Woensdag 19 Oktober

Goeie dag en hartlik welkom by SAUK Radio se Nuus, my naam is Don en hier is die nuus vir 19 Oktober 2016 verkry van Die Vryburger onder andere.

Indien U die nuus wil borg en jou besigheid se naam hier wil hoor, elke uur deur die dag weeksdae, kontak ons op nuus@saukradio.com.

Stuur ook asb. enige nuus berigte of artikels aan nuus@sauk.co.za

Luister na die potgooi hier:

#HNP gaan Die Alternatief vir die huidige bedeling bespreek by hul opkomende kongress.

Dit is die tema van die Herstigte Nasionale Party se 47ste Jaarkongres wat eerskomende naweek in Pretoria plaasvind.

Die kongres vind Saterdag plaas in die saal van die Erika Volkspelelaer, HF Verwoerdrylaan 321, Gezina, Pretoria en begin om 08:30

Mnr. Peet Joubert, die party se voorsitter, sal sy jaarverslag lewer, waarna die Willie Marais Wisseltrofee oorhandig sal word.

Daar sal ‘n leiersverkiesing plaasvind, waartydens ‘n hoofleier en twee onderleiers verkies sal word. Na sy verkiesing sal die nuutverkose leier die kongres toespreek.

Daarna sal de kongres in diepte die kongrestema bespreek, en besin oor wat die werkbare alternatief is vir die huidige politieke bedeling, wat vir die Afrikaner onaanvaarbaar is, en hoe om by so ’n nuwe bedeling uit te kom.

#ANC-staatshoof Jacob Zuma het aan die buitelandse hoofde van die diplomatieke diens gesê dat diplomate oorsee nie bekommerd moet wees oor die situasie in SA nie.

Indien hul navrae ontvang oor die toestand van die land, en veral die studente onrus, moet hul sê dat demokrasie besig is om “volwasse” te word. Hy reken dat die vrese wat bestaan dat die land besig is om te verval, nie waar is nie en dat alles goed gaan in die land.

Intussen word Zuma sterk gekritiseer omdat hy meer in die buiteland is as in sy eie land. Sover hierdie jaar was hy al 75 dae in die buiteland, terwyl sy finansminister aangekla word, universiteite afgebrand word en die land se ekonomie beweeg na rommelstatus. Ontleders sê dis geen wonder dat hy in ‘n droomland leef nie, want hy is nie in die land om te weet wat werklik aangaan nie, en dan gee hy misleidende inligting aan sy diplomate.

#Personeel by die Natalse onderwysdepartement wat nie hul pligte nakom nie sal voortaan tot verantwoording geroep word.

Dit is die belofte van die nuwe hoof van die departement, Vusumuzi Nzama.

Volgens Nzama is daar ‘n klomp persone wat nie hul werk verrig nie en wat lei tot “massiewe foute” met interne beheer en kontrole. Vermorsing van fondse en ongekontroleerde uitgawes sal nagegaan word. Tyd sal leer of die departement se werksvermoë sal verbeter.
#Die SA Wind Energie Assosiasie (SAWEA) het ‘n amptelike klag by Nersa gelê teen Eskom. SAWEA beweer dat Eskom sy posisie misbruik om sodoende sy eie beleggings by nuwe ontwikkelings te beskerm.

Eskom weier klaarblyklik om kragopwekking te diversifiseer wat ‘n direkte impak het op die windenergie opwekking van krag.

Intussen is die regering ook weer onder skoot oor sy kernkrag program. Ten spyte van baie besware, gaan die betrokke minister voort met die omstrede projek. Die gevoel is dat daar ander moontlikhede is vir kragopwekking wat goedkoper kan wees. Eskom klou egter aan sy monopolie met kragvoorsiening.

#Die prys van brandstof gaan op 2 November 2016 weer styg.

Volgens die AA het die verlaging in produksie deur die olieproduserende lande daartoe gelei dat oliepryse begin styg het en sodoende meewerk tot ‘n styging in brandstofpryse. Daarbenewens bly die rand onbestendig.

Die voorspelling is tans dat petrol met 48 sent, diesel met 64 sent en lampolie met 57 sent gaan styg.

Hierdie styging sal ‘n direkte impak hê op voedselpryse en boere sal veral hard getref word in die komende plantseisoen wat op hande is nadat die eerste reën begin val het.
#Die drukgroep Reg om te Weet gaan vandag buite MTN se hoofkantoor in Kemptonpark, Gauteng, betoog. Woordvoerder Busi Mtabane sê Suid-Afrikaners word die reg op basiese kommunikasie ontneem omdat data- en lugtydpryse te hoog is:

Klankgreep
#Kernkrag-verbruikers moet krag in eie hande neem, sê VF Plus
Die minister van energie, me. Tina Joemat-Pettersson, probeer die beplande kernkragbouprogram met verdagte syfers aan Suid-Afrika afsmeer, sê die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie, adv. Anton Alberts.

Volgens adv. Alberts kan gewone landsburgers die hele plan dwarsboom deur krag letterlik, in die vorm van sonkrag, in eie hande te neem.

Hy sê verbruikers kan tans op dié manier krag teen 40c per eenheid opwek, in teenstelling met Eskom se groothandelsprys van ongeveer 80c en munisipale tariewe van rondom R1,60.

Boonop geld die 40c net vir die betaalperiode van vyf jaar, terwyl die panele vir nog 20 jaar teen volle kapasiteit kan opwek. Daarna daal effektiwiteit tot sowat 80%, wat steeds baie nuttig is.

Die Noord-Kaapse VF Plus-leier, dr. Wynand Boshoff, wys daarop dat daar geen mark vir kernkrag sal wees indien die dakke van huise, skole, kerke, industriële- en landboustrukture vir die opwekking van sonkrag aangewend word nie.

Hy sê die VF Plus beywer hom nog altyd vir selfstandige gemeenskappe en hierdie is ‘n uitstekende geleentheid vir gemeenskappe om hulself, liewer as ‘n politieke keurgroep, ekonomies te bemagtig

#Die Kaapstadse stadsraad het ‘n openbare deelname-proses aanbeveel vir die voorgestelde verhuring van handelsruimte en parkering by die Kaapstad-stadion. Raadslid Johan van der Merwe sê die sakeplan is daarop gemik om die ontwikkelingsmoontlikhede en bemarkbaarheid van die stadion te verhoog:

Klankgreep
Nuusflitse van die Buiteland

Montenegro

Die pro-Westerse regering van Montenegro het die algemene verkiesing gewen te midde van die groot beleggings wat deur Rusland gemaak is wat die groeikoers tot 3,2% laat styg het. Die land met sy 620 000 inwoners bestaan reeds sedert die 5de eeu.

Frankryk

Duisende optoggangers het in die strate van Parys gestap om beswaar te maak teen die wettigheid van homoseksuele huwelike, wat klaarblyklik ook ’n sterk punt van debat sal ontlok tydens die land se algemene verkiesing in 2017.

Duitsland

Die regse eerste minister van Hongarye, Viktor Orban, het Maandag besoek afgelê by die Parlement van Bavaria, waar hy onder meer ook ’n ontmoeting gehad het met die eerste minister van Bavaria. Horst Seehofer..

VSA

In ’n maraton operasie van 27 uur is ’n Siamese tweeling van mekaar geskei wat aanmekaar was by die skedel, en moes verdere operasies uitgevoer word op beide seuns wat nou elkeen in sy eie bedjie kan slaap.

Noord Carolina

’n Brand het die Republikeinse Party se hoNuusflitse-4ofkantoor in die deelstaat Noord Carolina, gedeeltelik in puin gelê, en voorlopige ondersoeke toon dat dit toegeskryf kan word aan sabotasie.

Oekraïne

Arsen Pavlov (33), was ’n militêre leier van die pro-Russiese magte in die ooste van die Oekraïne, maar het die naweek omgekom toe ’n tuis vervaardigde bom in sy woonplek ontplof het.

Sport
#SA Rugby se afrigters-indaba vind vandag en môre in Kaapstad plaas. Die toestand van die spel in die land sal onder meer bespreek word, asook die oorweging van oorsese spelers vir die nasionale span. Die gewese Springboksenter en afrigter van die Haaie en Saracens, Brendon Venter, is die voorsitter. Oud-Bokafrigter Peter de Villiers glo nie die indaba sal veel verskil maak aan die sport nie.

# Motorsport: Die Mercedes-renjaer Lewis Hamilton is aangesê om môre die bestuurders-nuuskonferensie by te woon voor Sondag se Amerikaanse grand prix. Hy is gekritiseer oor sy gedrag op ‘n nuuskonferensie by die Japanse grand prix toe hy net kort antwoorde gegee en verder op sy selfoon gespeel het. Die Brit het daarna gesê hy sal nie weer met die media praat nie, maar die beheerliggaam, FIA, sê dit is verpligtend.
# En geldsake: Die Rand verhandel teen 13 Rand-88 sent teen die dollar, 15 Rand-24 sent teen die euro en 17 Rand-1 sent teen die pond. Goud verkoop vir duisend-262 dollar per fynons en die prys van Brent ruolie is 52 dollar-19 sent per vat.
Dit is die einde van die SAUK Radio Nuus berig. Indien U die nuus wil borg en jou besigheid se naam hier wil hoor, elke uur deur die dag weeksdae, kontak ons op nuus@saukradio.com.
Stuur ook asb. enige nuus berigte of artikels aan nuus@sauk.co.za en onthou die nuus berigte is ook op ons webwerf beskikbaar as ‘n potgooi by saukradio.com


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment