Vrydag 30 September

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Vrydag, 30 September 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)In een van die verstommendste vertonings tydens ‘n perskonferensie, het die SABC se nuwe waarnemende uitvoerende hoof, James Aguma, met ‘n glimlag op sy gesig gesê dat hy jammer is om joernaliste teleur te stel dat die SABC se verlies nie groter is as wat dit is nie. Dit is “net” R411 miljoen.

Aguma moes die aankondiging maak, nadat sy omstrede voorganger, Hlaudi Motsoeneng, uit die pos verwyder is na ‘n hofuitspraak. Motsoeneng het egter wel die mediakonferensie bygewoon. Alhoewel die verlies aangegaan is in Motsoeneng se tyd as bestuurshoof, word die verlies nie aan hom gewyt nie. Aguma se stelling was dat ‘n openbare uitsaaier nie teen wins bedryf kan word nie. Daarin is hy ook verkeerd, aangesien die SABC ‘n bedryfswins gehad het in die 2013/14 finansiële jaar van R358 miljoen. Daar is ook nou skielik ontken dat Motsoeneng ‘n bonus van R11 miljoen gekry het.

Die Ouditeur-Generaal se verslag maak egter melding van onnodige en spandabele uitgawes en ook ongemagtigde uitgawes. Dit lyk egter nie of die SABC-raad van plan is om ondersoek in te stel na die OG se bevindinge en wie die skuldiges is nie.

2)Die graderingsagentskap,Standard and Poor’s sê die stadige hervorming van die land se staatsbeheerde maatskappye en die woelinge in verband met die Minister van Finansies, hou ‘n risiko in vir die land se beleggings-kredietgradering. Die agentskap se besturende direkteur vir Afrika suid van die Sahara, Konrad Reusson, sê hulle verwelkom die teikens wat die Nasionale Tesourie gestel het. Reusson sê egter die politieke woelinge en druk op minister Pravin Gordhan is kommerwekkend. Hy het tydens ‘n bankkonferensie in Johannesburg gepraat. Die agentskap het Suid-Afrika se trippel B gradering in Junie op ‘n negatiewe vooruitsig gelaat.

3)Die ANC sê hy het nooit die versperring van seine in die Parlement gesteun nie. Die party se verklaring volg op die uitspraak van die Appèlhof dat die versperring van seine en die Parlement se uitsaaibeleid onwettig en ongrondwetlik is.

Selfoonseine is met verlede jaar se Staatsrede in die Raad versper en die lede van die EFF is met geweld verwyder omdat hulle probeer het om die President se toespraak te ontwrig. Die woordvoerder van die ANC-koukus, Moloto Mothapo, sê hulle sal dit aan die Parlement oorlaat om te besluit hoe hy met die uitsaaibeleid wil voortgaan.

Mothapo sê die seine moes nooit geblokkeer gewees het nie en behoort ook nie in die toekoms te gebeur nie omdat hulle die regte van die publiek en die media respekteer. Die Parlement het vroeër gesê hy het kennis geneem van die uitspraak van die Appèlhof, en is besig om dit te bestudeer.

4)Die Universiteit van die Witwatersrand sê die uitslag van die meningspeiling wat aan studente en personeel uitgestuur is, sal eers vanmiddag beskikbaar wees. Die peiling is deur teksboodskappe en e-pos gedoen. Wits het studente gevra of hulle hulle lesings Maandag wil hervat of nie. Die universiteit se woordvoerder, Shirona Patel, sê hulle hoop om ‘n nuuskonferensie te hou om die uitslag van die peiling aan te kondig.

5)’n Verslag deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het bevind dat werkskeppingsprogramme nie doeltreffend genoeg was om die groot getalle werklose jeugdiges op te neem nie. Dié Verslag oor die Aanbod en Aanvraag van Vaardighede is deur die departement van hoër onderwys en opleiding aangevra. Dit het onder meer ook bevind dat 15 mijoen mense in Suid-Afrika tans werk het, en sewe-komma-vyf miljoen wat wel voorheen gewerk het, tans nie werk het nie. Werkloosheid onder die jeug is veral hoog en neem toe. Van al die werklose mense in Suid-Afrika, is negentig persent swart.

6)Daar is nog geen oplossing vir die staking by die Tafelberg Kabelspoor nie. Werkers eis ‘n 15 persent verhoging. Die bemarkingsbestuurder van die Kabelspoor, Collette van Aswegen, sê die vakbond het die maatskappy se jongste aanbod van tien persent verwerp. Sy sê die onderhandelinge sal vandag voortgaan.

7)Kerkklokke is gisteraand om presies drie minute oor tien in die Bolandse dorpe Ceres, Tulbagh, Wolseley en Prins Alfred Hamlet gelui om die 37ste herdenking van die aardbewing wat die gebiede destyds getref het, te gedenk. Die aardbewing wat op 29 September 1969 voorgekom het, is as die mees verwoestende in die geskiedenis van die land bestempel. Elf kinders is in ‘n kinderhuis dood.

8)Die regering van Rusland sê hulle sal voortgaan met lugaanvalle op die ooste van die stad Aleppo in Sirië wat deur rebelle beheer word, ten spyte van Amerika se eise dat hulle die lugaanvalle staak. ‘n Woordvoerder van die regering, Dimitry Peskov sê dit is meer as ‘n jaar sedert Rusland begin het met sy militêre ingryping om die Siriese weermag te steun en dat hulle daarmee sal voortgaan. Amerika en Rusland het vir maande lank onderhandel om ‘n skietstilstand in werking te stel, maar die jongste skietstilstand-ooreenkoms het verlede week na slegs ‘n paar dae in duie gestort. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, John Kerry het vroeër gewaarsku dat Amerika dit sterk oorweeg om samesprekings met Rusland oor Sirië op te skort. Die Verenigde Nasies se humanitêre hoof, Stephen O’Brien het toestande in Aleppo as ‘n humanitêre ramp bestempel.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Bewolk–  met ‘n min 27 max van 35

Nelspruit –  Gedeeltelik Bewolk Met Donderbuie – met ‘n  min van 16 en ‘n max van 29

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 14 en max van 30

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 9 en max van 27

Vereeniging –Bewolk – ‘n  min 8 en max van 29

Bloemfontein –Gedeeltelik Bewolk – met min 8 ‘n max van 25

Durban – Gedeeltelik Bewolk met Ligte Reen– met ‘n min van 18 en max van 23

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 31

Oos Londen –Mooi Weer – met ‘n min 10 en max van 23

Kaapstad –Mooi Weer –met  min van 13 en max van 19

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 13 en max van 29

PE- Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 20

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment