Maandag 19September

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir Maandag, 19 September 2016.

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet ens

1)Die Universiteit van Kaapstad het aangekondig dat alle lesings en toetse vandag opgeskort is. Die universiteit sê in ‘n verklaring die besluit is geneem nadat verskeie rolspelers geraadpleeg is. Studente het verlede week betoog teen ‘n tugverhoor waar drie studente aangekla is van brandstigting en openbare geweld in verband met protesoptrede vroeër vanjaar. Die universiteit sê studente in die gesondheidfakulteit wat in hospitale en klinieke gebaseer is, moet steeds vandag hulle pligte nakom. Hoewel akademiese bedrywighede opgeskort is, is die universiteit steeds oop en personeel word gevra om steeds vir werk aan te meld.

2)Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die aanval op nog ‘n skool in Malalulele in Limpopo veroordeel. Sy sê die vernietiging van infrastruktuur ondermyn die vordering wat in skole gemaak word. Die skool in die Mukhomi woongebied is vroeg gisteroggend aan die brand gesteek. Drie klaskamers en die personeelkamer is vernietig. Motshekga het na afloop van ‘n vergadering van die Raad van Onderwysministers in Pretoria gesê merkwaardige vordering is gemaak om skoolinfrastruktuur regoor die land te verbeter. Sedert die begin van die inisiatief om skole op te gradeer is die infrastruktuur by meer as 170 van 510 geoormerkte skole op standaard gebring. Minstens 24 skole is egter weens inwoners se ontevredenheid oor munisipale grense in die Vuwani-gebied vernietig.

3)Kwessies rakende watersekerheid in die lig van die voortslepende droogte was hoog op die agenda tydens vanjaar se Agri Mega Week op Bredasdorp in die Overberg. Die jaarlikse geleentheid, wat die naweek tot ‘n einde gekom het, fokus hoofsaaklik op landboubesigheid. Agt provinsies is as droogterampgebiede verklaar. Mandlankosi Msibi van die Waternavorsingskommissie meen die droogte is te wyte aan klimaatsverandering. Hy sê hulle werk nou met boere saam om nuwe maniere te vind om minder water te gebruik.

4)President Jacob Zuma en sy afvaardiging van sewe ministers het intussen in New York aangekom vir die 71ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Besprekings oor veiligheid in Afrika en Suid-Afrika as beleggingsbestemming is op die agenda. Die president spreek môre die Algemene Vergadering toe en Woensdag sal hy die Amerika-Afrika-sakeforum bywoon. Die Siriese oorlog, vlugtelingskwessies en klimaatsverandering is op die VN-agenda. Dit sal Ban Ki-moon se laaste hoëvlakvergadering wees voordat sy vyf-jaar-ampstermyn aan die einde van die jaar ten einde loop.

5)Meer as 10-duisend vyfhonderd liter wyn is by vanjaar se Nederburg-veiling verkoop. Die veilingbestuurder, Dalene Steyn, sê verkope het vanjaar met 23 persent gestyg, ondanks die feit dat vier persent minder wyn as verlede jaar op die veiling te koop was. Steyn sê die hoogste prys was vir ‘n 1998-bottel Petrus wat deur Christian Mouiex geteken is. Sy sê die bottel, wat deur die afslaer, Anthony Barne, geskenk is, is vir 70-duisend rand verkoop. Barne sê die ondersteuning van internasionale kopers is ‘n sterk aanduiding dat daar ‘n behoefte aan goeie, verouderde Suid-Afrikaanse wyne bestaan.

6)Die burgemeester van New York, Bill de Blasio sê New Yorkers sal hulle nie deur Saterdagaand se ontploffing, waarin 29 mense beseer is, laat intimideer nie. ‘n Ploftoestel het in ‘n besige straat in Chelsea in Manhattan ontplof en ‘n tweede toestel is enkele straatblokke verder gekry. Die toestel het bestaan uit ‘n drukkoker waaraan ‘n selfoon vasgemaak is. Volgens die polisie is dit soortgelyk aan die bomme wat drie jaar gelede tydens die Boston Marathon ontplof het. De Blasio sê voorlopige aanduidings is dat die ontploffing ‘n doelbewuste daad was. ‘n Gesamentlike terreurtaakmag is ingeroep om die ontploffing te ondersoek.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Geeeltelik Bewolk Met Ligte Reen –  met ‘n min 27 max van 35

Nelspruit –  Gedeeltelik Bewolk – met ‘n  min van 9 en ‘n max van 23

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 10 en max van 25

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 10 en max van 21

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 9 en max van 25

Bloemfontein –Gedeeltelik Bewolk – met min 11 ‘n max van 22

Durban – Mooi Weer – met ‘n min van 15 en max van 23

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 9 en max van 25

Oos Londen –Mooi Weer – met ‘n min 17 en max van 24

Kaapstad –Bewolk  –met  min van 12 en max van 25

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 16 en max van 27

PE- Mooi Weer – met ‘n min 14 en max van 25

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment