Woensdag 28 September

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir Woensdag, 28 September 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Minstens twee van die Boeremag lede beweer glo dat hulle nie ’n billike en regverdige verhoor gehad het nie en dat hulle reeds voor die verhoor plaasgevind het, tot oorlog gevangene verklaar is.

Die twee broers wat saam met ander lede van die sogenaamde Boeremag in 2013 vir 25 jaar hardepad gevonnis is, het ’n aansoek vir herverhoor ingedien.

Regter Eben Jordaan het Maandag die appèl aansoek van die hand gewys van dr. Johan Pretorius en sy broer Wilhelm, en gesê daar is geen moontlikheid dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking of bevinding sou kom nie.

Die twee broers wat hulle eie saak behartig, het daarna aangedui dat hulle die Appèlhofdirek gaan nader. Die twee beweer ook dat hulle “onmenslik” behandel is omdat hulle reeds 11 jaar tronkstraf uitgedien het terwyl hulle verhoor afwagtend is, en dit behoort reggestel te word.

Regter Jordaan het daarop gewys dat die hofsaak een van die langstes was wat in Suid-Afrika geduur het, en talle aansoeke en klagtes is in die tyd aangehoor wat die lang vertragings veroorsaak het. Volgens die regter het die twee broers ook nie gekwalifiseer vir oorlog misdadigers nie.

2)’n Buffel bul wat die afgelope week op ’n veiling verkoop is, het klaarblyklik ’n rekord prys behaal, en is waarskynlik enig in sy soort.

Die buffel is teen die astronomiese bedrag van R168 miljoen van die hand gesit en dit beklemtoon die feit dat hy enig in sy soort is. Die bul wat behoort het aan die Thaba Tholo Reservaat is verlede Vrydag verkoop, en was die grootste aantrekkingskrag van die diere wat op die katalogus verskyn het.

Die Uitvoerende Hoof van die Reservaat, Rubin Els, het gesê die bul word reeds geruime tyd beskou as ’n besondere dier, en is nou op die agtste veiling van die reservaat van die hand gesit. Die buffel is in 2012 as ’n jong bul afgesonder in ’n kamp om hom te beskerm teen die moontlikheid dat hy beseer kon word deur ander diere. Els het bygevoeg dat hulle gewoonlik nie die buffel bulle laat aanteel voor ouderdom 10 jaar nie, en die besondere dier is nou nege jaar oud maar is wel toegelaat om tussen die koeie te kom.

3)Onderstepoort se afdeling vir Biologiese Produkte se belofte om op die webblad aan te dui hoeveel entstof beskikbaar is van elke soort, het produsente in die veeboerdery warm onder die kraag. Hulle voel dat Onderstepoort ’n verantwoordelikheid het om voorsiening te maak dat voldoende voorraad entstowwe beskikbaar is vir die landbou bedryf.

Na verneem woord is daar ernstige tekorte aan belangrike entstof soorte, en dit veroorsaak dat boere ernstige finansiële verliese ly. Die rooivleis produsente is ongelukkig oor die tekorte aan entstof soorte soos vir stywesiekte, knopvel siekte en brucellose. Boere is ook onseker oor die beskikbaarheid van ander entstof soorte soos vir knopvelsiekte, bloutong, Slenkdalkoors, miltsiekte, en rooiwater.

Die landbouers sê dit is belangrik dat hulle vee so spoedig moontlik geënt word voor die reënseisoen in volle swang is. Onbevestigde berigte lui dat die Forum van Rooivleisbedryf die moontlikheid oorweeg om regstappe teen Onderstepoort Biologiese Produkte te neem as die beskikbaarheid van voldoende voorraad nie spoedig reggestel word nie.

4)President Jacob Zuma sê die regering het besluit om die Wet op die Raamwerk vir die Voorkeur Verkrygingbeleid te herroep. Dié wet bepaal dat wanneer die regering tenders aanvra, hy eers maatskappye met ‘n bewese rekord moet oorweeg, wat die meeste swart maatskappye volgens president Zuma nog nie het nie. President Zuma het op ‘n dinee van die raad vir swart sakelui in Johannesburg gesê die meeste maatskappye onder swart bestuur sal binnekort baat vind by die doelwitte van die regering se breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging, bekend as BBSEB. Hy sê dinge sal egter binnekort verander

5)Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba sê indien die regering nie `n einde bring aan die plundery van staatsbronne nie, sal hy nie genoeg geld hê om maatskaplike toelaes aan die 16 miljoen Suid-Afrikaners te betaal wat daarvan afhanklik is nie. Makgoba het die waarskuwing by die opening van die provinsiale sinode van die Anglikaanse Kerk in Benoni gerig. Makgoba het ook groepe in die ANC daarvan beskuldig dat hulle beskikbare hulpbronne na `n groep individue met politieke kontakte verskuif. Hy sê kerkleiers is van mening dat Suid-Afrika koers verloor.

6)Studente van die Universiteit van die Vrystaat sê die voorgestelde verhoging van tot agt persent in klasgeld vir 2017 is onregverdig, veral vir arm studente. Die studente by die universiteit is besig met protesaksies sedert die FeesMustFall-veldtog begin het. Die studente het gister toetse ontwrig en eis dat geen verhogings ingestel word nie. Volgens hulle sal `n verhoging van agt persent beteken dat hul registrasiegeld 14-duisend rand beloop. Studente het gisteraand ‘n nagwaak op kampus gehou en daarna lesingslokale beset.

7)Werkers van die vakbond FAWU is bekommerd dat die toenemende invoer van hoenderprodukte besig is om werksgeleenthede in die pluimveebedryf te verminder. Dit volg op berigte dat die pluimveemaatskappy Rainbow Chicken in KwaZulu-Natal beplan om van bykans 300 werkers ontslae te raak, omdat hy sukkel om met goedkoper invoere mee te ding. Die nasionale sekretaris van FAWU, Katish Masemola, het `n beroep op die regering gedoen om die invoer van hoenderprodukte te beperk. Volgens hom kan plaaslike maatskappye nie met die prys van ingevoerde hoender meeding nie en daarom neem werksgeleenthede af.

8)Die voormalige Israelse leier en Nobelpryswenner Shimon Peres is vroeg vanoggend oorlede. Die 93-jarige Peres se dokter, Rafi Walden, wat ook sy skoonseun is, het sy dood bevestig. Die Pools-gebore voormalige Israelse eerste minister en president is sowat twee weke gelede in ‘n hospitaal opgeneem ná ‘n ernstige beroerte en was aan ‘n asemhalingstoestel gekoppel. Peres het in die 1990’s ‘n sleutelrol gespeel in vredesonderhandelings in die Midde-Ooste en was in 1993 een van die argitekte van die Oslo-akkoord. Hy was van 1984 tot 1986 en weer in 1995 en 1996 eerste minister en van 2007 tot 2014 president van Israel. Hy het in 1994 die Nobelprys vir Vrede saam met sy destydse eerste minister, Yitzhak Rabin, en die Palestynse leier, Jassir Arafat, ontvang vir hul vredespogings in die Midde-Ooste.

9)Minstens een persoon is dood en meer as 500 beseer toe die tifoon Megi vanoggend die ooste van Sjina getref het, enkele ure nadat dit in Taiwan verwoesting gesaai het. Onder die beseerdes is ‘n groep toeriste wie se toerbus deur die stormwind omgewaai is. In Taiwan is vier mense dood en tientalle beseer toe die storm met winde van tot eenhonderd-en-sestig kilometer per uur die eiland getref het. Nagenoeg vyfduisend Taiwannese word nog in skuillings gehuisves nadat sowat 15-duisend mense na veiligheid geneem moes word. Owerhede in Sjina se Foedjan-provinsie het opdrag gegee dat mense wat naby die kusgebied woon of werk, na veiligheid geneem moet word. Bykans viermiljoen huishoudings is sonder krag weens die storms.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Geeeltelik Bewolk –  met ‘n min 27 max van 34

Nelspruit –  Gedeeltelik Bewolk Met Donderweer – met ‘n  min van 16 en ‘n max van 30

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 11 en max van 30

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 9 en max van 28

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 7 en max van 27

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 5 ‘n max van 20

Durban – Bewolk Met Matige Reen – met ‘n min van 16 en max van 21

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 9 en max van 31

Oos Londen –Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 19

Kaapstad –Gedeeltelik Bewolk Met Ligte Reen  –met  min van 7 en max van 17

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 10 en max van 21

PE- Mooi Weer – met ‘n min 14 en max van 19

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment