Donderdag 21 Julie

SAUK Radio Nuus berig vir Donderdag, 21 Julie 2016.

Ons Neem Ons Erfenis Terug. Stuur nuus aan nuus@saukradio.com

RAAK BETROKKE: Het U iets om te sê? Ons nooi graag omroepers en mense om betrokke te raak, selfs anoniem. Die platform is daar vir ons volk om te gebruik en is nie vir ons eie wins of roem nie

 Wil U op ons Nuus berigte of programme adverteer of borg? Ons sal die radio en webwerf advertensies vir U maak. Kontak ons by nuus@sauk.co.za

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio

My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

NUUS

1) Die parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie het ‘n verklaring uitgereik waarin hy sy diepe kommer uitspreek oor die gebeure by die SABC. Die komitee het voorgestel dat ‘n vergadering in Augustus met die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi gehou moet word. Die komitee het gereageer op die afdanking vroeër die week van sewe joernaliste en die beëindiging van ‘n agtste se kontrak. Die voorsitter van die komitee, Humphrey Maxegwana sê die publiek het hewig gereageer op die gebeure by die SABC.

2) Die SABC het ingestem om gehoor te gee aan die Onafhanklike Kommunikasieowerheid se bevel om sy besluit om nie gewelddadige protesoptrede uit te saai nie, te hersien. Op 11 Julie het Okosa beslis dat die uitsaaier binne sewe dae op skrif moet aandui dat hy sy besluit sal hersien. Die SABC het daarna versoek dat die bevel hersien word. Okosa het nou bevestig dat die SABC wel daartoe ingestem het. `n Woordvoerder van Okosa, Paseka Maleka het dit verwelkom. Dit volg nadat die Pretoriase Hooggeregshof gisteroggend `n hofbevel toegestaan het teen die SABC se redaksionele beleid ingevolge die dekking van gewelddadige betogings.

3) Die filantroop en stigter van Microsoft, Bill Gates sê meer beleggings is nodig en meer moet gedoen word om `n entstof teen Vigs te ontwikkel. Gates, wat by die 21ste Internasionale Vigskonferensie in Durban gepraat het, sê die ontwikkeling van `n suksesvolle entstof bly `n groot uitdaging vir navorsers. Volgens hom sal selfs `n entstof wat gedeeltelik of vir `n kort tydperk werk, `n groot verskil aan die verspreiding van Vigs maak. Hy het ook klem gelê op die behoefte vir beter Vigsbehandeling en voorkoming in lande in sub-Sahara.

4) Lede van die publiek het gister op kleurryke wyse in die Kunstekaap hulde gebring aan die ontslape digter en dramaturg, Adam Small. Die 79-jarige Small is verlede maand oorlede. Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille het by die gedenkdiens gesê Small se bydrae tot Afrikaans en tot die stryd teen apartheid sal nooit vergeet word nie. Sy sê Small is vir sowel sy aktivisme as vir sy woordkuns gerespekteer, en sy werk sal voortleef as weerspieëling van die geskiedenis met sy probleme en sy oorwinnings.

5) Die Verkiesingskommissie sê alle logistieke voorbereidings vir die komende munisipale verkiesing vorder volgens plan. Amptenare het die media vroeër ingelig oor vordering wat gemaak is met die reëlings. Die bestuurshoof van die VK, Mosotho Moepya het in Centurion in Gauteng gesê daar is ‘n toename in die aansoeke om spesiale stemme. Hy sê dit is ‘n aanduiding dat daar groter belangstelling onder die kiesers is, maar ook dat die proses meer toeganklik is. Meer as 95-duisend aansoeke om spesiale stemme is aanlyn ontvang. Moepya sê ‘n verdere 208-duisend is per sms ontvang.

6) Die ANC in KwaZulu-Natal sê die moord op sy kandidate sal ‘n onregverdige voorsprong gee aan ander partye tydens die komende verkiesing. Drie wykskandidate van die ANC en nog drie kandidate van die provinsiale wetgewer is vermoor sedert die begin van die verkiesingsveldtogte. Die ANC se adjunk provinsiale leier, Mluleki Ndobe, het ‘n beroep op kiesers in die betrokke wyke gedoen om steeds vir die vermoorde kandidate in die verkiesing te stem.

7) Die politieke ontleder, Samadoda Fikeni meen intussen die vlaag politieke moorde in KwaZulu-Natal skep ‘n gevaarlike presedent en ondermyn die interne demokratiese prosesse van politieke partye. Hy sê egter dit sal nie die uitslag van die verkiesing beïnvloed nie. Fikeni sê die moorde is ‘n manier om van teenstanders ontslae te raak, eerder as om interne prosesse te gebruik. Meer as tien ANC-ondersteuners en kandidate is reeds in die aanloop tot die verkiesing in die provinsie vermoor.

8) ‘n Gedenkdiens vir die bekende Afrikaanse skrywer, professor Adam Small Was gister by die Kunstekaap-teater in Kaapstad gehou. Die digter en akademikus is verlede maand in die ouderdom van 79 oorlede. Small was onder meer uitgesproke oor die onreg van apartheid. Die aktrise en organiseerder van die byeenkoms, Natalia de Rocha sê daar sal video-huldeblyke wees en verkorte optredes van sy verhoogstukke. Sy sê sy het Small drie jaar gelede ontmoet toe sy hom genader het om sy gedigte te toonset met jazz-musiek. Da Rocha sê sy is dankbaar vir die tyd wat sy saam met die legende kon deurbring.

 9) Turkye se suiwering van amptenare in die lig van Vrydag se mislukte staatsgreep het nou ook na onderwys in die land oorgespoel. Die ministerie van onderwys het meer as 15-duisend werknemers geskors en opdrag gegee dat meer as duisend-500 Dekane by privaat en staatsuniversiteite afgedank word. Die VN se hoof van menseregte, Zeid Ra’ad Al Hussein, sê hy is baie bekommerd oor Turkye se massaskorsing van regters en aanklaers na die staatsgreeppoging. Hy het ook die moontlike herinstelling van die doodstraf as ‘n stap agteruit bestempel.

 10) Die hooggeregshof in Pretoria het ‘n hofbevel toegestaan aan die Helen Suzman-Stigting teen die SABC se verbod op die dekking van gewelddadige betogings. Die Stigting het die aansoek voor die hof gebring in reaksie op veranderings aan die SABC se redaksionele beleid wat onder meer nuusdekking van protesoptrede en kritiek teen die regering verbied. Die Stigting is van mening dat dié beleid ‘n skending van die Grondwet en die Uitsaaiwet is ingevolge waarvan die SABC as openbare uitsaaier aan die publiek behoort en nie aan die staat of ‘n party nie. Die sitting het vroeër kortliks verdaag sodat die SABC se regspan met dié van die Stigting kan beraadslaag oor die formulering van die hofbevel. Die enigste verandering wat aangebring is, is dat die SABC sy redaksionele onafhanklikheid binne die Grondwet moet uitvoer. Die SABC het toegegee. Lede van die SAKP in die Wes-Kaap het gister  ‘n betoging by die SABC se kantore in Seepunt gehou. Hulle het betoog teen die afdanking van agt joernaliste vroeër vandeesweek nadat hulle beswaar gemaak het teen die openbare uitsaaier se redaksionele beleid. Die tweede adjunk sekretaris-generaal van die SAKP, Solly Mapaila sê die parlement moet ingryp. Mapaila sê die parlement moet die aanstelling van die huidige SABC-raad hersien, sowel as die praktyke waarvolgens beperkings op joernaliste geplaas word oor die nuus wat hulle dek.

 11) Agri SA het die korporatiewe en openbare sektore se bystand vir droogtehulp gevra. Dit volg nadat al hoe meer kommersiële en opkomende boere in droogtegeteisterde gebiede aansoek om hulp gedoen het. Agri SA se droogtehulpfonds het tot dusver bykans 16 miljoen rand aan meer as 13-duisend boere uitbetaal. Boere in die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat en die Wes-Kaap word die ergste deur die droogte geraak.

12) Die hoër as verwagte inflasie in Junie kan druk op die Resewebank laat toeneem om rentekoerse later vanjaar te verhoog. Die monetêre beleidskomitee maak more sy jongste besluit oor die terugkoopkoers bekend. Die verbruikersprysindeks is steeds buite die Reserwebank se inflasieteiken van tussen drie en ses persent. Die syfers van Statistieke Suid-Afrika toon aan dat inflasie in Junie op ‘n maandgrondslag tot ses komma drie persent gestyg het. In Mei was die syfer ses komma een persent. Die jongste styging is hoër as die markverwagtinge.

13) ‘n Afvaardiging van die Suid-Afrikaanse regering is in Harare om te hul kommer te kenne te gee oor die nuwe handelsbesperkings op sekere ingevoerde ware. Suid-Afrika glo die beperkings wat sedert Junie van krag is, is ‘n skending van die Afrika-unie se handelsooreenkoms. Verskeie lande, insluitende Zambië, het ‘n beroep op Zimbabwe gedoen om die beperkings op te hef.

14) Nuwe navorsing toon dat die groot withaai uitsterwing in die gesig staar. ‘n Navorsingspan by die Universiteit van Stellenbosch het op ‘n nuuskonferensie in Kaapstad gesê dat slegs sowat 500 groot withaaie langs die Suid-Afrikaanse kus voorkom. Die hoof van die departement van dier- en plantkunde, professor Conrad Matthee sê die onwettige trofeejag vir die haaie se kakebeen is die hoofoorsaak van die afname in getalle. Die studie word beskou as die mees omvattende wat die afgelope sewe jaar in die verband gedoen is.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad  Gedeeltelik Bewolk   –  met ‘n min 27 max van 36

Nelspruit –  Mooi weer  met ‘n  min van 7 en ‘n max van 32

Pretoria  – Mooi weer met ‘n  min van 8 en max van 25

Johannesburg – Mooi weer met ‘n min 5 en max van 21

Vereeniging – Mooi weer met ‘n  min 6 en max van 23

Bloemfontein – Mooi weer – met min 5 ‘n max van 20

Durban – Mooi Weer met ‘n min van 14 en max van 26

Rustenburg –  Mooiweer  met ‘n min 5 en max van 25

Oos London –  Bewolk met ‘n min 14 en max van 22

Kaapstad –Gedeeltelik Bewolk met ligte reen met n min van 8 en max van 15

Upington – Mooi weer met ‘n min van 8 en max van 22

Sutherland –Bewolk en koud  met Min 1 en max 1

PE- Deeltelik Bewolk met ligte reen met ‘n min 12 en max van 17

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig 

Indien jy ‘n program wil aanbied op SAUK Radio of jou besigheid wil adverteer kontak ons gerus. ons epos adres nuus@saukradio.com

Maak ook gerus gebruik van ons webwerf vir Volkseie besighede www.V.co.za plaas jou advertensie gratis daar

Skakel gerus in vir ons Uitsendings

                                   KRAG VIR DIE DIE DAG

  Openbaring 1:5 – “en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed”

 Johannes 15:9 – “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook   liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.”

Cathy Viljoen se “Sy bloed verlos uit Satansmag”

Huidiglik:

Heerlike musiek 24/7

 7vm weeksdae –  Nuus- en weer berig met Gottie Myburgh

10vm elke weeksdag – Gooi Mielies met Jaco Viljoen

1nm elke weeksdag –  Kinderprogramme & Bak en Proe  met Corrie

7nm  Maandag aande – Werk soek met Pieter  van Zyl

8nm Maandag aande  –  Bosoorlog met Corrie

9nm Maandag aande – Ons Lewende Erfenis met Pieter  van Zyl

9nm Dinsdag aande – Internasionale Top 20 met Pieter van Zyl

7nm Woensdag aande – Geskiedenis met Gottie Myburh

8nm Woensdag aande – Aktueel met Jaco Viljoen

7nm Donderdag aande – Hoezit ‘n Lekker versoek program met Pieter van Zyl

7nm Vrydag aande – Pot Soek ‘n Deksel met Corrie

8nm Vrydag aande – Musiek Mandjie met DJ Uiltjie

10:00 tot 1uur  elke aand musiek vermaak  en nog meer

Saterdagmiddag Sport program  en musiek met Gottie Myburgh en na die sport program n lekker Boeremusiek aand ook met Gottie Myburgh.

7nm Sondag aande – Kontroversiële gesprek program oor die Boervolk met Theunis Cloete, Jan Diedriks en Willem de Ou man van Boervolk Radio

  • Wil U ‘n omroeper by SAUK Radio wees?
  • Het U ‘n program wat jy wil aanbied en paar ekstra rande verdien?
  • Wil jy plaaslike nuus vir jou gemeenskap aanbied op ‘n voorafbepaalde tydstip?
  • Wil jy opnames maak oor sake van belang vir die Volk?

Help ons om ons erfenis terug te neem!

Kontak ons by nuus@saukradio.com

Dit is nou sommer maklik om ook na SAUK Nuus radio te luister direk vanaf ons Faceboek blad of met Tunein – Tunein werk openige selfoon, tablet, android, rekenaar, skootrekenaar mits jy internet opvangs het enige plek enige tyd wêreldwyd laai die tunein applikasie af op jou selfoon en soek vir SAUK Radio, Jy kan ook op jou selfoon Browser direk na die inskakel bladsy gaan met www.sauk.mobi.


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment