van die Parlement ontvang. Thuli Madonsela sou die verslag Vrydag bekend maak, maar twee aansoeke om interdikte het dit verhoed en sy het toe die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, gevra om dit in veilige bewaring te neem. Mkhwebane het die land die verskering gegee dat sy voorkeur sal gee aan die ondersoek na staatskaping.

# Vyf beskuldigdes in die moord op ‘n Noord-Kaapse stadsraadslid van die Demokratiese Alliansie verskyn vandag op Postmasburg in die hof. Johannes Baatjies en sy sakevennoot is in Augustus in die omgewing doodgeskiet. Die DA se provinsiale leier, Andrew Louw, glo die moord het ‘n politieke motief gehad.

# Die Kaapstadse polisie is op die spoor van vier mans na die moord op ‘n 58-jarige man op ‘n plaas by Atlantis aan die Weskus. Die slagoffer se vrou en nog ‘n man is beseer in die aanval. Die moordenaars het met huishoudelike items gevlug.

# ‘n Gestremde agjarige meisie het vanoggend in ‘n bad verdrink in ‘n woonstel in Johannesburg. Athlende Mathe van die nooddiens Netcare 911 sê die polisie ondersoek die kind se dood:

Speel klankgreep:  Disabled

Nuusflitse uit die Buiteland:

Duitse ekonomie

Die minister van ekonomiese sake in Duitsland wil maatreëls in werking stel om te voorkom dat Duitse maatskappye deur ander oorgeneem word wat in die buiteland is, veral omdat Sjinese daarop ingestel is om kundigheid so te bekom.

Berlyn

’n Verdagte terroris, afkomstig uit Sirië, is in ’n tronk dood terwyl hy in aanhouding was, en die Duitse polisie beweer die man het selfmoord gepleeg met behulp van sy T-hemp.

Duitsland

Kanselier Merkel het die Duitse administrasie gekritiseer vir die stadige deportasie van onwettige immigrante wie se aansoeke om asiel nie geslaag het nie, maar waarnemers meen dit is haar poging om weer verlore steun te herwin.

VSA

’n Amerikaanse oorlogskip wat in die Rooi See is, het verskeie missielaanvalle oorleef wat deur terroriste afgevuur is.

VSA Verkiesing

Donald Trump het aanbeveel dat Hillary Clinton ondersoek word vir die moontlikheid van dwelmmisbruik gedurende die verkiesingsveldtog.

Lugrederye in Europa, Asië en Australië het Samsung se Galaxy Note 7-slimfoon ook op hulle lyste van verbode items geplaas nadat Amerika dit die naweek op alle vlugte verbied het. Die Suid-Koreaanse maatskappy het reeds produksie van die selfoon gestaak. Meer as 2,5 miljoen daarvan is verlede maand onttrek na klagtes van batterye wat ontplof.

# Dokters verwag dat die Leeus se Springbokstut, Julian Redelinghuys, ten volle sal herstel nadat hy gister ‘n nekoperasie ondergaan het. Dit is egter onseker of hy weer sal kan speel. Die Leeus se spandokter, Rob Collins, sê die 27-jarige Redelinghuys sterk in ‘n hospitaal in Bloemfontein aan. Hy is eergister beseer in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Vrystaatse Cheetahs, wat die tuisspan 55-17 gewen het.

# Tennis: Die wêreld se tweede beste vrouespeler, Serena Williams, het onttrek aan volgende week se jaareindtoernooi in Singapoer. Die 35-jarige Amerikaner, wat 22 grand slam-titels op haar kerfstok het, sê haar dokter het haar aangeraai om haar skouerbesering genoeg tyd te gee om te genees voor die nuwe seisoen begin. Willaims het in September laas gespeel toe sy die halfeindronde van die Amerikaanse Ope gehaal het.

# Krieket: Die Australiese draaibouler Nathan Lyon glo sy span het die gehalte en geestelike krag om sake om te keer in die toetsreeks teen Suid-Afrika wat vroeg volgende maand in Perth begin. Die Proteas het die Aussies pas 5-0 verslaan in ‘n eendagreeks in Suid-Afrika. Lyon sê die Proteas is ‘n baie goeie span met wêreldklas supersterre, maar Australië sal net daarop fokus om goed te speel.

Krieket: Die Wes-Indiese Eilande het steeds ‘n wenkans in die eerste toets teen Pakistan in Doebai. Die span moet op die laaste dag 251 lopies aanteken met ag paaltjies staande. Die Windies het teruggeveg na Pakistan se reuse eerstebeurttelling van 579. Hulle het eers 357 aangeteken en die gasheer toe in sy tweede beurt vir net 123 uitgeboul danksy ag paaltjies deur die draaibouler Devendar Bishoo.
En geldsake: Die Rand verhandel teen 14 Rand-29 sent teen die dollar, 15 Rand-71 sent teen die euro en 17 Rand-36 sent teen die pond. Goud verkoop vir duisend-254 dollar-80 sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 52 dollar-16 sent per vat.

Dit is die einde van die SAUK Radio Nuus berig. Indien U die nuus wil borg en jou besigheid se naam hier wil hoor, elke uur deur die dag weeksdae, kontak ons op nuus@saukradio.com.
Stuur ook asb. enige nuus berigte of artikels aan nuus@sauk.co.za


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment