Maandag 29 Augustus

Noodberig

Pretoria Noord: As gevolg geweldadige protes optogte by Pienaarspoort, word alle trein vir veiligheids redes by Eerste Fabrieke omgedraai.

SAUK Radio Nuus berig vir Maandag, 29 Augustus 2016.

Ons Neem Ons Erfenis Terug. Stuur nuus aan nuus@saukradio.com

RAAK BETROKKE: Het U iets om te sê? Ons nooi graag omroepers en mense om betrokke te raak, selfs anoniem. Die platform is daar vir ons volk om te gebruik en is nie vir ons eie wins of roem nie.

Wil U op ons Nuus berigte of programme adverteer of borg? Ons sal die radio en webwerf advertensies vir U maak. Kontak ons by nuus@sauk.co.za

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio

My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

NUUS

1) Die belasting ombudsman voorsien die moontlikheid dat belastingbetalers dalk kan begin om belasting te weerhou.

Regter Bernard Ngoepe het die sede jaarlikse konferensie van die Fidusiêre Instituut van Suidelike Afrika toegespreek, en daar die moontlikheid genoem.

As belastingbetalers die indruk kry dat staatsinstellings of persone in beheer van fondse, hulleself op onetiese wyse bevoordeel, sal die land probleme hê. “Een van die probleme wat ons sal hê is wanneer belastingbetalers  sal sê: ‘Ek sal nie belasting betaal as die geld nie behoorlik aangewend word nie. Ek sal nie belasting betaal as my geld vir korrupsie gebruik word nie. Ek sal nie belasting betaal as my geld gebruik word om instansies te finansier wat hulle mag vir politieke voordeel gaan misbruik nie’”, het regter Ngoepe gesê.

Belastingbetalers is bereid om belasting te betaal as hulle vind dat die aanwending daarvan eties verantwoordbaar is. Dit is nie voldoende om te redeneer dat die aanwending van belastinggeld wettig is nie.

Hy het in sy toespraak geïnsinueer dat die Valke se ondersoek na Pravin Gordhan dalk wel wettig kan wees, maar nie noodwendig eties is nie.

Ngoepe se termyn as belasting ombudsman verstryk einde September. Hy het egter aangedui dat hy bereid is om nog ‘n termyn te dien, maar dit sal waarskynlik afhang wat met Gordhan sou gebeur.                  Die Vryburger

2) Die voormalige hoof van Prasa, Lucky Montana, het goedkeuring gegee aan ‘n tender wat R600 000 per toiletsitplek op nuwe lokomotiewe. Die hele kontrak was R42 miljoen vir 70 toiletsitplekke.

Die inligting het na vore gekom in hofdokumente wat ingedien is deur die passasierspooragentskap om die aankoop van nuwe lokomotiewe tersyde gestel te kry.

Die ANC word ook by die skandaal betrek. Dié party sou na bewering ongeveer R80 miljoen se voordeel uit die kontrak kry, terwyl ‘n Angolese vriendin van Jacob Zuma,  Maria Gomez, ook self ‘n stewige bedrag in haar sak gedruk het. Zuma het haar skynbaar ‘n paar keer by haar huis in Sandton besoek. Gomez het daarop aangedring dat 10% van die totale kontrakbedrag na die ANC moet gaan.

Die ANC het, soos verwag is, ontken dat enige geld in sy rekening inbetaal is. Daar is egter sterk vermoede dat Zuma, die Guptas en die ANC, buitelandse rekenings het waarheen groot bedra gekanaliseer word. Daar word al openlik gepraat van ‘n plundery van die land se bates deur hierdie persone.                           

3) Die begrafnis van voormalige ANC-minister Arnold Stofile, is deur ANC-lede omskep in ‘n politieke vergadering waar sterk aangedring is op nuwe leiers vir dié party.

Sipho Pityana, voormalige direkteur-generaal van die departemente van arbeid en buitelandse sake, was een van die sprekers wat in besonder daarop aangedring het dat die ANC nuwe leiers moet kry. Hy het selfs sy ongelukkigheid uitgespreek oor Jacob Zuma nie ook die begrafnis bygewoon het nie, want Pityana het gesê sy toespraak was eintlik vir Zuma bedoel. Hy het ‘n beroep gedoen op die ANC om sy leierskongres van Desember volgende jaar, te vervroeg sodat nuwe leiers verkies kan word.

Cyril Ramaphosa, Zuma se adjunk, het die politieke tema op die begrafnis voortgesit en gesê daar moet geluister word na mense soos Pityana se versugtinge.

Hy het ook sy steun aan Pravin Gordhan gegee in dié se stryd teen die Valke. Gordhan het self ook die begrafnis in die Oos-Kaap bygewoon, in plaas daarvan om op “bevel” van die Valke by hulle aan te meld vir ondervraging

4) Die Hooggeregshof in Pretoria het die vonnis van ‘n landdros in Benoni versag. Die landdros het ‘n Zimbabwiër tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, en beveel dat hy daarna aan emigrasie-owerhede oorhandig moet word, nadat hy goedere ter waarde van R2 miljoen gesteel het. Regter Motsamai Makume en waarnemende regter Judge N Nkosi het die landdros ook veroordeel oor haar aanmerking dat dit die derde Zimbabwiër is wat die dag voor haar verskyn het, dat sy daardeurveralgemenings gemaak het oor Zimbabwiërs in die land en vreemdelingegeweld daardeur kan aanblaas. Hulle het die vonnis na 10 jaar verminder.                                    

5) Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat hy ‘n dossier van die Valke ontvang het oor die moontlike vervolging van die Minister van Finansies, Pravin Gordhan. Die NVG sê egter hy sal nie nou ‘n besluit daaroor kan neem nie. Die NVG het berigte ontken dat Gordhan binnekort vervolg kan word in verband met die sogenaamde geheime eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. ‘n Woordvoerder, Luvuyo Mfaku sê staatsaanklaers is besig om deur dokumente te sif om vas te stel of hul bewyse sterk genoeg is. Die Valke het Gordhan verlede week ontbied in wat politieke ontleders bestempel as ‘n laaste poging deur ‘n groep binne die ANC om beheer oor die Nasionale Tesourie te kry. Ernstige kommer heers dat enige aanklagte teen Gordhan beleggersvertroue sal skaad.                                                                                                                                                        

6) Die burgerorganisasie, SANCO, het gevra dat ‘n politieke raad van die drieparty-alliansie byeenkom om die swak prestasie van die ANC in die afgelope munisipale verkiesing te bespreek. Dit is een van die resolusies wat aanvaar is by ‘n vergadering van SANCO se nasionale uitvoerende komitee wat die afgelope twee dae in Pretoria gehou is. Die hoofsekreatris van SANCO, Skhumbuzo Mpanza, sê die organisasie het kom daartoe verbind om waardes soos onselfsugtigheid, nederigheid en dissipline opnuut na te streef om gemeenskappe te dien. Hy sê leiers in die drieparty-alliansie moet besef dat dit verraad sal wees as daar nie opgetree word om die nasionale demokratiese rewolusie te red nie. Volgens Mpanza het die ANC en sy bondgenote duur betaal vir arrogansie en korrupsie. Hy het ook gewaarsku dat die openbare vete tussen Gordhan en die Valke nie in belang van die land se ekonomiese herstelplan is nie.                                                                                                        

7) Noordwes se tien LUR’e gaan Dinsdag inspring en self vrae van die publiek antwoord. Dit sal gedoen word deur middel van die Setsokotsane oproepsentrum wat onlangs bekendgestel is. Die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo sê dit was een van die besluite wat geneem is by ‘n onlangse vergadering van die provinsie se uitvoerende raad. Die doel van die regstreekse skakeling met die gemeenskap is om seker te maak dat kwessies wat geopper word die nodige aandag van die provinsiale leiers kry. Die raad het besluit dat alle LUR’e van aanstaande maand af elke Woensdag van half agt tot half nege in die oggend beskikbaar moet wees om oproepe te beantwoord.                                                                                                                                                  

8) ‘n Groep ANC-ondersteuners wil die party se hoofkwartier in Johannesburg beset en die bedanking van die president eis. ‘n Organiseerder, Bonolo Ramokhele sê hulle sal op 5 September opruk na Luthuli-huis. Ramokhele sê jongmense is verenig in die saak. Verskeie ander eise verskyn op ‘n griefskrif wat op sosiale media versprei word. Dit sluit in die vorming van ‘n taakspan wat die ANC na ‘n vroeë verkiesingskonferensie kan lei.            

9) Die burgemeester van die Lekwa Teemane-munisipaliteit in Christiana in Noordwes, Kagiso Palagangwe het die gemeenskap van Utlwanang geloof omdat hulle niemand blameer vir die dood van drie kinders wat weens voedselvergiftiging dood is nie. Palagangwe het gister gepraat tydens die begrafnisdiens van die drie kleuters. Hulle is dood nadat hulle vis by die bure geëet het. Vier ander mense is in die hospitaal opgeneem. Palagangwe het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om toe te laat dat die polisie en gesondheidsowerhede hul werk doen.RSG

10) Oakbay Investments het die versekering gegee dat sy werknemers nie nadelig geraak sal word deur die Gupta-familie se besluit om hul sakebelange in die land te verkoop nie. Die Gupta’s sê hulle sal binnekort verdere aankondigings maak ná hul besluit om teen die einde van die jaar van hul Suid-Afrikaanse sakebelange ontslae te raak. Hulle glo dat die stap nie net tot voordeel van hul werknemers sal wees nie, maar ook tot verdere groei in die maatskappy sal bydra. Die familie sê hulle onderhandel reeds met voornemende kopers. Die Gupta’s word daarvan beskuldig dat hulle ‘n onbehoorlike invloed op president Jacob Zuma het oor die aanstelling van ministers.

11) Veterane van die bevrydingstryd, Ahmed Kathrada en die voormalige minister van openbare ondernemings, Barbara Hogan het aangesluit by verskeie politici, akademici en sakeleiers en ook verklaar dat hulle die minister van finansies, Pravin Gordhan ondersteun. Gordhan en drie voormalige amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is na die Valke se kantore ontbied, maar sy regspan het laat weet dat hy nie daar sal wees nie. Die vier is geïdentifiseer as verdagtes in ‘n ondersoek na die sogenaamde geheime eenheid by die SAID.          

12) Die Universiteit van Kaapstad het sy gesondheidsdienste in Khayelitsha hervat. Die dienste by die Khayelitsha Gemeenskapskliniek is vroeër opgeskort nadat ses studente deur gewapende mans beroof is. ‘n Woordvoerder, Gerda Kruger sê gesprekke is met die polisie en gemeenskapsleiers gevoer. Stappe is ook gedoen om veiligheid te verskerp. Kruger sê die universiteit is daartoe verbind om gesondheidsdienste aan die gemeenskap te lewer.

13) Gesondheidsowerhede in die Wes-Kaap het daarin geslaag om die uitbreking van varkgriep in George onder beheer te bring. Sowat 22 mense is vir die H1-N1-griep behandel. ‘n Plaaslike dokter, Marcelle Herbst sê daar is geen rede vir paniek nie.                                                                                                             RSG

14) Die ontsetelde burgemeester van Johannesburg, Parks Tau, wil ‘n siviele eis teen sy DA-opvolger, Herman Mashaba instel oor beweerde opmerkings oor ANC-vroue in senior bestuursposisies. Tau beweer dat Mashaba onder meer sou gesê het dié vroue het hul posisies bekom danksy seksuele gunsies. Tau het op die begrafnis van raadslid Nonhlanhla Mthembu buite Johannesburg gesê die ANC-leierskap het besluit om alles in hul vermoë te doen om te sorg dat sulke gerugte nek-om-gedraai word en daarom die kwessie met die kommissie vir geslagsgelykheid gaan opneem. Mthembu het verlede week tydens Mashaba se inhuldiging ineengestort.                          

15) Drie mense is dood in ‘n botsing buite Hennenman in die Vrystaat. Volgens ‘n polisiewoordvoerder, Thabiso Radebe, was ‘n motor met vyf insittendes na Welkom onderweg toe die bestuurder beheer verloor het. Die voertuig het omgeslaan en drie van die insittendes is op slag dood. Die ander twee is na ‘n hospitaal geneem. Radebe sê die polisie ondersoek klagte van strafbare manslag.                                            RSG

16) Nog vyf Metrorail-treinwaens is in die Kaapse Skiereiland aan die brand gesteek. Metrorail waarsku intussen dat vertragings op die noordelike lyn kan voorkom ná die voorval by die Kraaifontein rangeerwerf. ‘n Woordvoerder, Zino Mihi, sê die oorsaak van die brand word ondersoek. In die stadium is dit onduidelik of dit nóg ‘n geval van brandstigting was.          

17) Oudpresident Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, het Amerika gevra om oop kaarte te speel oor die gebeure wat destyds tot sy oupa se inhegtenisneming op Howick in die KwaZulu-Natalse middelande gelei het. Hy het by die Nelson Mandela-gedenkteken op die dorp gepraat. ‘n Man wat in die sestigerjare in die Amerikaanse konsulaat in Durban gestasioneer was, het verlede jaar gesê hy het destyds die veiligheidspolisie oor Madiba se bewegings ingelig vanweë sy bande met Kommunisme. Mandela sê dit is moeilik vir die familie om aan te beweeg sonder ‘n volledige weergawe van wat destyds gebeur het.                                                 

18) Sport Nuus:

RUGBY: Die Pumas het die Springbokke in hul tweede toets in die Rugbykampioenskapsreeks Saterdag in Salta, Argentinië, met 26-24 geklop. Die rustydtelling was 13-3 in die Argentyne se guns. Die Pumas het die Bokke vir die grootste deel van die wedstryd op die agtervoet gehad en die Springbokke kon eers in die 73ste minuut hul neuse voor kry. ‘n Strafskop aan die Argentyne, kort voor die eindfluitjie, het egter die Bokke se doppie geklink. Bryan Habana en Pieter-Steph du Toit het elk een drie vir die Springbokke gedruk.

Die Springbokvleuel, Ruan Combrinck sal vir ses weke buite aksie wees nadat hy sy kuitbeen gebreek het tydens die Bokke se verloorwedstryd teen Argentinië. Combrinck is sewe minute voor rustyd deur Jesse Kriel vervang. Dit was een van twee beserings tydens gister se kampioenskapswedstryd in Salta. Elton Jantjies sal toetse ondergaan om die omvang van sy liesbesering vas te stel. Die bokbreier, Allister Coetzee sê intussen die Poemas het dit verdien om te wen, omdat hul geleenthede baie beter as die Springbokke benut het. Die Springbokke is môre-oggend terug in Suid-Afrika voordat die span Donderdag na Brisbane vertrek. Die Springbokke speel op 10 September teen die Wallabies en ‘n week later teen die All Blacks in Christchurch.

Krieket: Nieu-Seeland hervat vanoggend hul eerste beurt op die derde dag van die tweede toets teen die Proteas in Centurion op 38 vir drie nadat Suid-Afrika gistermiddag op 481 vir agt verklaar het. Faf Du Plessis het ná sy vyfde toetshonderdtal nog tot op 112 gekolf voordat hy verklaar het.

Atletiek: Tsepang Ramonene van Lesotho het die Nelson Mandela marathon in Pietermaritzburg gewen. ‘n Atleet van Ethiopië, Selam Abere Alabaclew, was eerste in die vrouewedloop. Elkeen het 100-duisend rand prysgeld gekry.

Intussen het sowat 12-duisend mense die pretloop van vyf en tien kilometer in Kaapstad afgelê om geld vir honger kinders in te samel. Die Blase vir Brood-wedloop word elke jaar op die Seepunt promenade gehou. Elke deelnemer moes 50-rand betaal om te kon stap

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Gedeeltelik Bewolk met Ligte Reen –  met ‘n min 28 max van 37

Nelspruit –  Mooi Weer – met ‘n  min van 8 en ‘n max van 31

Pretoria  – Mooi Weer –  met ‘n  min van 12 en max van 30

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 10 en max van 28

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 12 en max van 32

Bloemfontein –Mooi Weer- met min 11 ‘n max van 27

Durban – Mooi Weer – met ‘n min van 19 en max van 30

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig

Indien jy ‘n program wil aanbied op SAUK Radio of jou besigheid wil adverteer kontak ons gerus. ons epos adres nuus@saukradio.com

Maak ook gerus gebruik van ons webwerf vir Volkseie besighede www.V.co.za plaas jou advertensie gratis daar.

Ons het Borge nodig vir ons programme

Die radio is daar vir ons mense om as platvorm te gebruik met geen winsbejag of roem vir die omroepers nie maar ons het fondse nodig om die stasie te bedryf. Indien jy ‘n program wil borg Kontak ons asb by nuus@saukradio.com

Skakel gerus in vir ons Uitsendings

KRAG VIR DIE DIE DAG

Jesaja 26:3 – “U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.”

Isaiah 26:3 – “ You will keep in perfect and constant peace the one whose mind is steadfast [that is, committed and focused on You—in both inclination and character], Because he trusts and takes refuge in You [with hope and confident expectation].

”Leon Ferreira se “Ek Vertrou Op U”

Huidiglik:

Heerlike musiek 24/7

 7vm weeksdae –  Nuus- en weer berig met Gottie Myburgh

10vm elke weeksdag – Gooi Mielies met Jaco Viljoen

1nm elke weeksdag –  Kinderprogramme & Bak en Proe  met Corrie

7nm  Maandag aande – Werk soek met Pieter  van Zyl

8nm Maandag aande  –  Bosoorlog met Corrie

9nm Maandag aande – Ons Lewende Erfenis met Pieter  van Zyl

7nm Dinsdag aande  –  SAUK RADIO Top 20 met Pieter van Zyl

7nm Woensdag aande – Geskiedenis met Gottie Myburgh

8nm Woensdag aande – Aktueel met Jaco Viljoen

7nm Donderdag aande – Hoezit ‘n Lekker versoek program met Pieter van Zyl

7nm Vrydag aande – Pot Soek ‘n Deksel met Corrie

8nm Vrydag aande – Musiek Mandjie met DJ Uiltjie

10:00nm tot Middernag elke aand musiek vermaak  en nog meer

Saterdagmiddag Sport program  en musiek met Gottie Myburgh en na die sport program n lekker Boeremusiek aand ook met Gottie Myburgh.

7nm Sondag aande – Kontroversiële gesprek program oor die Boervolk met Theunis Cloete, Jan Diedriks en Willem de Ou man van Boervolk Radio

  • Wil U ‘n omroeper by SAUK Radio wees?
  • Het U ‘n program wat jy wil aanbied en paar ekstra rande verdien?
  • Wil jy plaaslike nuus vir jou gemeenskap aanbied op ‘n voorafbepaalde tydstip?
  • Wil jy opnames maak oor sake van belang vir die Volk?

Help ons om ons erfenis terug te neem!

Kontak ons by nuus@saukradio.com

Dit is nou sommer maklik om ook na SAUK Nuus radio te luister direk vanaf ons Faceboek blad of met Tunein – Tunein werk openige selfoon, tablet, android, rekenaar, skootrekenaar mits jy internet opvangs het enige plek enige tyd wêreldwyd laai die tunein applikasie af op jou selfoon en soek vir SAUK Radio, Jy kan ook op jou selfoon Browser direk na die inskakel bladsy gaan met www.sauk.mobi.


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment