Woensdag 27 Julie

Noodberigte

1)DRINGENDE STORMWAARSKUWING:::::::

Die tornado het sylinks verby Bethal beweeg…Daar is baie skade….

Plaashuise se dakke is weg en store lê op die grond.

Dit is gepaardgaande met ‘n vieslike haelstreep….

RIGTING ERMELO……

2) Johannesburg.  Soweto PROTEST ACTION at Dhlamini – EXPECT DELAYS / DIVERSIONS Klipspruit Valley Road – Both Ways

3) N12 afdraai Delmas ry versigtig. Baie ys op die pad.

SAUK Radio Nuus berig vir Woensdag, 27 Julie 2016.

Ons Neem Ons Erfenis Terug. Stuur nuus aan nuus@saukradio.com

RAAK BETROKKE: Het U iets om te sê? Ons nooi graag omroepers en mense om betrokke te raak, selfs anoniem. Die platform is daar vir ons volk om te gebruik en is nie vir ons eie wins of roem nie.

Wil U op ons Nuus berigte of programme adverteer of borg? Ons sal die radio en webwerf advertensies vir U maak. Kontak ons by nuus@sauk.co.za

Goeie more en hartlik welkom by SAUK Radio

My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

NUUS

1) Ekuhuleni se rambestuurspanne het begin om rommel in die Phumulani-winkelsentrum in Tembisa aan die Oosrand op te ruim nadat `n tornado `n gedeelte van die dak afgeruk en die res laat ineenstort het. Niemand is in strom dood nie, maar minstens 23 mense is beseer en na plaaslike hospitale geneem. Die tornado het ook skade by die Tembisa-hospitaal aangerig en motors is deur hael beskadig. Die storm het groot dele van Tembisa sonder krag gelaat en rommel is oor paaie in die omgewing gestrooi. Die sterk wind het twee vragmotors omgewaai en die dakplate van die sentrum het skade aan motors in die parkeerterrein aangerig. Dit is onseker wanneer die winkelsentrum weer geopen sal word.  Swaar reën het in die Overberg-streek in die Wes-Kaap uitgesak maar geen skade is nog aangemeld nie. Die rampbestuurder vir die streek, Reinard Geldenhuys sê daar was egter probleme by `n kampeerterrein naby Gansbaai.

2) Die spanning het by die Naledi-myn by Middelburg in Mpumalanga hoog geloop toe inwoners nie die SAKP se Buti Manamela in hul gebied wou verwelkom nie. Die inwoners van die Steve Tshwete-munisipaliteit sê hulle word al lank verwaarloos. Manamela het gesukkel om gemoedere te kalmeer toe by van huis-tot-huis gegaan het. Die inwoners sê dit is te laat om nou stemme te werf. Hulle dink dat dit nou tyd is dat dienste gelewer word. Manamela het erken dat die inwoners se klagtes geldig is en sê die regering moet ingryp.

3) Nog `n persoon is in boendoegeweld by die Itsani-gemeenskap buite Lousi Trichard in Limpopo doodgemaak. `n Woordvoerder van die polisie, Moetshe Ngoepe sê die gemeenskap het die 30-jarige man aangeval omdat hulle gedink het dat hy `n misdadiger is. Dit beteken dat vyf mense reeds vanjaar in boendoegeweld in die provinsie dood is. Hy sê niemand is nog vir die jongste voorval in hegtenis geneem nie.

4) Die Wes-Kaap Hooggeregshof het `n aansoek dat die vonnisoplegging van die Smeddle-egpaar uitgestel word verwerp. Craig en Bridget Smeddle is verlede maand skuldig bevind aan die moord in 2014 op die 71-jarige Robert Symons in sy huis in Table View. Die regsverteenwoordiger vir die verdediging, Morne Basson het gevra dat die vonnisopleggings uitgestel word sodat hy vir `n appélaansoek kan voorberei. Die egpaar is reeds besig om tronkstraf van 15 jasar uit te dien vir `n moord wat hulle in 2011 gepleeg het. Regter Judith Cloete het beslis dat Basson nie enige besondere rede kon verskaf hoekom die vonnisoplegging uitgestel moet word nie.

5) Die Universiteit van Kaapstad sê hy ondersoek die oorsaak van `n brand wat gister by een van sy manskoshuise uigebreek het. Die inwoners moes uit die Leo Marquard-koshuis verwyder word. Een persoon is vir rookinaseming behandel.

6) ‘n Weeklange staking deur konstruksiewerkers by die Mpumalanga Universiteit in Mbombela, is beëindig. Dit volg nadat die universiteit en verteenwoordigers van die stakende werkers ‘n ooreenkoms bereik het. Die universiteit het ingestem om die werkers 225-rand per dag te betaal. ‘n Lid van die universiteit se raadgewende komitee, Neto Buckroshi sê die konstruksiewerkers sal môre hulle werk hervat.

7) Vyf roeiers en twee vyfkampatlete is die jongste groep Russe wat verbied is om aanstaande maand aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro deel te neem. Die twee sporte se beheerliggame sê hulle is betrek in die onlangse verslag oor opkikkers van die internasionale agentskap teen dwemmisbruik. Sewentien sportmanne en –vroue is nou al verbied sedert die Internasionale Olimpiese komitee besluit het dat elke sport self moet besluit oor die Russe se deelname.

8) Die Vryheidsfront Plus het Krieket Suid-Afrika van rassisme beskuldig oor sy besluit om `n kwotastelsel by die kies van sy nasionale spanne toe te pas. Krieket SA se president, Chris Nenzani sê hulle sal `n minimum getal swart spelers bepaal wat in nasionale spanne ingesluit moet word. Hy sê die teikens sal oor `n jaar bepaal word en nie van wedstryd tot wedstryd nie. Nenzani sê `n realistiese teiken sal bepaal word. Die sport het die afgelope ruk onder skoot gekom van die regering oor transformasie en `n verbod is geplaas op die bodproses vir internasionale toernooie. Die Vryheidsfront se parlementêre woordvoerder oor sport, Anton Alberts wys daarop dat die Suid-Afrikaanse sokkergroep van 22 spelers na die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro vertrek het sonder `n enkele wit speler in die groep.

9) Die Konstitusionele Hof het die Tesourie se aanbeveling oor die bedrag wat President Jacob Zuma persoonlik moet betaal vir opgraderings by sy Nkandla-woning, amptelik goedgekeur. Die Tesourie het bevind dat President Zuma sewe-komma-agt miljoen rand moet terugbetaal. Die Konstitusionele Hof het vroeër vanjaar beslis dat die president na aanleiding van ‘n verslag deur die Openbare Beskermer, ‘n redelike persentasie van die geld wat bestee is aan opgraderings wat nie met veiligheid verband hou nie, moet terugbetaal. Die kostes hou verband met die swembad, besoekersentrum, amfiteater, veekraal en hoenderhokke. Die president het nou 45 dae tyd om die geld terug te betaal.

10) Die ministerie van Openbare Werke sê hy is oortuig dat daar niks fout is met die grondonteieningswetsontwerp wat deur die parlement goedgekeur is nie. Dit volg nadat President Jacob Zuma die parlement se voorsittende beamptes gevra het om te verduidelik watter proses gevolg is om die wetsontwerp goed te keur. Die wetsontwerp laat die onteiening van grond deur die staat in die openbare belang toe. Die presidensie sê Zuma het versoekskrifte van verskeie indiwidue en organisasies teen die ondertekening van die wetsontwerp ontvang. Die minister van Openbare Werke, Jeremy Cronin sê die president bevraagteken die proses wat gevolg is, en nie die inhoud van die wetsontwerp nie.

11) Die waarnemende polisiekommissaris, Kgomotso Phahlane het hom sterk uitgespreek teen kinderhandel. Dit volg nadat die polisie in Noordwes toegeslaan het op `n sindikaat wat 57 kinders in Malawi ontvoer en na Suid-Afrika gebring het. Phalane sê die kinders is tussen elf en 15 jaard oud, en word in plekke van veiligheid in Rustenburg gehuisves. Die polisie het vroeër `n vragmotor by Boitekong afgetrek wat te vinnig gery het. Die kinders is in die vragmotor gevind. Drie Malawiese burgers het reeds in die hof verskyn op aanklagte van mensehandel en dat hulle onwettig in die land is. Hulle sal weer op 13 September in die hof verskyn en bly in aanhouding. Die polisie sê dit is waarskynlik die grootste kinderhandelsaak nog in Suid-Afrika.

12) Die Islamitiese Staat-militantegroep het aanspreeklikheid aanvaar vir die dood van ‘n 84-jarige priester in ‘n aanval op sy kerk in Normandië in die noorde van Frankryk. Die Franse president, Francois Hollande het die aanval vroeër as ‘n terreurdaad bestempel, en sê Frankryk sal alles in sy vermoë doen in die oorlog teen die militantegroep. Twee gewapende mans het die priester, twee nonne en twee kerkgangers as gyselaars aangehou, voordat hulle deur die polisie doodgeskiet is. Die priester is vermoor en nog ‘n gyselaar is ernstig gewond. Dit is die jongste in ‘n reeks aanvalle in Europa, en volg 12 dae na ‘n Bastille-dag aanval in Nice, waarin 84 mense dood is.

13) Swaar reën en oorstromings in KwaZulu-Natal het ‘n derde slagoffer geëis, nadat die liggaam van ‘n man in Cato Manor uit die modder gehaal is. Nog ‘n man is dood in ‘n ongeluk in Durban, en die liggaam van ‘n vrou van Chatsworth is vroeër gevind nadat haar voertuig gisteraand deur vloedwaters op ‘n laagwaterbrug meegesleur is. ‘n Soektog is steeds aan die gang na nog ‘n vrou wat eergister by Glen Anil in Durban meegesleur is. Die Weerdiens in KwaZulu-Natal het intussen ‘n waarskuwing uitgereik dat swaar reën, oorstromings en sneeu steeds in dele van die provinsie kan voortkom. Meer as 200 milimeter reën het reeds teen eergister aan die suidkuis geval.

14) Die Johannesburgse tweeling wat daarvan beskuldig word dat hulle die Amerikaanse ambassade en Joodse instellings wou aanval, het in die Johannesburgse Landdroshof die wettigheid van hulle inhegtenisneming uitgedaag. Brandon Lee en Tony Lee Thulsie sou na verwagting vandag om borgtog aansoek gedoen het. Hulle regsverteenwoordiger, Anneline van den Heever voer egter aan dat haar kliënte sonder ‘n lasbrief in hegtenis geneem is, wat dit onwettig maak. Dit is vervat in ‘n beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is as deel van die broers se borgtogaansoek. Landdros Pieter du Plessis het die hof vir die tweede keer verdaag, en sê die kwessie van die wettigheid van die inhegtenisnemings moet eers hanteer word voordat borgtog oorweeg kan word.

15) Die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het ‘n internasionale veldtog bekendgestel om sowat 45-miljard rand in te samel om die gevolge van die ergste drooogte nóg in Suidelike Afrika hok te slaan. Die SAOG se voorsitter, Ian Khama het die beroep vir hulp in Gabarone in Botswana gedoen. Khama sê hulle is baie bekommerd oor voedselsekerheid en miljoene mense lei honger omdat hul oeste verdroog het. Khama sê sommige internasionale skenkers het hulp belowe. In Suid-Afrika is die mielie-oes net oor die sewe-miljoen ton wat vier-miljoen ton minder as gewoonlik is. In Lesotho en Swaziland is die oeste sowat die helfte kleiner. Die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling het reeds aangedui dat hy bykans twee-miljard rand beskikbaar sal stel vir droogtehulp. Dit sal gebruik word om sowat 17 miljoen mense in Malawi, Zimbabwe, Mosambiek, Madagaskar, Lesotho en Swaziland te help. Die geld sal beskikbaar gestel word deur die Verenigde Nasies en nie-regeringsorganisasies.

16) Dit is onseker wanneer die Phumulani-winkelsentrum in Tembisa aan die Oosrand weer oopgestel sal word nadat ‘n tornado gistermiddag die dak afgeruk en dele van die gebou ineengestort het. Die dak het ‘n naburige vulstasie en motors beskadig. Die storm het ook skade aan die Tembisa-hospitaal aangerig. Verskeie mense is in die storm beseer. Die winkeleienaars sê dit het baie vinnig gebeur. Volgens hulle het die wind skielik deur die sentrum gewaai en die volgende oomblik het die dak opgelig.

17) Die eThekwini-munisipaliteit het strande in die noorde en suide van Durban gesluit weens stormagtige toestande en hoë deinings. Die munisipaliteit sê rampspanne monitor die vlakke van riviere en strome. Talle inwoners se huise kan oorstroom word weens die styging in stormwater na die swaar reën. Die gebied wat die meeste bedreig word, is KwaMashu waar water reeds deur sommige huise stroom. Inwoners word in `n plaaslike gemeenskapsaal gehuisves.

18) Die Pro-Makhado-forum in Vuwani in Limpopo wat die insluiting van die gebied by ‘n nuwe munisipaliteit teenstaan, het hul protesaksie tydelik opgeskort. Die groep het alle dienste in die gebied sedert 1 Mei tot stilstand gebring en bykans 30 skole is beskadig of aan die brand gesteek. ‘n Woordvoerder van die forum, Nsovo Sambo sê hul protesaksie is tot Saterdag opgeskort sodat pensioentrekkers hul toelaes kan gaan kry. Sambo het weer daarop gewys dat hulle die munisipale verkiesings aanstaande Woensdag gaan boikot.

19) Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan sê die Suid-Afrikaanse Lugdiens het ‘n nuwe raad nodig. Gordhan, wat die Johannesburgse Kamer van Koophandel en Nywerheid in Sandton toegespreek het, sê die S.A.L het `n ervare bestuurspan nodig. Volgens hom moet ‘n omkeer-strategie ingespan word om dit moontlik te maak vir die lugdiens om voort te gaan. Gordhan se verklaring volg te midde van ‘n geskil tussen hom en die S.A.L se raadsvoorsitter, Dudu Myeni. Volgens die DA kan dit die maatskappy tot op die rand van ‘n ineenstorting dryf. Gordhan het drie keer vir uitstel gevra vir die sperdatum waarop die S.A.L sy finansiële verslae bekend moet maak.

20) Die Deense burger wat daarvan beskuldig word dat hy vroue geslagsdele versamel het, bly in aanhouding. Peter Frederiksen se poging om op borgtog vrygelaat te word, het vasgeval toe nog aanklagte in die Bloemfonteins landdroshof bygevoeg is. Die 63-jarige Frederiksen staan tereg op 59 aanklagte nadat geslagsdele in September in sy yskas gevind is. Die Valke beweer ook dat Frederiksen onwettig medisyne van Denemarke ingevoer het. Die nuwe aanklagte hou verband met `n klopjag by sy vuurwapenwinkel in Bloemfontein. Meer as een-duisend-400 vuurwapens is vir ballisttiese toetse weggestuur. Die vermoede bestaan dat van die wapens dalk vir onwettige bedrywighede gebruik is.

21) Hillary Clinton is amptelik verkies tot die Amerikaanse Demokratiese Party se presidentskandidaat vir die verkiesing in November. Sy kom te staan teen die Republikeinse kandidaat, Donald Trump. Clinton het by die Demokrate se Nasionale Konvensie in Philadelphia die nodige aantal stemme van die onderskeie state op haar verenig en so die eerste vrou in Amerika geword wat aan die stuur van ‘n groot politieke party staan. In ‘n simboliese gebaar van eenheid het haar teenstaander in die wedloop om die benoeming, Bernie Sanders, sy steun aan Clinton toegesê. Clinton sal Vrydagoggend Suid-Afrikaanse tyd die benoeming amptelik aanvaar.

22) KRIEKETNUUS: Die Proteas se jong snelbouler, Kagiso Rabada se uitstekende seisoen in internasionale krieket is beloon met drie toekennings by die jaarlikse nasionale kriekettoekennings. Hy is aangewys as die Eendag-speler van die jaar, die Toetsspeler van die jaar en dat hy die die beste Bal van die jaar geboul het. Rabada het 30 paaltjies in 11 eendagwedstryde geneem, terwyl hy 24 paaltjies in ses toetse laat kantel het. Hy het ook 13 paaltjies vir die verlies van 144 lopies in die toets in Centurion teen die Engelse geneem. Die beste bal was vir een van sy paaljies in die T20-wedstryd teen Engeland.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad  Mooi Weer –  met ‘n min 25 max van 34

Nelspruit –  Mooi Weer – met ‘n  min van 7 en ‘n max van 25

Pretoria  – Mooi Weer met ligte Reen  met ‘n  min van 6 en max van 15

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 3en max van 13

Vereeniging –Mooi Weer – met Ligte Reen ‘n  min 5 en max van 14

Bloemfontein –Gedeeltelik Bewolk – met min 3 ‘n max van 9

Durban – Gedeeltelik Bewolk met verspreide buie  met ‘n min van 12 en max van 21

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 4 en max van 16

Oos London –  Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 23

Kaapstad –Mooi Weer- met n min van 12 en max van 18

Upington – Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min van 5 en max van 15

Sutherland –Bewolk, Koud met Reen  met Minus 1 en max 3

PE- Mooi Weer  –  met ‘n min 11 en max van 22

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig

Indien jy ‘n program wil aanbied op SAUK Radio of jou besigheid wil adverteer kontak ons gerus. ons epos adres nuus@saukradio.com

Maak ook gerus gebruik van ons webwerf vir Volkseie besighede www.V.co.za plaas jou advertensie gratis daar.

Ons het Borge nodig vir ons programme

Die radio is daar vir ons mense om as platvorm te gebruik met geen winsbejag of roem vir die omroepers nie maar ons het fondse nodig om die stasie te bedryf. Indien jy ‘n program wil borg Kontak ons asb by nuus@saukradio.com

Skakel gerus in vir ons Uitsendings

KRAG VIR DIE DIE DAG

Mattheüs 19:14 – “ Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”

Lukas 22:32 – “ Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.”

Anneli Van Rooyen se “Laat die kinders kom”

Huidiglik:

Heerlike musiek 24/7

 7vm weeksdae –  Nuus- en weer berig met Gottie Myburgh

10vm elke weeksdag – Gooi Mielies met Jaco Viljoen

1nm elke weeksdag –  Kinderprogramme & Bak en Proe  met Corrie

7nm  Maandag aande – Werk soek met Pieter  van Zyl

8nm Maandag aande  –  Bosoorlog met Corrie

9nm Maandag aande – Ons Lewende Erfenis met Pieter  van Zyl

9nm Dinsdag aande – Internasionale Top 20 met Pieter van Zyl

7nm Woensdag aande – Geskiedenis met Gottie Myburgh

8nm Woensdag aande – Aktueel met Jaco Viljoen

7nm Donderdag aande – Hoezit ‘n Lekker versoek program met Pieter van Zyl

7nm Vrydag aande – Pot Soek ‘n Deksel met Corrie

8nm Vrydag aande – Musiek Mandjie met DJ Uiltjie

10:00 tot 1uur  elke aand musiek vermaak  en nog meer

Saterdagmiddag Sport program  en musiek met Gottie Myburgh en na die sport program n lekker Boeremusiek aand ook met Gottie Myburgh.

7nm Sondag aande – Kontroversiële gesprek program oor die Boervolk met Theunis Cloete, Jan Diedriks en Willem de Ou man van Boervolk Radio

  • Wil U ‘n omroeper by SAUK Radio wees?
  • Het U ‘n program wat jy wil aanbied en paar ekstra rande verdien?
  • Wil jy plaaslike nuus vir jou gemeenskap aanbied op ‘n voorafbepaalde tydstip?
  • Wil jy opnames maak oor sake van belang vir die Volk?

Help ons om ons erfenis terug te neem!

Kontak ons by nuus@saukradio.com

Dit is nou sommer maklik om ook na SAUK Nuus radio te luister direk vanaf ons Faceboek blad of met Tunein – Tunein werk openige selfoon, tablet, android, rekenaar, skootrekenaar mits jy internet opvangs het enige plek enige tyd wêreldwyd laai die tunein applikasie af op jou selfoon en soek vir SAUK Radio, Jy kan ook op jou selfoon Browser direk na die inskakel bladsy gaan met www.sauk.mobi.


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment