Maandag 22 Augustus

Noodberig

KZN.  Protesters on Old Main Road in the Inchanga area. Use an alternative route.

SAUK Radio Nuus berig vir Maandag, 22 Augustus 2016.

Ons Neem Ons Erfenis Terug. Stuur nuus aan nuus@saukradio.com

RAAK BETROKKE: Het U iets om te sê? Ons nooi graag omroepers en mense om betrokke te raak, selfs anoniem. Die platform is daar vir ons volk om te gebruik en is nie vir ons eie wins of roem nie.

Wil U op ons Nuus berigte of programme adverteer of borg? Ons sal die radio en webwerf advertensies vir U maak. Kontak ons by nuus@sauk.co.za

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio

My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

NUUS

1) Eerskomende Woensdag vind ‘n “Koersseminaar oor ons volk se Vryheidstrewe” plaas. Dit is om 19:00 in HF Verwoerdrylaan 321 in Gezina, Pretoria. Mnr. Meinhard Peters sal praat oor die Afrikaanse student en sy taal op universiteitsvlak. Mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad, sal praat oor die Verkryging van Selfbeskikking vir ons Volk. Dit is ‘n ope byeenkoms waarheen volksgenote genooi word. Verdere inligting kan bekom word by tel. 012 543-2332.

Op 6 September word die lewe en werk van dr. HF Verwoerd herdenk, wat op daardie dag 50 jaar gelede vermoor is. Mnr. Paul Kruger, voorsitter van die VVK, sal ‘n kort oorsig oor dr. Verwoerd se staatkundige prestasies lewer, terwyl mnr. Hendrik Verwoerd, seun van dr. Verwoerd, staatjies uit sy lewe sal deel. Dit vind by die Diamantvallei landgoed plaas naby Kleinfontein, en kaartjies kan bespreek word by Chantal by 079 740 7214.

Die aand van 10 September vind daar ‘n bekendstelling plaas van ‘n dokumentêre film oor die lewe van dr Hendrik Verwoerd, in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument.                  

2)  In wat as ‘n ongewone stap gesien word, het die ANC-Staatshoof, Jacob Zuma, persoonlik ingegryp en sy verantwoordelike ministers opdrag gegee om toe te sien dat daar geen klasgeldverhoging vir universiteite is in 2017 nie.

Dit terwyl daar tans nog ‘n ondersoek aan die gang is oor die verhoging van klasgelde, wat nog nie afgehandel is nie. Zuma se opdrag aan die Ministers van hoër onderwys en van finansies was eenvoudig dat hulle die geld moet kry om ‘n 0% verhoging te akkommodeer.

Die Minister van Hoër Onderwys wil ‘n ses persent verhoging hê, wat in lyn is met die amptelike inflasiekoers. Die tesourie is reeds onder druk en sal nie self kan instaan vir die bykomende koste om universiteite aan die gang te hou nie.

Waarskynlik gaan daar weer eens ‘n beroep gedoen word op die private sektor om in te spring en die gelde te voorsien. Die ANC-bewind maak kort-kort van die private sektor gebruik om sy kastaiings  uit die vuur te haal. In ruil daarvoor kom egter geen belastingtoegewings nie, maar wil die staat steeds meer politieke houvas kry terwyl hy nie self sy finansiële verantwoordelikhede vir sy sosialistiese beleid wil nakom nie.

Zuma het hom hier geskaar aan die kant van revolusionêre studente wat bereid is om universiteite af te brand en tot stilstand te bring onder die sogenaamde “fees must fall”-veldtog.                                            
3) Die EFF beweer dat hy deur Bovu  genader is en R500 000 aangebied is om toe te sien dat Johannesburg onder ANC-beheer bly. Dit sou beteken dat die EFF vir die ANC se burgemeesterskandidaat sou moet stem.

Alhoewel Bovu die aantygings ontken, het die uittredende ANC-burgemeester, Parks Tau, bevestig dat die ANC steeds voortgaan met koalisiegesprekke. Die ANC gaan vandag ook sy eie burgemeesterskandidaat aanwys, “en veg tot die einde toe” om Johannesburg onder sy beheer te hou.

Die EEF hou egter voet by stuk dat van sy lede deur Bovu genader is met omkoopvoorstelle, en dat hy ‘n strafregtelike klag in die verband teen Bovu aanhangig gaan maak.                                       

4)  Die polisie in Noordwes het motoriste gewaarsku om bedag te wees op voornemende kapers nadat ‘n aantal kapings die afgelope tyd in die provinsie aangemeld is. ‘n Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwaabone, sê in een voorval het gewapende mans ‘n man genader wat langs ‘n pad by die Hartbeespoortdam stilgehou het om hout te koop. Hulle het hom in sy motor teruggedwing en na ‘n afgeleë gebied gery waar hulle hom beroof het. In nog ‘n voorval is ‘n motoris op die N4 in Majakaneng naby Brits gekaap. Die polisie sê ‘n man het voor die motor ingehardloop en die bestuurder gedwing om stil te hou. Niemand is nog in verband met die kapings in hegtenis geneem nie.    RSG

5) Die koalisies tussen die VF Plus en ander partye om plaaslike regerings te vorm en die ANC sodoende uit regeringsposisies te dwing, is ʼn historiese gebeurtenis tot voordeel van alle mense in Suid-Afrika, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus. Dr. Mulder het met die ondertekening van die ooreenkoms gesê die oorheersing van die ANC tot dusver op politieke gebied het tot ʼn groot mate die moontlike positiewe rol wat koalisies tussen opposisiepartye kon speel, verydel.

Hy het gesê die VF Plus se voorspelling dat koalisies ʼn groot rol na die 2016-plaaslike verkiesing sou speel, het gerealiseer en vir die eerste keer in die land se nuwe bedeling sal koalisies as ʼn stelsel van wigte en teenwigte ʼn groot rol speel om beter regering te verseker. “Die VF Plus het aan sy kiesers gesê ons sal deel wees van koalisies en ons sal die party se waardes en beginsels daar indra omdat dit een van die positiewe opsies is wat ons kiesstelsel bied wat nou vir die eerste keer behoorlik benut kan word.

“Ons betree ʼn nuwe politieke fase wat gekenmerk word deur ʼn breë groep politieke partye wat op plaaslike vlak saam gaan werk om te regeer. Die ooreenkoms tussen die partye lui onder meer die doel daarvan is om eerlike, oop, verantwoordbare en werkbare regering aan die mense van Suid-Afrika te bring. “Dit is nou ook duidelik dat alle partye hierby betrokke belangrik is, die groottes en die kleineres. Dit bring die boodskap hard en duidelik aan die publiek dat hulle kan stem vir die party van hul keuse, en dat hul stem nie gemors word nie, maar gebruik sal word om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak. “Indien partye gaan probeer om mekaar in te sluk of stil te maak, sal hierdie ooreenkoms nie werk nie. Ons almal besef dit. Ons besef ook dat Suid-Afrika in ʼn krisis is en dat al die betrokke partye verantwoordelik moet optree en ten beste saam moet werk.

“Die klem moet nie op verskille geplaas word nie, maar eerder waar daar gemeenskaplike grond is. Indien dit gedoen word, sal regering slaag en kan die land sy volle potensiaal bereik. Die VF Plus sal sy volle samewerking hierin gee,” het dr. Mulder gesê.                             

6) n Groep EFF-lede in Durban het die party se kantore bestorm en geëis dat die party se streekleierskap ontbind word. Hulle beskuldig die leierskap daarvan dat hulle die party se kandidatelys in die eThekwini Metro verander het om familielede en mense na aan hulle te bevoordeel. Die ontevrede EFF-lede het ook die party se sekretaris-generaal, Godrich Gardee daarvan beskuldig dat hy hulle griewe ignoreer. Hulle beskuldig hom ook daarvan dat hy ‘n vrou op die party se proporsionele lys beskerm. Een van die EFF-lede, Zanele Sangweni sê die leierskap is korrup.                                   RSG

7) ‘n Lastersaak deur die voormalige minister van Intelligensie, Ronnie Kasrils teen die voorsitter van die Umkhonto We Sizwe Militêre Veterane-vereniging, Kebby Maphatsoe sal vandag in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor word. Kasrils dagvaar Maphatsoe vir n miljoen rand. Dit volg nadat Maphatsoe in 2014 vir Kasrils daarvan beskuldig het dat hy die vrou wat President Jacob Zuma van verkragting aangekla het, wat as Khwezi bekendstaan, aangesê het om die klagte teen Zuma in te dien. Zuma is later onskuldig bevind, en het tydens die hofsaak in 2006 beweer dat die aanklagte van verkragting deel is van ‘n politieke sameswering teen hom. Kasrils sê hy gaan Maphatsoe vra om sy bewerings te staaf.                                       

8) Die eienaar van die Maritieme Sake en Rekenaarkollege in Durban, Jay Ramkissoon is in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog. Die departement van Hoër Onderwys het Ramkissoon vroeër die week gedwing om die kollege te sluit omdat sommige kursusse nie by die departement geregistreer is nie. Woedende studente het vandag buite die kollege betoog, en geëis dat hulle klasgelde terugbetaal word.                     

9) Sewentig onwettige myners sal Vandag in die Welkom Landdroshof verskyn, nadat hullle by ‘n skag van die Eland-goudmyn in hegtenis geneem is. Die Vrystaatse polisie sê die onwettige mynwerkers is vasgetrek toe hulle uit die skag gekom het. Hulle het na bewering probeer wegkom van metaangas onder in die myn. Die myners is burgers van Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe. ‘n Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng sê die inhegtenisnemings is ‘n deurbraak in die polisie se pogings om toe te slaan op onwettige mynbedrywighede.  

10) Die polisie in die Boland het ‘n verdagte in hegtenis geneem op aanklagte wat met dwelmhandel verband hou. In die jongste voorval is ‘n 55-jarige man by Worcester in hegtenis geneem nadat hy betrap is met tik, mandrax en dagga ter waarde van 17-duisend rand. ‘n Polisiewoordvoerder, Noloyiso Rwexana sê die verdagte sal Vandag in die Worcester Landdroshof verskyn. Daar was ook ‘n 31-jarige man in Wellington in hegtenis geneem op aanklagte van dwelmhandel en die besit van ‘n gevaarlike wapen.                     RSG

11) Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet sê hy sou graag ‘n strenger proses wil sien wanneer die finale kandidaat vir die pos van openbare beskermer aangewys word. Die adhoc-komitee het vyf kandidate gekies uit die veertien kandidate met wie onderhoude gevoer is. ‘n Woordvoerder, Lawson Naidoo sê hulle sou graag wil weet watter kriteria gebruik is om die lys van veertien na vyf af te skaal. Hy reken daar is ten minste twee sterk kandidate wat nie die kortlys van vyf gehaal het nie.    

12) Cope, een van die DA se koalisievennote in Tshwane en die Nelson Mandelabaai Metro sê hy sal nie toelaat dat daar van personeel ontslae geraak word op grond van hul politieke oortuigings nie. Dit volg nadat die DA-burgemeesters, Athol Trollip en Solly Msimang glo gedreig het om metro’s reg te ruk deur sogenaamde begunstigdes te verwyder. ‘n Cope-woordvoerder, Dennis Bloem sê waar die party ‘n koalisievennoot is, sal suiwering nie plaasvind nie.                                                    

13) Die Oos-Kaapse polisie het twee vermeende veediewe in die Dadamba-gemeenskap by Willowvale in hegtenis geneem. ‘n Polisiewoordvoerder, Jackson Manatha sê hulle het 33 gesteelde skape terug gekry. In ‘n afsonderlike voorval is 44 skape by Dutywa gesteel.               RSG

14) Die polisie in Limpopo sê die 38 mense wat in hegtenis geneem is na gewelddadige betogings by Mogodi buite Lebowakgomo sal van openbare geweld aangekla word. Inwoners het Saterdag die R37-pad tussen Polokwane en Burgersfort versper voordat die polisie orde herstel het. Die inwoners is glo nie tevrede met van die raadslede in die gebied nie. Die ANC het 40 setels gewen teenoor die EFF se 15 en die drie van die DA.             RSG

15) Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat het met ‘n ondersoek begin nadat ‘n vrou by Marydale in die Noord-Kaap in polisie-aanhouding dood is. Die 44-jarige vrou is Vrydagaand in hegtenis geneem in verband met beweerde dronkenskap in die openbaar. Sy is Saterdagoggend dood in haar sel gevind. ‘n Polisiewoordvoerder, Sergio Kock sê ‘n nadoodse ondersoek moet nog gedoen word om te bepaal hoe die vrou dood is.       RSG

16) `n Nege-en-twintigjarige verdagte is in hegtenis geneem vir die moord op die DA-raadslid van Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Johannes Baatjies is verlede week twee keer n die kop geskiet op die hoofpad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. `n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die 49-jarige Baatjies in `n lokval gelei is. Baatjies het sy sake-vennoot by hom in die motor gehad toe hy geskiet is. Die man is ook geskiet en in `n ernstige toestand in die hospitaal. Die verdagte sal waarskynlik more in Postmasburg se landdroshof van moord aangekla word. `n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi sê hulle dink nog inhegtenisnames kan volg.                       

17) Die vroeë somerweer wat binnelanders tans ervaar het, gaan hierdie week eers vir ‘n paar dae deur ‘n vlaag koue onderbreek word. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal dit van Vandag af oor die Vrystaat, Gauteng, dele van Noordwes en KwaZulu-Natal winderig en koeler begin word. In Gauteng sal die kwik na verwagting Dinsdagoggend nie tot bo 20 grade celcius styg nie. Die temperature sal egter van Woensdag af herstel, en sonnige dae na Woensdag weer aan die orde van die dag gaan wees,  maar dit is nog te vroeg om die somer amptelik te verwelkom.                      RSG

Sport nuus:      Rugbynuus: Die Springbokke het Argentinië Saterdagaand in ‘n Rugbykampioenskapstoets in Mbombela met 30 – 23 geklop. Met tien minute van die kragmeting oor, was die Springbokke nog tien punte agter, maar hulle het teruggeveg met twee drieë om die wedstryd te beklink. Die Bokke se drieë is gedruk deur Ruan Combrinck, Johan Goosen en Warren Whiteley. Elton Jantjies was met drie strafdoele en drie strafskoppe in die kol en die skrumskakel, Faf de Klerk, was Speler van die Wedstryd. Die All Blacks het Australië Saterdag met 42 – 8 geklop.                          RSG

Olimpiese nuus is dat Caster Semenya met haar oorwinning vroeër gisteroggend in die 800-meter-wedloop nie net ‘n goue medalje losgehardloop nie – sy het ook haar eie Suid-Afrikaanse rekord van een-minuut-vyf-vyf-komma-drie-nul-sekondes verbeter tot een minuut-vyf-vyf-komma-twee-agt sekondes. Semenya se oorwinning beteken dat Suid-Afrika se medalje-oes nou op tien staan. Francine Niyonsaba van Burundi was tweede en Margaret Wambui van Kenia derde. Semenya sê dit was nie ‘n maklike wedloop nie, maar sy het haar afrigter se raad gevolg en was geduldig.         RSG

KRIEKETNUUS: Spel was gister weens `n nat buiteveld afgelas sonder dat `n bal geboul kon word op die derde dag van die eerste toets tussen die Proteas en Nieu-Seeland in Durban. `n Groot deel van die spel was ook op Saterdag, die tweede dag afgelas, wat beteken dat die toets waarskynlik onbeslis sal eindig. Nieu-Seeland kolf vanoggend om half-tien voort met sy telling op 15 vir die verlies van twee paaltjies in antwoord op Suid-Afrika se eerste beurt van 263 lopies.                                                            RSG

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Gedeeltelik Bewolk –  met ‘n min 26max van 35

Nelspruit –  Mooi Weer – met ‘n  min van 9 en ‘n max van 31

Pretoria  – Mooi Weer –  met ‘n  min van 5 en max van 22

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min3 en max van 18

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 4 en max van 18

Bloemfontein –Mooi Weer- met min 1 ‘n max van 13

Durban – Bewolk – met ‘n min van 14 en max van 19

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 4 en max van 22

Oos London – Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 17

Kaapstad –Gedeeltelik Bewolk met Reenbuie – met n min van 8 en max van 14

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 7 en max van 16

Sutherland –Meestal Bewolk en Koud  met Minus 4 en max 6

PE- Gedeeltelik Bewolk met Reenbuie – met ‘n min 11 en max van 14

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig

Indien jy ‘n program wil aanbied op SAUK Radio of jou besigheid wil adverteer kontak ons gerus. ons epos adres nuus@saukradio.com

Maak ook gerus gebruik van ons webwerf vir Volkseie besighede www.V.co.za plaas jou advertensie gratis daar.

Ons het Borge nodig vir ons programme

Die radio is daar vir ons mense om as platvorm te gebruik met geen winsbejag of roem vir die omroepers nie maar ons het fondse nodig om die stasie te bedryf. Indien jy ‘n program wil borg Kontak ons asb by nuus@saukradio.com

Skakel gerus in vir ons Uitsendings

KRAG VIR DIE DIE DAG

Psalms 121:5 – “ Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.”

Psalms 91:1 – “HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.

Joe Niemand se “Ek Sal Nie Bang Wees Nie”

Huidiglik:

Heerlike musiek 24/7

 7vm weeksdae –  Nuus- en weer berig met Gottie Myburgh

10vm elke weeksdag – Gooi Mielies met Jaco Viljoen

1nm elke weeksdag –  Kinderprogramme & Bak en Proe  met Corrie

7nm  Maandag aande – Werk soek met Pieter  van Zyl

8nm Maandag aande  –  Bosoorlog met Corrie

9nm Maandag aande – Ons Lewende Erfenis met Pieter  van Zyl

7nm Dinsdag aande  –  SAUK RADIO Top 20 met Pieter van Zyl

7nm Woensdag aande – Geskiedenis met Gottie Myburgh

8nm Woensdag aande – Aktueel met Jaco Viljoen

7nm Donderdag aande – Hoezit ‘n Lekker versoek program met Pieter van Zyl

7nm Vrydag aande – Pot Soek ‘n Deksel met Corrie

8nm Vrydag aande – Musiek Mandjie met DJ Uiltjie

10:00nm tot Middernag elke aand musiek vermaak  en nog meer

Saterdagmiddag Sport program  en musiek met Gottie Myburgh en na die sport program n lekker Boeremusiek aand ook met Gottie Myburgh.

7nm Sondag aande – Kontroversiële gesprek program oor die Boervolk met Theunis Cloete, Jan Diedriks en Willem de Ou man van Boervolk Radio

  • Wil U ‘n omroeper by SAUK Radio wees?
  • Het U ‘n program wat jy wil aanbied en paar ekstra rande verdien?
  • Wil jy plaaslike nuus vir jou gemeenskap aanbied op ‘n voorafbepaalde tydstip?
  • Wil jy opnames maak oor sake van belang vir die Volk?

Help ons om ons erfenis terug te neem!

Kontak ons by nuus@saukradio.com

Dit is nou sommer maklik om ook na SAUK Nuus radio te luister direk vanaf ons Faceboek blad of met Tunein – Tunein werk openige selfoon, tablet, android, rekenaar, skootrekenaar mits jy internet opvangs het enige plek enige tyd wêreldwyd laai die tunein applikasie af op jou selfoon en soek vir SAUK Radio, Jy kan ook op jou selfoon Browser direk na die inskakel bladsy gaan met www.sauk.mobi.


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment