Woensdagmiddag 28 Spetember

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir Woensdagmiddag, 28 September 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Verkeer in die Johannesburgse middestad kan ontwrig word deur minstens twee optogte vandag. Lede van die “Right to Know”-veldtog het met ‘n optog in Braamfontein begin om twee maatskappye – FNB en SAB Miller – te vra om hulle radio- en televisie-advertensies by die SABC te onttrek. Die optrede volg nadat die voormalige bedryfshoof van die SABC, Hlaudi Motsoeneng, as die groephoof van Korporatiewe Sake by die korporasie aangestel is. Hy het onlangs sy hofstryd verloor om as bedryfshoof aan te bly. In nog ‘n optog gaan studente van die Wits Universiteit vanmiddag ‘n memorandum met griewe aan die Kamer van Mynwese oorhandig. Vakbondlede sal na verwagting die optog oor gratis onderrig meemaak.

2)’n Groep betogende studente van die Universiteit van Johannesburg probeer toegang kry tot die universiteit se Buntingweg-kampus in Aucklandpark. Die studente sê die betoging hou verband met die landwye protesoptrede teen ‘n styging in klasgelde. Hulle eis toegang tot die kampus sodat hulle binne kan betoog. Veiligheidswagte verhoed egter dat hulle by die kampus ingaan. Polisiebeamptes in voertuie monitor die situasie.

3)Tientalle inwoners van Westville in Durban het na Eskom se kantore opgeruk. Hulle eis dat die regering eerder onderwys as kernkrag moet befonds. Die optoggangers doen ook ‘n beroep dat pensioenarisse afslag moet kry op hul elektrisiteitsrekeninge. Die betogers is meestal vroue en pensioenarisse. Hulle het ‘n griefskrif aan Eskom oorhandig. Die polisie het vroeër Menston-weg weens die betoging afgesper.

4)Stakende werkers van die Tafelberg Kabelspoormaatskappy het die hoofingang na die kabelspoor in Kaapstad probeer versper om besoekers te keer. Dit volg nadat sowat 100 werkers wat SACCAWU-vakbondlede is met ‘n onbepaalde staking begin het nadat salarisonderhandelings misluk het. Hulle eis ‘n salarisverhoging van 15-persent, terwyl die aanbod deur die werkgewer nege-persent is. Die polisie is op die toneel.

 

5)Elf studente van die Universiteit van Limpopo is beseer toe veiligheidswagte van die universiteit met rubberkoeëls op hulle losgebrand toe hulle met die wagte slaags geraak het. Ses studente is in hegtenis geneem in verband met openbare geweld op die kampus van die universiteit, maar drie van hulle is intussen weer laat gaan. Die voorval het plaasgevind tydens betogings op die kampus as deel van die landwye Fees Must Fall-veldtog. Akademiese aktiwiteite by die universiteit is steeds opgeskort nadat studente wat wel klas wou bywoon, vanoggend deur betogende studente aangeval is. ‘n Woordvoerder vir Limpopo se departement van gesondheid, Derrick Kganyago, sê die studente wat beseer is, is in die Mankweng-hospitaal by die universiteit behandel vir kneusplekke weens die rubberkoeëls , maar is weer ontslaan.

6)Twee-en-twintig studente van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein sal vandag in die hof verskyn op aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging en onwettige byeenkomste. Die studente is gister in hegtenis geneem tydens protesoptrede oor gratis onderrig. Die universiteit het sy akademiese bedrywighede tot 10 Oktober opgeskort.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet


 

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment