Vrydagmiddag 30 September

SAUK Radio Nuus berig vir Vrydagmiddag, 30 September 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die Tafelberg kabelspoor staan al etlike dae stil as gevolg van ‘n staking, en dit lyk nie asof ‘n oplossing op die kort termyn in die vooruitsig is nie.

Werkers van dié wêreldbekende kabelspoor staak omdat hulle ‘n verhoging van 15 persent in hulle salaris eis. Die kabelspoor se bestuursmaatskappy het ‘n aanbod van tien persent gemaak, maar dit is deur die werkers se vakbond verwerp. Dit is nog ‘n voorbeeld van onbillike eise van vakbonde. Die amptelike inflasiekoers is stewig onder tien persent, wat die aanbod van die maatskappy ‘n billike aanbod maak.

Die ekonomiese skade wat gelei word met die staking, kan reeds miljoene beloop aangesien dit een van die groot trekpleisters in die Moederstad is.

2)Die sogenaamde “FeesMustFall”-veldtog het universiteite tot dusver net aan struktuurskade R460 miljoen gekos tussen Oktober verlede jaar en ei vanjaar. Die laaste rondte geweldpleging is nog nie by hierdie berekeninge ingewerk nie.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal het die meeste skade gehad van sowat R262 miljoen. Die Universiteit van Johannesburg wil nie die skade van R100 miljoen vir sy ouditorium wat afgebrand het, koppel aan die veldtog nie. Die Universiteit van Noordwes is nog besig om die skade te bepaal wat hy gelei het by sy ingang by die Mahikeng-kampus. Dit blyk dus dat die bedrag van R460 miljoen se direkte skade aan universiteite, nog baie konserwatief is.

Akademici wys daarop dat heelwat studente met so ‘n bedrag gratis kon studeer het, maar nou moet akademiese instellings self die geld vind om die infrastruktuur te herstel. Intussen het die minister van Finansies, Pravin Gordhan, gesê dat daar genoeg geld sou kon wees vir studente om gratis te studeer, indien die staat sy geldsake beter bestuur en meer aan sy uitgawes te besnoei.

3)Die staatsbeheerde diamantmaatskappy, Alexkor, het in die afgelope geldjaar ‘n verlies van meer as 35 miljoen rand gely. Die maatskappy se jaarverslag is in die parlement voorgelê. In die vorige geldjaar het die maatskappy 82 miljoen rand se verlies getoon. Alexkor se inkomste het met sewe persent gedaal en die aantal karaat wat die maatskappy gelewer het, het van 74-duisend tot 45-duisend karaat gedaal.

4)Koning Goodwill Zwelithini het hom nie skuldig gemaak aan enige haatspraak ten opsigte van die xenofobiese aanvalle in die land verlede jaar nie. Die Menseregtekommissie het sy verslag bekendgemaak oor die 31 klagtes wat ontvang is ná Zwelithini se toespraak op Pongola in KwaZulu-Natal. Zwelithini sou gesê het dat vlugtelinge van buurlande huis toe behoort te gaan. Hy het aangevoer dat hy verkeerd aangehaal is. Die kommissie het bevind dat daar geen oorsaaklike verband was tussen Zwelithini se opmerkings oor migrante en die vreemdelingehaat-aanvalle waartydens sewe mense dood is nie. Die kommissie sê sy toespraak moet in die konteks waarin dit gelewer is, verstaan word. Meer as duisend mense is gedurende dié tyd ontwortel en moes in tydelike kampe gehuisves word.

5)Die polisie se hulp moes ingeroep word tydens ‘n vergadering van die munisipale raad op Thabazimbi in Limpopo. Die burgemeester, Midah Moselane sê ANC-raadslede het oproerig geraak en het die vergadering ontwrig. Hulle beweer dat hulle nie die sakelys ontvang het nie. Moselane sê die sakelys is meer as sewe dae voor die vergadering aan alle raadslede gestuur. Thabazimbi is een van twee munisipaliteite in die provinsie wat nie onder ANC-beheer is nie.

6)Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie gaan nie sy akademiese bedrywighede opskort oor gister se studenteprotesoptrede by sy Bellville-kampus nie. Die universiteit het weens die ontwrigting deur studente sommige van sy klasse gistermiddag opgeskort. Die universiteit se woordvoerder, Norman Jacobs sê hulle sal egter die situasie op die kampus monitor.

7)Lesings by die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley is steeds opgeskort, maar studente het toegang tot geriewe op die kampus. Dinsdag het betogende studente paaie versper en konstruksietoerusting beskadig. Vier-en-twintig studente is in hegtenis geneem. Die president van die studenteraad, Tiro Cwaile sê hulle sal wag vir die uitslag van verskeie vergaderings, insluitend dié tussen die direkteur-generaal van hoër onderwys en studenteraadsvoorsitters, voordat ‘n besluit oor verdere betogings geneem sal word.

8)Die polisie ondersoek ‘n saak van diefstal by die huis van Winnie Madikizela-Mandela in Soweto. Volgens berigte is 83-duisend rand by haar huis in Orlando-Wes gesteel. Dit was Madikizela-Manelda se verjaarsdaggeld vir haar 80ste verjaarsdag. ‘n Polisiewoordvoerder, Kay Makhubele sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment